Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 122 – Bid vir die vrede van Jerusalem

2 Julie

Psalm 122 – Bid vir die vrede van Jerusalem

1‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here.” 2Ons voete staan in jou poorte, Jerusalem – 3Jerusalem, gebou as ‘n stad wat as ‘n eenheid saamgebind is, 4waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here, soos aan Israel voorgeskryf is, om die Naam van die Here te prys. 5Want daar staan trone vir regspraak, die trone van die huis van Dawid. 6Bid vir die vrede van Jerusalem: “Mag dié wat jou liefhet, rustig leef; 7mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings.” 8Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!” 9Ter wille van die huis van die Here ons God wil ek die goeie vir jou nastreef.

Hierdie Psalm reflekteer die vreugde van die aankoms van die pelgrims in Jerusalem. Die Psalmis was alreeds bly toe hulle weggetrek het na die huis van die Here, maar nou is sy voete in die poorte van Jerusalem, dié stad wat gebou is in die eerste plek as ‘n stad wat die volk as ‘n eenheid saamsnoer en waar die Here volgens sy eie voorskrifte geloof kan word. Nie net is dit in die tweede plek die stad waar die lofsange vir God weerklink nie, maar dit is ook in die derde plek die stad waar regspraak gelewer word onder die bekwame leiding van die koning Dawid. Dit is daarom ook die drievoudige seën van Jerusalem: dit skep eenheid onder die volk in hulle diversiteit, dit bring lof aan God vanuit die geloofsgemeenskap, en dit bring vrede deur die regspraak wat billik en volgens God se voorskrifte geskied.

Omdat Jerusalem, die sentrum van die geloofsgemeenskap se aanbidding, só belangrik was, nooi die Psalmis sy medepelgrims uit om in die eerste plek te bid vir vrede vir Jerusalem, die plek self, sodat dié wat in hulle liefde vir die plek verenig is, rustig kan woon, en sy verdedigingswalle kan hou teen alle aanvalle en daar rustigheid in die vestings van die volk kan wees. In die tweede plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van gelowiges (familie en vriende) in Jerusalem sodat hulle vrede kan geniet. In die derde plek nooi hy sy medepelgrims uit om te bid ter wille van die tempel, die plek van God se teenwoordigheid, in Jerusalem sodat dit altyd met hulle goed sal gaan. Dit is daarom ook die drievoudige gebed vir Jerusalem: die stad self het vrede nodig, die gelowiges het vrede nodig, en die tempel het vrede nodig, sodat die drievoudige seën, die eenheid onder die volk, die lof aan God en die vrede deur regspraak tot hulle reg kan kom.

Ons onderskat soms die effek wat vrede kan hê op eenheid, lof en regspraak. Dit is daarom een van die mees basiese dinge waarvoor ons kan bid. Soos Paulus in die NT vir Timoteus oproep om sy mense te leer: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” (1 Tim 2:1-2). Ons bid vandag nie meer vir die aardse Jerusalem alleen nie, maar vir die vrede van die hemelse Jerusalem, dit is die liggaam van die Here Jesus, die kerk, sy bruid, die gemeenskap van gelowiges deur die eeue.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-122-mag-daar-vrede-in-jou-wees-jerusalem/

Spreuke 3:1-6 – Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak

1 Julie

Spreuke 3:1-6 – Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak

1My seun, my onderrig moet jy nie vergeet nie, en my gebooie – jou hart moet daarby hou; 2want die lengte van jou leeftyd, die lewensjare en vrede sal dan vir jou vermeerder word. 3Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart, 4dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense. 5Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. 6Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

Spreuke maak geweldig baie van die idee dat daar ’n “regte pad” is om op te loop, en ’n verkeerde een. Alles moet in die stryd gewerp word om dié regte pad te vind. Niks moet jou daarvan weerhou nie. En alles moontlik moet gedoen word om die verkeerde pad te vermy. In hoofstuk 3 gee die pa nou praktiese raad oor hoe om God te vertrou en in alles te ken. Hy gee ook ‘n paar praktiese voorbeelde van hoe dit lyk om die “regte pad” te volg (Spr 3:13-35).

Die twee grondbeginsels om hierdie belofte van God in ontvangs te neem, is vertroue en verantwoordelikheid. Let op hoe hierdie vertroue en verantwoordelikheid uitgespel word met twee kernwoorde: onthou (“my onderrig moet jy nie vergeet nie”) en vashou (“jou hart moet daarby hou”). Dit is waarin die geheim van jou hele geestelike lewe opgesluit lê. Aan die een kant moet die verlossing, versorging en bevestiging van die Here in die verlede telkens in herinnering geroep word. Moet dit nie vergeet nie, sê die pa vir sy kind. Aan die ander kant moet vasgehou word aan die wyse riglyne wat God uitspel vir die tipe lewenstyl wat nie net Sy goedkeuring wegdra nie, maar die toets van die tyd deurstaan het.

Let op na die drie aspekte van die wyse lewenstyl en die voordeel wat dit bring wat hier uitgespel word (daar is nog drie in vers 7-12). Elke aspek word in 2 verse elk uitgespel telkens met ‘n voordeel daaraan gekoppel.

  • Spreuke 3:1-2 – Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie → dit lei tot ’n lang en vol lewe.
  • Spreuke 3:3-4 – Moenie dat liefde en trou ontbreek nie (“skryf dit op die tafel van jou hart”) → dit laat jou guns verwerf en byval vind (“goeie begrip”) by God en mens.
  • Spreuke 3:5-6 – Vertrou volkome (“met jou hele hart”) op die Here en ken Hom in alles wat jy doen → dit laat die belofte dat God jou die regte pad laat loop, in vervulling gaan.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-31-35-vertrou-god-en-ken-hom-in-alles/

Johannes 15:9-17 – Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel

30 Junie

Johannes 15:9-17 – Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel

9“Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. 10As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. 11Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. 13Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”

Die geheim van vrug dra, lê in hulle innige verbondenheid met Jesus. Soos die Vader Jesus liefgehad het, het Jesus hulle ook liefgehad. Daarom moet hulle in sy liefde bly.  Want dit is slegs in gemeenskap met Hom wat hulle daardie liefde kan ervaar. Die wyse waarop hulle in die liefde bly, word dan prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (entolas – sy gesagvolle bevele). Dit is presies die wyse waarop Jesus in sy Vader se liefde gebly het. Hy het die opdragte van sy Vader gehoorsaam. Want die pad na ware vreugde lê in gehoorsaamheid, selfs al vra die gehoorsaamheid alles van jou. Dit is juis in die gehoorsaamheid wat ons blydskap volledig raak.

Jesus lig dan een van die opdragte uit, die opdrag dat hulle mekaar moet liefhê soos Jesus hulle liefgehad het. Dit is ‘n dieper liefde as die liefde soos hulleself (Lev 19:18). Daar is geen groter liefde as dat iemand sy lewe vir sy vriende gee nie. Dit is dié tipe offervaardige liefde vir gelowiges wat Jesus van hulle, selfs al kos dit hulle hul dood, soos dit inderdaad van Hom ook gevra is (vgl 1 Joh 3:16). Soos Hy sy lewe vir hulle afgelê het, vra Hy dit ook van hulle. En waar hulle dit regkry, raak hulle sy vriende. Gehoorsaamheid maak hulle meer as diensknegte. Hulle raak vriende van God, soos Abraham dit lank gelede al ervaar het (Jak 2:23). Die verhaal van Abraham in Genesis 17-19 is ‘n baie praktiese voorbeeld van wat Jesus hier bedoel. In Genesis 17 beveel God vir Abraham om naby Hom te leef. Toe Abraham in geloof daarop reageer, reken God dit hom toe as geregtigheid. In Genesis 18 besoek God vir Abraham soos wat vriende dit sou doen en trek hom in sy planne vir die wêreld in soos ons uiteindelik in Genesis 19 lees. Dit is wat God met ons doen as ons in sy liefde bly, as ons aan Hom gehoorsaam is. Hy maak sy wil aan ons bekend. Dit is die hele punt van Jesus se verkiesing van hierdie manne as sy dissipels. Hy het hulle uitgekies en aangestel om vrug te gaan dra – soos ‘n Abraham van ouds – sodat wat hulle ook al die Vader in sy Naam vra, Hy dit vir hulle sal gee. Onthou hoe Abraham gebid het vir die regverdiges in Sodom en Gomorra! Jesus beklemtoon dat weer dat hulle mekaar moet liefhê, want dit is die uitstaande kenmerk nie net van vriendskap nie, maar van God self.

Dit is ‘n merkwaardige boodskap hierdie. Die geheim van ‘n vrugbare lewe lê in die innige verhouding met Jesus opgesluit. Want, waar ‘n mens sy liefde ervaar, daar word jou eie liefde vir jou medegelowiges versterk, en word gehoorsaamheid aan elke enkele opdrag van die Here die enigste ware vreugde van jou lewe. En trek God jou in by sy planne in hierdie wêreld. Raak gebed ‘n ware avontuur van vrugbare bediening. Dit is vir my ’n verstommende troos as ek aan my eie broosheid en gebrokenheid dink. In die gemeenskap met Jesus sal Hy my ook volmaak maak, volmaak in die uitvoer van sy opdragte, volmaak in die liefde. Raak jy vriende met God. Hy sal dit ook vir jou doen.

Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-151-26-om-jesus-te-aanvaar-en-sy-pad-vir-jou-te-omhels-is-die-lewe/

Luk 10:1-20 – Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My

29 Junie

Luk 10:1-20 – Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My

1Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. 4“Moenie ‘n beursie of ‘n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. 5Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’ 6As daar ‘n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. 7Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie. 8As julle in ‘n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. 9Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die koninkryk van God op hande.’ 10Maar as julle in ‘n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, 11‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ 12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.” 13“Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, “Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! 16“Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” 17Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is.”

Jesus stel uit al sy volgelinge 72 dissipels aan – bykomend tot die Twaalf – en stuur hulle twee-twee na elke dorpie wat Hy op sy kronkelpad na Jerusalem toe wou aandoen. Jesus se eerste opdrag aan hulle is om te bid dat die Here van die oes arbeiders – soos hulle – sal uitstuur vir die oes, want die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Hierdie sending van die dissipels gaan dus nie oor uitreik na mense in ‘n ruimte waar jy beheer het en waar jy die gang van sake kan bepaal nie. Jesus stuur hulle na ander Jode se huise toe, waar hulle afhanklik sal wees van ander se gasvryheid. Om by mense aan te kom wat hulle nie ken nie. Dit is waarom Jesus sê dat Hy hulle stuur “soos lammers tussen wolwe.” Daar is ‘n groot risiko verbonde aan die uitreik met die evangelie na ander onbekende mense, omdat hulle die boodskap en daarom baie keer die boodskapper ook kan verwerp. Jesus se eis is regtig radikaal, want hulle moet geen voorsiening vir die sending maak nie – nie ‘n beursie nie, nie (ekstra) sandale nie. Hulle mag nie eers sosiaal verkeer op pad nie, soos Jesus ook met die sending van die Twaalf beveel het (Luk 9:3). Hulle moet gefokus soek na huise wat hulle wil ontvang en daar die vrede van die Here afbid op die huis. Hulle sou uit die respons van die huismense agterkom of die vrede welkom is of nie. Die huis in watter stad ook al wat hulle gasvry ontvang, moet hulle as basis gebruik en eet en drink wat hulle aangebied word, sonder om te kyk of hulle beter akkommodasie kan kry. Want, sê Jesus, die arbeider is sy loon werd. (Interessant genoeg haal Paulus hierdie frase aan in 1 Tim 5:18 as “Skrif” wat wys dat die evangelie van Lukas – want hy is al een wat hierdie aanhaling van Jesus gebruik, en dit kom nie in die OT voor nie – vir Paulus al gesag gedra het gelykwaardig aan die OT. Dit dui ook moontlik op ‘n vroeër datum vir die afhandeling van die evangelie van Lukas.)

Jesus wys dan hoe die teëstanders se reaksie in genadetyd aan die einde deur God self begroet sal word. Dit is deel van Jesus se belofte: “Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My.” Dit sal vir die mense van Sodom wat deur vuur vir hulle losbandigheid en afvalligheid gestraf is, meer draaglik wees in die finale oordeel as vir die mense van die stad wat Jesus verwerp in die gedaante van sy volgelinge. Dan spreek Jesus ‘n oordeel uit – ‘n wee (vgl Openbaring se goue bakke waarvan drie van hulle as ‘n “wee” beskryf word – oor Gorasin (naby Kapernaum) en Betsaida (dorpie van Andreas en Petrus wat ook naby Kapernaum was). Dit sal vir Tirus en Sidon draagliker wees as vir hulle in die oordeel wat kom. Want, as in die Fenisiese stede Tirus en Sidon dieselfde wonderwerke sou plaasgevind het as in Gorasin en Betsaida, sou hulle lankal tot inkeer gekom het en soos die stad Nineve in sak en as gesit het soos in die dae van Jona. Dieselfde geld Kapernaum. In ‘n toespeling op die oordeel wat Jesaja oor die koning van Babilonië, Nebukadnesar, uitgespreek het (Jes 14:13-15), word ‘n oordeel oor Kapernaum uitgespreek, omdat hulle tot die hemel verhoog is deur die Seun van God wat hulle stad sy basis gemaak het, maar weens hulle onbekeerlikheid uiteindelik in die doderyk (Hades) sal beland. Jesus spel hiermee baie duidelik uit dat die aanvaarding of verwerping van sy boodskap – ook deur sy boodskappers – ewige gevolge vir almal het. Hy help ons ook om te verstaan dat die oordeel van God werklik is, op pad is, en dat die kanse om tot inkeer te kom in genadetyd nie verspeel moet word nie.

Die 72 dissipels kom ná ‘n tyd almal saam terug vir terug rapport. Hulle deel hulle blydskap met die Here dat selfs die demone hulle gehoorsaam het in sy Naam. Wat begin het aanvanklik met ’n alleen-pad wat Hy geloop het in sy bediening, opgevolg is deur die sending van die kern-groep van 12 apostels, is nou ook suksesvol met die uitstuur van die 72.  God se plan vir sy koninkryk, soos dit begin ontvou, werk inderdaad. Jesus lewer daarop kommentaar dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het. Dit kan na die Satan se aanvanklike val uit sy voorkeur posisie verwys, wat Jesaja as metafoor gebruik om die val van die koning van Babel te beskryf (Jes 14:12). Satan kon immers in die tyd van die OT nog in die hemel voor God verskyn (Job 1-2), maar hy was reeds die verleier en teenstander van God (Gen 3). Óf dit kan na die Satan se verdere val uit die hemel verwys wat Jesus hier as verklaring van die uitdrywing van die demone deur die bediening van die dissipels gebruik. Beide interpretasies maak sin. Laasgenoemde maak moontlik meer sin weens die wyse waarop die Openbaring van Johannes die val van Satan aan die geestelike oorlog in die hemel wyt wat tegelykertyd met Jesus se hele aardse bediening plaasgevind het (Openb 12:9).

Jesus brei daarop uit en wys op die gesag wat Hy hulle gee oor al die mag van die vyand, die slang, wat insluit dat hulle op slange en skerpioene sal kan trap sonder dat dit of enige ander manifestasie daarvan hulle sal kan seermaak nie (vgl Ps 91:13; Mark 16:18). Dit kan metafories bedoel wees – veral in die lig van vers 20 wat praat van die gesag oor die geeste. Maar, dit het ook later letterlik gebeur met Paulus toe ‘n slang se byt hom niks aangedoen het nie (Hand 28:3-5). ‘n Mens kan ‘n letterlike betekenis nie uitsluit hier nie. ‘n Mens hoor hierin ook ‘n verskuilde verwysing na die belofte dat die saad van Adam en Eva die slang se kop sal vermorsel (Gen 3:15). Metafories of letterlik, dit is in elk geval ‘n aanduiding van die geestelike oorwinning wat deur die bediening van Jesus behaal is. Maar, sê Jesus, dié gesag oor die geeste moet hulle nie in hoogmoed laat val nie – die sonde wat die Satan se val veroorsaak het. Hulle moet eerder bly wees dat hulle name in die hemele geskryf is, dié plek waaruit die Satan geval het. Dit is waarskynlik ‘n verwysing na die Boek van die Lewe (Hebr 12:23).

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/lukas-101-16-hy-het-hulle-twee-twee-voor-hom-uitgestuur-na-elke-dorp-en-plek-wat-hy-nog-wou-besoek/

Galasiërs 6:1-18 – Dié wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes

28 Junie

Galasiërs 6:1-18 – Dié wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes

1Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. 2Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. 3As iemand werklik meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4Elkeen moet sy eie dade beoordeel. Dan sal hy trots kan wees slegs wat homself betref, en nie wat ‘n ander persoon betref nie; 5want elkeen moet sy eie las dra. 6Wie onderrig in die Woord ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit. 7Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. 11Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif! 12Mense wat deur die uiterlike ‘n indruk wil maak – dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van Christus vervolg sal word nie. 13Want diegene wat hulle laat besny, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word, sodat hulle hulle op julle liggame kan beroem. 14Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek my op iets beroem nie, behalwe op die kruis van ons Here Jesus Christus, waardeur die wêreld vir my gekruisig is, en ek vir die wêreld. 15Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel ‘n nuwe skepping. 16Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming – en vir die Israel van God! 17Ten slotte: Laat niemand my verder moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam. 18Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle gees, broers! Amen.

Paulus praat hier nie van die laste van die lewe, dié dinge wat verkeerd gaan, die uitdagings van siekte, of finansiële nood, of watter ander krisis mense ook al tref nie. Hy praat hier van dié gevalle waar van ons geloofsgenote deur een of ander sonde oorval word, hetsy persoonlik in onsedelikheid, onreinheid of losbandigheid of in die gemeenskap deur vyandskap, tweespalt of selfsug (vgl voorbeelde in die vorige hoofstuk). En sy opdrag aan ons is om met groot versigtigheid in liefde en sagmoedigheid – as deel van die vrug van die Gees – betrokke te raak en só iemand reg te help, terwyl jy versigtig is dat jy nie self in sonde val, deur bv by die vyandskap betrokke te raak of self in losbandigheid te verval nie. Dit is dié tipe liefde vir mekaar waarvan hy praat as hy sê dat as ons só mekaar se laste help dra. Dan is ons besig om die wet van Christus, die wet van die liefde uit te voer. “Caring enough to Confront”, soos iemand een keer vir my gesê het.

Onthou dat ons almal blootgestel is aan die stryd tussen die Gees en die vlees; dat die sonde ook vir jou loer om jou in sy mag te kry, soos die Here vir Kain al gewaarsku het in Genesis 4. Jy moet self sorg dat jy in die Gees wandel, en in gelid met die geloofsgemeenskap volgens die waardes van die Gees, terwyl jy uitreik na dié wat dit moeilik vind in die stryd teen die sonde. Daarom, sê Paulus, is dit so belangrik om op die akker van die Gees te saai, en nie op die akker van die vlees nie, hetsy op die akker van die sondes waaroor hy in Galasiërs 5 geskryf het nie, óf op die akker van die gehoorsaamheid aan die wet waaroor hy in die eerste deel van die brief geskryf het.

Dit is só belangrik dat ons onsself nie mislei nie. God laat nie met Hom spot nie. Wat jy saai, sal jy ook maai. Dit is aan die een kant ‘n waarskuwing: as jy saai op die akker van die sondige vlees, sal jy die dood en die verderf oes. Dit is aan die ander kant ook ‘n belofte: as jy saai op die akker van die Heilige Gees sal jy die ewige lewe oes. Daarom, sê Paulus, moenie moeg word om goed te doen nie. Moenie verslap nie. Moenie terugdeins nie. Dra mekaar se laste. Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid. Doen goed aan almal, veral aan die medegelowiges. Dit is die vryheid waartoe ons geroep word, om mekaar te dien en mekaar reg te help, uit liefde. Dit is waarvoor Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Hy het gesterf sodat ons God se guns kan verwerf. Hy het ons sondeskuld gedra sodat ons vry kan raak van die strik van die wet en die sonde. Hy het die prys vir ons betaal sodat ons die ewige lewe kan beërwe.

Lees meer (preek): https://bybelskool.com/galasiers-6-ons-dra-mekaar-se-laste-soli-deo-gloria/

Onlangse kommentaar