2 Konings 5:1-14 – God doen wonders deur gewone goed
2 Konings 5:1-14 – God doen wonders deur gewone goed
1Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was ‘n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die Here aan Aram ‘n oorwinning gegee. Maar die man, ‘n dapper kryger, het ‘n velsiekte gehad. 2Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en ‘n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. 3Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.” 4Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” 5Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om ‘n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. 6Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.” 7Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man ‘n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy ‘n rede teen my soek.” 8Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar ‘n profeet in Israel is.” 9Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. 10 Elisa het ‘n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” 11Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. 12Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan. 13Maar sy dienaars het nadergegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit ‘n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” 14Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van ‘n klein seuntjie, en hy was rein.
Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie. Ons weet van haar net ‘n paar goed. Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër. So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf. Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom. Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie. Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie. Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid. Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê! Sy kon stilgebly het. Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê. Die Arameërs het haar leed aangedoen. Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk. Sy het nie meer vryheid gehad nie. Sy moes vir haar nuwe base help in die huis. En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom. Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander. Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel. En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.
En dit leer ons dat God se wonderwerke baie keer, ek wonder of dit nie meesal is nie, deur gewone goed gebeur. Ons leer dat God net so aan die werk is in en deur gewone goed as in en deur die buitengewones. God se buitengewone goed gebeur deur die gewone goed. Dit is wat Naäman geleer het. Hy het eers teëgestribbel teen die idee om in die water van die Jordaan hom te gaan was, want hy het gedink, dit is darem net te eenvoudig. Gelukkig luister hy na die amptenare, net soos hy aanvanklik na die dogtertjie geluister het. En deur die gewone te doen, word hy gesond.
Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed nie. God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur. Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is onderbrekings. Maar die verhaal spoor ons ook aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen. Dit is nie net ter wille van onsself nie, maar ook en juis vir ander. Dink net wat beteken dit vir iemand as jy geduldig is of ‘n klip uit iemand se pad rol. Ons wil baie keer die groot goed doen, ‘n boek skryf wat 10 miljoen kopieë verkoop en baie mense se lewens verander. Of ons raak baie keer juis moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak. Ons moet deur hierdie verhaal leer dat God deur die klein goed wat ons doen werk om groot goed reg te kry. Want, die klein dogtertjie het net vertel wat sy geweet het: Elisa die profeet in Samaria kan wonderlike goed doen. Dit is al wat sy gedoen het. Ons weet nie eers haar naam nie. Maar daardeur het sy nie net gesorg dat Naäman van sy melaatsheid genees is nie, maar sy het hom aan die Here bekendgestel, soveel so dat hy die Here begin aanbid het. Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie. Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen, deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.
Lees meer: https://ngkerksomerstrand.co.za/2-konings-5-erediens-om-met-verwagting-te-lewe-in-n-wereld-waar-god-nog-wonders-doen-son-22-augustus-2010
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar