Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 2 – Gelukkig is dié wat op God vertrou

27 Junie

Die RCL skryf vir hierdie week weer Psalm 30 voor. Ons het dit egter al voorheen behandel. Jy kan dit hier lees. Ons hanteer daarom vandag Psalm 2, een van die Messiaanse Psalms.

Psalm 2 – Gelukkig is dié wat op God vertrou

1Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies nuttelose planne? 2Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy Gesalfde: 3“Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” 4Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. 5Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle: 6“Ek self het my Koning gesalf op Sion, my heilige berg.” 7Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die Here het vir my gesê: “Jy is my Seun, vandag het Ek Jou verwek. 8Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. 9Jy sal hulle verpletter met ‘n ystersepter, soos erdewerk sal Jy hulle stukkend slaan.” 10Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. 11Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing! 12Soen die Seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.

Psalm 1 en 2 is regtig die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is. Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is. Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers. Psalm 1 is dus die fondament vir jou persoonlike lewe met God. Psalm 2 is weer die fondament vir jou publieke lewe met God. Die twee Psalms gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan. Hy sal sy beloftes in vervulling laat gaan vir dié wat Hom vertrou.

Interessant genoeg begin Psalm 1 met ’n saligspreking (Ps 1:1): Gelukkig is die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind … en eindig Psalm 2 met ’n soortgelyke saligspreking (Ps 2:12): Gelukkig is dié wat by Hom skuiling vind (of letterlik: wat op Hom vertrou). Dit het sommige verklaarders laat dink dat die twee Psalms eintlik oorspronklik een Psalm was (Petrus noem Psalm 2 eintlik Psalm 1 volgens sekere tekstradisies – Hand 4:25-26). Hoe dit ook al sy – die twee Psalms maak dus as ’n geheel die punt: Gelukkig is dié wat hulle vreugde in God vind, en op Hom vertrou.

Die Psalm (Petrus verbind dit aan Dawid – Hand 4:25-26) is uit vier dele opgebou:

  1. Die Psalmis beskryf sy verbasing oor die onrus en wispelturigheid van die publieke en politieke lewe en ontbloot die dryfveer daaragter as ’n rebellie teen die Here en sy gesalfde, in hierdie konteks, die koning van Israel (Ps 2:1-3). Waar daar ’n rokie is, brand altyd ’n vuurtjie.
  2. Die Psalmis weet egter dat God nie uitgelewer is aan die nukke en grille van sy teëstanders nie, Hy woon immers in die hemel (NIV: “The One enthroned in heaven laughs”). Maar, vanuit die hemel, bewys Hy sy mag deur sy koning op die berg van God, Sion, te bevestig (Ps 2:4-6). Dié opstand is dus doodgebore.
  3. Die koning en gesalfde – vanuit die NT kan ‘n mens dit ook op die Messias, dws Jesus van toepassing maak – kom dan aan die woord om God se belofte aan hom bekend te maak, dat hy/Hy God se seun is, en die hele aarde onder sy heerskappy sal wees (Ps 2:7-9 – vgl 2 Sam 7:14 waar Dawid God se Seun genoem word, en Ps 89:27 waar dit geëggo word, maar dan ook verskeie NT verwysings: Mrk 1:14-15; 15:39; Luk 1:35; 3:38; 4:3; 9:20; Matt 16:16; Joh 1:49; 11:27; Hand 13:33; Hebr 1:5, 6; 5:5; Openb 12:5; 19:15). God tree beslissend op.
  4. Die Psalmis waarsku daarmee die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien en so sy toorn te vermy. En sluit af met die uitspraak: “Gelukkig is almal wat by Hom skuil,” wat veral vir die dienaars van die Here ’n bemoediging is. God kan vertrou word. Terloops, vers 12 se eerste frase: “soen die Seun” verwys na die gebruik om óf jou onderdanigheid (as jy iemand se voete gesoen het) óf jou vriendskap (as jy iemand se wange gesoen het) te betoon soos ‘n mens meermale in die Bybel teëkom (vgl 2 Sam 14:14; 15:5 – hoewel Absalom dit daar met slegte bedoelings gedoen het, soos ook Judas dit met Jesus gedoen het – Luk 2:48).

Ons het dus nodig om Psalm 1 te bid rondom ons eie verbintenis aan God. Maar ons het ook nodig om Psalm 2 met hernude oorgawe te bid ter wille van ‘n wêreld se verbintenis aan God, en om ons self te herinner daaraan dat ons God mag vertrou, al smee die nasies planne en al is daar onrus onder die volke. Sy beloftes gaan in vervulling vir dié wat Hom daarvoor vertrou.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-2-geseend-is-die-wat-op-god-vertrou/

2 Konings 2:1-2, 6-14 – Die Here is in beheer

26 Junie

2 Konings 2:1-2, 6-14 – Die Here is in beheer

1Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, 2toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El.” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El… 6Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan. 7Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op ‘n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief ‘n dubbele deel van u gees na my kom.” 10Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” 11Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik ‘n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur. 13Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. 14Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan.

Daar is min profete wat die verbeelding meer aangegryp het as Elia. Hy was ‘n profeet soos Moses. Nie so sagmoedig soos Moses nie, maar met dieselfde gesag. Die Here het wonderlike dinge deur Elia gedoen (1 Kon 17). Die hoogtepunt van sy bediening het gekom op die berg Karmel toe die Here Elia gebruik het om die volk uit te daag om te kies wie hulle wil dien, die Here of Baäl. God het met vuur op die altaar en die verbreking van die droogte net daarna geantwoord en Elia se woorde en bediening onomwonde bevestig (1 Kon 18). Toe Elia net daarna ‘n laagtepunt beleef het, het die Here hom versterk op die berg Horeb met ‘n besondere verskyning in die sagte gesuis van die stilte ná die sterk wind, die aardbewing en die vuur. En ‘n paar opdragte vir hom gegee. Een daarvan was dat die einde vir Elia aangebreek het. Sy profetiese mantel moes aangegee word na sy opvolger, Elisa (1 Kon 19). Dit is ook dan die eerste ding wat Elia doen in die afhandeling van sy bediening (1 Kon 19:19-21). Soos Moses sy gesag oorgedra het aan Josua, só dra Elia sy gesag oor aan Elisa.

En met Elia se hemelvaart – een van net drie mense met wie dit in lewende lywe gebeur het: Henog, Elia, en Jesus – gaan die profetiese mantel oor op Elisa. In die negende eeu: 850-800 vC. (Twintig jaar later sou Jona op die toneel verskyn, en dan in die res van die 8ste eeu nog vier profete: Amos, Jesaja, Miga en Hosea). Wat ook beteken dat die oorgang op Elisa ook net vir ‘n tyd was en hy uiteindelik ook weer net een persoon was in die lang suksessie van profete wat die Here op hierdie wêreld ingespan het. En dit is wonderlik om te sien hoe die Here eenvoudig voortgaan om deur Elisa te werk, net soos Hy vroeër deur Elia gewerk het. Wanneer Elisa met Elia se hemelvaart in 2 Konings 2 vra dat hy ‘n dubbele deel van Elias se gees kry, verwys hy moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17). Daarmee vra hy eintlik net dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie. Want, hulle albei het besef, dit is die Here wat in beheer is, nie die profeet nie. Dit is waarom Elia vir Elisa sê, as jy my sien met die weggaan, sal jy die erfgenaam wees. Want, dit is net die Here wat Elisa se versoek kan waar maak.

Die verhaal sê dus vir ons op ‘n onomwonde manier dat dit God is wat in beheer is en wonderlike dinge deur ons bediening doen. Die mantel van Elia wat nou oorgaan op Elisa is net ‘n simbool van Elisa se roeping as profeet. En wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom. Elisa se verhaal, en natuurlik ook Elia s’n daarvoor, gee vir ons dus ’n visie op ‘n God wat ’n mens met alles kan vertrou. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop, bv die bylkop wat Elisa vir iemand help vind (2 Kon 6:1-7). Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke. Elisa ontvang die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur! En dit was vir Elisa moontlik, want hy het naby hierdie God geleef, sodat mense later gedink het dat Elisa alomteenwoordig is, en selfs weet wat in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!

Lees meer: https://bybelskool.com/2-konings-2-3-die-here-is-in-beheer/

Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie

25 Junie

Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nie

1‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? 2My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. 3Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. 4Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. 5Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. 6Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. 7Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. 8Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.

Die Psalm verwoord die bewussyn van pelgrims dat hulle nie op hulle eie die gevaarlike tog na Jerusalem kan aanpak, sonder dat die Here as hulle Beskermer optree nie. Trouens, sy beskerming is beskikbaar in elke faset van die lewe. Die Psalmis kyk dus op na die berge en vra amper op ‘n retoriese wyse vanwaar sy hulp sal kom. En antwoord onmiddellik dat dit van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde af sal kom. Dié Psalm bely dus ‘n God wat op omvattende wyse vir sy mense sorg. Hy is paraat in elke omstandigheid wat hulle kan tref. En Hy doen dit: “nou en vir altyd”:

Jy kan dus vandag ingaan met dié versekering van God as Beskermer. Daar is nie ‘n beter belofte as dít nie. Jy kan op Hom staatmaak en van Hom afhanklik lewe. Hy is in staat om vir jou te sorg.

In die NT word dié belydenis uitgebrei dat hierdie beskerming van God nie net met aardse beskerming te make het nie, maar veral met die beskerming vir God se koninkryk. Ons oog is dus nie meer soseer op die aardse Jerusalem gerig nie, maar op die hemelse Jerusalem. Ons kan dié Psalm dus ontvang as ‘n belofte dat die Here ons sal beskerm om in sy hemelse koninkryk aan te kom. Soos Paulus dit ook bely: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-121-god-jou-beskermer-slaap-nie/

Spreuke 2:1-8 – God beskerm die pad van sy getroue volgelinge deur sy gawe van wysheid

24 Junie

Spreuke 2:1-8 – God beskerm die pad van sy getroue volgelinge deur sy gawe van wysheid

1My seun, as jy my woorde aanvaar, my opdragte veilig by jou hou 2deur aandagtig te luister na wysheid, jou hart te rig op verstandigheid, 3ja, as jy om insig roep, hardop roep om verstandigheid, 4 as jy dit nastreef soos silwer, dit soos ‘n verborge skat naspeur, 5dan sal jy insig hê in ontsag vir die Here, en kennis van God sal jy vind. 6Ja, net die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid. 7Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as ‘n skild vir hulle wat onberispelik leef, 8deurdat Hy die paaie van die reg bewaak; die pad van sy getroue volgelinge beskerm Hy.

Daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van wysheid praat. 1) God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou. God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!). 2) God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie. Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk. Dit is met laasgenoemde doelgerigte soektog wat Spreuke hier mee begin. Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek en jy sal dit opspoor. Die pa moedig dus sy seun aan om wysheid met gespitste ore te soek, want dán sal hy agterkom dat God wysheid uitdeel, dat die eerste manier hoe ‘n mens wysheid bekom ook vir hom waar sal word. Die Here sal hom nie teleurstel nie. Wysheid is ’n gawe van God, saam met sukses, beskerming, en regverdigheid. Dan sal hy op die regte pad kan bly.

Vers 7 is ‘n besondere belofte. Vergelyk die volgende vier vertalings: “Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is ’n skild vir die wat regskape wandel.” (1933/53-vertaling) “Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.” (1983-vertaling) “Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as ‘n skild vir hulle wat onberispelik leef.” (2020-vertaling) “He’s a rich mine of Common Sense for those who live well, a personal bodyguard to the candid and sincere.” (The Message) Die prentjie wat ek hier kry, is dat God ‘n groot skuur of pakhuis vol hulp en beskerming gereed het vir dié wat op Hom vertrou. Dit sluit “vindingrykheid” en “common sense” in. Jy kan dit dus van God vra – jou bestelling instuur – en verwag dat God dit uit sy oorvloed sal gee!

Maar, dit gebeur net binne ‘n groeiende verhouding met die Here. Soos Jesus dit later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig met die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8). Die “vra” veronderstel ‘n “verhouding”. Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid met die gawe van die Heilige Gees verbind, die goeie gawe van God (Luk 11:13), net soos wat dit hier in Spreuke 2 gedoen word. En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte! Lees gerus die res van die hoofstuk om verder oor God se belofte van wysheid en beskerming na te dink.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-21-22-soek-wysheid-met-gespitse-ore/

Johannes 15:1-8 – As julle in My bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur

23 Junie

Johannes 15:1-8 – As julle in My bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur

1“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. 2Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 3Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”

Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel. In die OT is Israel baie keer met ’n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9-16; Jes 5:1-7; Jer 2:21; Eseg 19:10-14; Hos 10:1). Waar Israel egter ’n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sy Vader, die boer in die vergelyking, sal groei en gedy. Die klem lê in hierdie gedeelte op wat God die Vader deur Jesus sy Seun regkry in die lewe van gelowiges. Die Vader is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra. Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie. Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het. En dit bly ’n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrug dra word egter skoon gemaak – gesnoei – sodat hulle nog meer vrug kan dra. Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19). Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer. Judas het egter geen vrug gedra nie. ’n Mens hoor net van sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3). Die skoonmaak werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra. Die geheim van vrug dra, is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen. Dit moet – wat ook die leuse van die Bybelskool is – ’n huis word waarin jy woon. Dit moet jou hele lewe bepaal. Jy kan nie uit jou eie vrug dra nie. Jy moet daarvoor in Jesus bly, en Hy in jou, deur sy woorde, en deur sy Gees.

Jesus herhaal die vergelyking. Hy is die wingerdstok en hulle die lote. Diegene wat in Hom bly, en Hy in hom, dra baie vrug. Sonder Hom sal hulle egter niks van waarde kan doen nie. Soos dit ook die geval is met ‘n loot wat afgesny word en verdroog. Hulle is uiteindelik net goed vir die vuur en verbranding. Die wat in Jesus bly, en toelaat dat sy woorde in hulle bly, sal die wonder van gebedsverhoring beleef. Wat hulle ook al wil hê, kan hulle van Hom vra, en dit sal vir hulle gebeur. Die enigste kwalifikasie is dat hulle in Hom bly, en sy woorde in hulle. Sulke gebedsverhoring verheerlik die Vader. Dit is daarom ook die essensie van dissipelskap (vgl Joh 14:13). Dit is ook die doel van die belofte van God se inwoning in ons. Dat ons vrug sal dra. Veral die vrug van die liefde, soos die volgende gedeelte sal uitspel. Die geheim van vrug dra, is om in alles Jesus se woorde na te volg, en om vanuit daardie verhouding Hom te vra om enduit as dissipel, as navolger van alles wat Hy ons geleer het, te kan volhard.

Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-151-26-om-jesus-te-aanvaar-en-sy-pad-vir-jou-te-omhels-is-die-lewe/

Onlangse kommentaar