Skip to main content

Tag: Beloftes

Spreuke 6:20-35 – Deur te hou by die verbod op owerspel sal jy die pad na die lewe vind

22 Julie

Spreuke 6:20-35 – Deur te hou by die verbod op owerspel sal jy die pad na die lewe vind

20My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie. 21Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek. 22Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou. 23Want ‘n gebod is ‘n lamp, en onderrig is ‘n lig. Die pad na die lewe is teregwysing deur vermaning, 24om jou te beskerm teen ‘n slegte vrou, teen die gladde tong van ‘n vreemde vrou. 25Moenie haar skoonheid in jou hart begeer nie, en moenie toelaat dat sy jou vang met haar wimpers nie. 26Ja, die prys vir ‘n prostituut is soveel as die prys van ‘n ronde brood, maar iemand anders se vrou – sy maak jag op ‘n kosbare lewe. 27Kan ‘n man vuur in die vou van sy kleed dra, maar sy klere raak nie aan die brand nie? 28As ‘n man op gloeiende kole loop, sal sy voete dan nie verskroei nie? 29So gaan dit met hom wat by die vrou van sy medemens ingaan. Niemand wat haar aanraak, sal ongestraf bly nie. 30Verag mense nie ‘n dief as hy steel nie, al is dit om sy eetlus te bevredig wanneer hy honger is? 31En word hy uitgevang, moet hy dit sewevoudig vergoed; al die besittings in sy huis moet hy dan oorhandig. 32Hy wat owerspel pleeg met ‘n vrou, is sonder verstand; wie sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets. 33Slae en skande sal hy op die lyf loop, en sy bespotting sal nie uitgewis word nie. 34Want jaloesie wek ‘n man se woede, en hy sal genadeloos wees op die dag van wraak. 35Hy sal nie geneë wees tot enige omkoopgeld nie, ook nie inwillig wanneer die afkoopsom verhoog word nie.

Hierdie gedeelte vorm deel van ‘n derde waarskuwing teen owerspel in die inleiding van die boek Spreuke (Spr 6:20-7:27; vgl die eerste twee in Spr 2:16-19; 5:3-23). Pa en ma werk saam om hulle kind van die erns hiervan te oortuig. Hulle begin met ‘n reeks beloftes wat hom moet oortuig dat hulle verbod op owerspel ‘n lig op die pad na die lewe toe is. Dit is immers wat enige “gebod” en “onderrig” sy krag gee. Die belofte dat dit ‘n pad na die lewe is. Let op die vyf voordele wat hulle uitspel vir hom as hy hom sal hou aan hulle gebod en onderrig: dit sal jou lei; dit sal oor jou die wag hou; dit sal jou besig hou (voorwaar ‘n goeie een!); dit is ‘n lamp en ‘n lig vir jou pad; dit sal jou beskerm.

Maar, dit is net een kant van hulle onderrig. Die beloftes word opgevolg met grafiese waarskuwings. Hoekom? Want owerspel is nie speletjies nie. Dit kan jou jou lewe kos. Die pa spel dan vier moontlike gevolge van owerspel uit wat ten doel het om hom die beloftes van lewe te laat aangryp deur hom aan die gebod van sy pa en die onderrig van sy ma te hou:

  • Spreuke 6:27-29 – Jy kan gestraf word as jy met ‘n ander man se vrou lol – Met treffende beelde word die problematiek van owerspel geskets. Jy sal jou voete verbrand as jy met haar lol. Dit sal wees asof jy op kole probeer loop. Jy sal nie slaag nie. Jy sal jou voete verbrand. Dit kan ook lei tot ‘n straf deur die gemeenskap waarvan hy nie vry sal kom nie.
  • Spreuke 6:30-31 – Owerspel kan jou alles kos wat jy besit – Dit kan jou alles kos wat jy besit, omdat jy metafories as ‘n dief gereken sal word.
  • Spreuke 6:32-33 – Die skande kan jou lewe in die gemeenskap verwoes – Die skande in die gemeenskap kan jou lewe verwoes. Jy sal verwerp word deur almal wat die regte pad wil loop.
  • Spreuke 6:34-35 – Owerspel kan jou jou lewe kos – Die woede van die vrou se man kan jou jou lewe kos.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-620-727-pasop-vir-owerspel/

1 Petrus 1:13-25 – Hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word

21 Julie

1 Petrus 1:13-25 – Hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word

13Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word. 14As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. 15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” 17En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. 18Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, 19maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. 20Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle 21wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. 22Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. 23Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. 24Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; 25maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.

Petrus roep gelowiges op om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand”) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat. Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (Lev 11:44-45; 19:2; 20:7). Hy spel dit nie meer presies hier uit nie – hy sal later in sy brief meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik wat hierby aanhaak – maar stel dit in die algemeen dat hulle dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe.

Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus. Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof. Trouens, die belofte is dat die genade juis tot sy volle openbaring sal kom soos wat hulle al hoe meer groei in hulle begrip van die Here Jesus Christus. Maar die oproep is nie net om persoonlik hulleself aan God te verbind nie, dws hulle hart en lewens volledig oop te maak vir sy openbaring nie. Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word. Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom net volledig tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word. Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word! Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18).

Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik. God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is! Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit. Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!

Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-1-jubel-oor-god-en-leef-uit-die-hoop/

Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervul

20 Julie

Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervul

6Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. 8Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie. 9Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. 11In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. 12Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. 13Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. 15Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het. 16Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. 17Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, 19en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom. 20As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: 21“Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? 22Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. 23Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.

Hierdie gedeelte is die hart van die boodskap van Kolossense. Ons het al kennis geneem dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk – okkultiese en astrologiese beginsels, sowel as Joodse en asketiese reëls. Dit is egter nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie. Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan. Paulus verwys eers terug na die loflied op Jesus as Here – van beide die Skepping en Herskepping (Kol 1:15-20) – en gebruik dit dan as basis vir sy oproep aan hulle om hulle hele lewe te fokus op Christus Jesus. Aangesien hulle Hom as Here aangeneem het (nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan), is dit net logies dat hulle verbonde aan Hom sal lewe: “Bly leef in Hom.”

Paulus gebruik die metafoor van ‘n boom: gewortel en opgebou in Hom, versterk in die geloof, en vervul tot oorlopens toe met dankbaarheid. Dit dui die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte). In alles, waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is, moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (1:15-20). Dit wat God in jou lewe doen, is van onmeetbaar meer waarde as menslike filosofieë, teorieë en tradisies, want In Christus Jesus is ons met die volheid van God self vervul. Soos God se volheid in Christus liggaamlik gewoon het, doen Hy dit ook nou in jou, in dié mate wat Christus bewustelik in jou woon.

Die enigste fokus in die geestelike lewe is op die vereniging met Jesus Christus waarvan die doop die teken is, en wat ‘n nuwe lewe vir ons beteken. Selfs die Joodse voorskrifte moet vermy word. Dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie vat nie, feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag. Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele, en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – Kol 2:23). ‘n Swetterjoel invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval. In Christus is hulle egter dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (Kol 2:20). En hierdie leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie. Selfs nie eers die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (vgl Kol 3:10).

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-26-23-geloof-en-gedrag-word-op-jesus-as-here-gebou/

Psalm 85 – Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het

19 Julie

Psalm 85 – Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het

1Vir die musiekleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm. 2Here, U was u land goedgesind; U het die lot van Jakob verander. 3U het die sondeskuld van u volk vergewe; U het al hulle sonde bedek. Sela 4U het al u gramskap teruggehou; U het afgesien van u brandende toorn. 5Herstel ons nou weer, o God wat ons verlos; maak ‘n einde aan u ergernis teen ons. 6Gaan U vir altyd teen ons toornig wees? Gaan u toorn voortduur van geslag tot geslag? 7U, wil U ons nie maar weer lewend maak, sodat u volk hulle in U kan verheug nie? 8Here, laat ons weer u troue liefde ervaar, u verlossing – skenk dit aan ons! 9Ek wil hoor wat God, die Here, sê, want Hy praat oor vrede vir sy volk en sy getroue volgelinge. Hulle moet net nie terugkeer na dwaasheid nie. 10Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het, sodat sy heerlikheid in ons land ‘n tuiste kan hê. 11Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede omhels mekaar. 12Waarheid sal uit die aarde spruit, geregtigheid uit die hemel neerkyk. 13Daarby sal die Here gee wat goed is, en ons land sal sy opbrengs lewer. 14Geregtigheid gaan voor Hom uit en baan vir sy voetstappe die weg.

Dit is belangrik om in hierdie Psalm vers 2-4 van vers 5-8 te onderskei, iets wat meer duidelik in die 2020-vertaling as in die 1983-vertaling gedoen word. Anders maak die verandering in perspektief van vers 4 na 5 nie sin nie – “4U het afgesien van u brandende toorn … 5maak ‘n einde aan u ergernis teen ons.” Só kan ’n mens beter raaksien dat vers 2-4 terugverwys na God se herstel van die volk ná ’n tyd van woede (vers 4). Dit kan verwys na enige episode in die Rigters- of Koningstyd, selfs na die terugkeer uit ballingskap. Hy het die lot van die volk verander, hulle ’n nuwe toekoms gegee (vers 2). Vers 5-8 is dan ’n bede dat die Here Hom nou weer oor hulle sal ontferm (vers 5), in ’n tyd waarin die volk weereens ervaar dat die Here vir hulle kwaad is (vers 6). Hy is immers hulle Verlosser (vers 5) wat die lewe vir hulle weer nuut kan maak, sodat hulle hul vreugde in die Here kan vind (vers 7). Die Psalm het dus ’n universele toepassing wat pas in enige tyd van ontwrigting waarin staatgemaak word op God se ingrype in die verlede as motivering vir ’n gebed vir omkeer in die hede.

Die res van die Psalm, vers 9-14, bevat die verbintenis van die liturg namens die volk om na God te luister (vers 9) en ’n beskrywing van die verwagte oorvloedige uitkoms wat God sal bring vir dié wat vir Hom ontsag het (vers 10-14). Die verbintenis aan en die verwagting van God is albei onontbeerlike elemente in die herstel van die verhouding met God wat die vrede in ons lewe laat aanbreek. Saam met die verbintenis spreek die Psalmis sy verwagting uit dat die Here sy verlossing só sal bring dat daar agt beloftes vir die volk sal waar word:

  • “Sodat sy heerlikheid in ons land ‘n tuiste kan hê” (vers 10b) – dit is die effek wat ontsag vir God en vir die lewe in ‘n samelewing het: die volheid van God se teenwoordigheid wat ruimte op aarde kry om te kan tuiskom.
  • “Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar” (vers 11a) – albei is nodig vir ’n stabiele gemeenskap. Die liefde kan nooit sonder die waarheid liefde wees nie. Die waarheid kan ook nie sonder die liefde steeds die waarheid wees nie. Waar troue liefde en waarheid mekaar ontmoet, daar breek die teenwoordigheid van God deur in hierdie wêreld.
  • “Geregtigheid en vrede omhels mekaar” (vers 11b) – sonder geregtigheid kan daar nie vrede wees nie en sonder dat ’n mens nie doelbewus vrede najaag nie, kan daar ook nie geregtigheid wees nie.
  • “Waarheid sal uit die aarde spruit” (vers 12a) – niks sal God se seën op aarde kan fnuik nie. Die waarheid sal seëvier op aarde.
  • “Geregtigheid sal uit die hemel neerkyk” (vers 12b) – vers 11 se beloftes van ‘n samehang van troue liefde en waarheid, sowel as ‘n samehang van geregtigheid en vrede, word hiermee as ’n omvattende hemelse en aardse werklikheid geskets.
  • “Daarby sal die Here gee wat goed is” (vers 13a) – alles wat nodig is om te floreer sal van God af uitgegiet word. ‘n Mens hoor eggo’s van God se woorde met die skepping: “Toe sien God dat dit goed was.”
  • “Ons land sal sy opbrengs lewer” (vers 13b) – en daar sal niks op aarde wees wat God se goeie gawes dwarsboom nie. Alles wat lewe sal vrug dra.
  • “Geregtigheid gaan voor Hom uit en baan vir sy voetstappe die weg.” (vers 14) – dit is die toppunt van dié beloftes, dat God geregtigheid sal vestig op aarde. Dit is die einddoel van alles, om jouself te vind op die pad van die geregtigheid wat God gee.

Dit tref my hoe belangrik nie net die gebed om verandering in ’n mens se lewe is nie, maar ook die verbintenis aan en verwagting van God. Die Psalm leer ons dat al drie elemente onontbeerlik is vir die herstel van ’n mens se verhouding met God en vir die ontvangs van die vrede wat Hy bring. Ons moet met alles in ons bid vir verandering. Ons moet net so vasberade onsself aan God verbind en sorg dat ons nie weer afdwaal nie! En ons moet met net soveel oorgawe vashou aan die agt beloftes wat die Psalmis hier uitspel. Mensig, watter droom en visie om voor te bid, te lewe en na uit te sien!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-85-die-verbintenis-aan-en-verwagting-van-god-vir-uitkoms/

Hosea 1:1-12 – Nogtans kinders van die lewende God

18 Julie

Hosea 1:1-12 – Nogtans kinders van die lewende God

1Dit is die woord van die Here aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel. 2Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het. Die Here het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou ‘n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die Here af.” 3Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir hom: “Noem hom Jisreël, want nog ‘n klein rukkie, dan roep Ek die huis van Jehu tot verantwoording oor die bloedbad by Jisreël. Ek gaan ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. 5Op daardie dag sal Ek die boog van Israel breek op die vlakte van Jisreël.” 6Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ‘n dogter. Die Here sê toe vir hom: “Noem haar Lo-Rugama, want Ek gaan My nie langer ontferm oor die huis van Israel nie, ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie. 7Maar oor die huis van Juda sal Ek my ontferm. Ek sal hulle verlos deur die Here hulle God; Ek sal hulle nie deur boog en swaard en oorlogstuig, deur perde en ruiters verlos nie.” 8Toe sy Lo-Rugama gespeen het, het sy swanger geword en geboorte gegee aan ‘n seun. 9Die Here sê toe: “Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek is nie ‘Ek Is’ vir julle nie.” 10“Maar die kinders van Israel sal so veel wees soos die sand van die see wat nie afgemeet en getel kan word nie. Op die plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is Lo-Ammi,’ sal vir hulle gesê word, ‘Kinders van die lewende God.’ 11Die kinders van Juda en die kinders van Israel sal saamkom, en vir hulle een hoof aanstel. Hulle sal uit die grond opskiet, want groot is die dag van Jisreël. 12Sê vir julle broers, ‘Ammi,’ en vir julle susters: ‘Rugama.’ ”

Die profeet Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, tree op in die agste eeu vC. Dit was volgens vers 1 die tyd van die Judese konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, sowel as die koning van Israel, Jerobeam II. Hosea se boodskap is veral gemik teen die tien-stamme noordryk van laasgenoemde koning, hoewel die twee-stamme suidryk ook betrek is in die boodskap, soos ‘n mens aan die einde van hoofstuk 1 kan sien. Hosea 1 begin met die tekening van die verhouding van God en die volk as ‘n huweliksverhouding. Die Here beskou dié verhouding egter as problematies, want dit is vir Hom asof Hy met ‘n prostituut getroud is. Daarom is dit dan ook sy eerste opgetekende opdrag aan Hosea om Gomer, ‘n prostituut, te trou en by haar kinders te hê. Hosea sal self dus ervaar wat God ervaar, en die volk sal in Hosea se ervaring die wesenlike probleem van God se ervaring met hulle raaksien. Let op dat Gomer reeds ander buite-egtelike kinders het, “hoerkinders”. Die drie kinders wat Hosea en Gomer gesamentlik het, kry name wat ook as boodskappe aan die volk dien:

  1. Jisreël – Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat die Here hom beveel het. God se opdrag was om die koningshuis van Agab uit te wis, en vir Isebel, sy vrou, wat in Jisreël gebly het. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van die Here. Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van die Here verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon hy later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie.
  2. Lo-Rugama (Sonder-ontferming) – Die naam van hierdie dogter simboliseer God se versaking van Israel in terme van vergifnis en beskerming. Juda sal egter sy ontferming bly geniet, in kontras met die uitwissing aan die hand van Jehu.
  3. Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) – Die naam van hierdie seun simboliseer dat God die verbondsverhouding met die volk opsê, omdat dit deur hulle deurbreek is: “Ek is nie EK IS vir julle nie.” Dit is die naam waarmee die Here Homself aan Moses by die braambos bekend gestel het (Eks 3:14), wat die terugtrekking nie net van sy verbondsverhouding met hulle impliseer nie, maar ook die opsegging van die openbaring van sy teenwoordigheid by hulle.

Die Here gee egter nógtans ‘n belofte vir die toekoms, ‘n tyd waarin Hy vir die somtotaal van elkeen wat deel van Israel is die lewende teenwoordige Here sal wees – ‘n getal wat soos die sand van die see sal wees en nie getel of gemeet kan word nie en daarom ‘n duidelike herinnering aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het (Gen 22:17). “Julle is kinders van die lewende God.” Inderdaad. Hierdie belofte van die Here kry ‘n nog dieper betekenis in die lig van die “EK IS” verwysing in vers 9. Die Here belowe dus dat sy verhouding met hulle so intiem en werklik sal wees soos wat Hy die pad met Abraham en Moses geloop het. En dié belofte sal geld vir elkeen wat deel van die Godsvolk sal word! Daarby belowe die Here ‘n eenheid tussen die onderskeie dele van die ryke van Israel en Juda, onder een leier of hoof. Daarom, sê Hosea, kan hulle maar solank vir hulle broers sê: “Ammi (My volk)” en vir hulle susters: “Rugama (Ontferming)”. Die boodskap, wat eers in die toekoms sal waar word, kan solank in die hede omarm word.

Die bedoeling van dié vreemde opdrag van die Here aan Hosea om met ‘n prostituut te trou, is bedoel om ons tot stilstand te ruk. Dit plaas ons voor die persoonlike vraag na die gehalte van ons eie verhouding met die Here. Ons moenie net vra, wat beteken God vir ons nie, maar eerder: “Hóé ervaar Hy vir ons?” Wat sou God oor ons sê, as iemand Hom sou vra na wat ons vir Hom beteken?!  Sou Hy kon sê, Hy ervaar ons as mense wat getrou aan Hom leef? Óf sou Hy ons ook ervaar as mense wat ontrou is aan Hom? God soek immers gehoorsaamheid. Want dán kan ‘n mens die intimiteit en werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar soos ‘n Abraham en ‘n Moses. Die belofte van hoop lê in die Here se besluit om nógtans ook vir ons te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.

Lees meer: https://bybelskool.com/hosea-11-12-hosea-trou-met-die-ontroue-gomer/

Onlangse kommentaar