Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

12 Julie

Psalm 52 – God is goed en sorg vir my

1Vir die musiekleier. ‘n Maskiel. Van Dawid. 2Toe Doëg, die Edomiet, gegaan en vir Saul berig gebring het. Hy het vir hom gesê: “Dawid het by die huis van Agimeleg aangekom.” 3Waarom spog jy oor ‘n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. 4Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg. 5Jy hou meer van die slegte as van die goeie, van leuens meer as om te sê wat reg is. Sela 6Jy hou van allerhande lasterlike woorde, van ‘n tong wat bedrieg. 7God sal jou daarom vir goed afbreek Hy sal jou wegruk, jou wegskeur uit die tent; Hy sal jou uitpluk uit die land van die lewendes. Sela 8Regverdiges sal dit sien en ontsag hê, oor hom sal hulle die spot dryf: 9“Kyk die sterk man! Hy het God nie sy toevlug gemaak nie, maar op sy groot rykdom vertrou. Hy soek toevlug in wat hom vernietig.” 10Maar ek is soos ‘n welige olyfboom in God se huis; ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. 11Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. In die teenwoordigheid van u getroue volgelinge vestig ek my hoop op u Naam, want dit is goed.

Dit is ’n unieke Psalm waarin die boodskap eintlik op ’n vyand van Dawid, Doëg, gemik is, ’n soort stryd Psalm wat nie maklik inpas in die normale kategorisering van Psalms in lof en klag nie. Tate gee die volgende titel aan die Psalm wat ook die boodskap daarvan opsom: ”The Divine Judgment of a Mean and Powerful Person” (Psalm 51-100 – Word Biblical Commentary). Lees meer oor hulle stryd by die skakel wat ek hieronder verskaf.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word:

  1. Die slegte dade van Doëg word veroordeel – vers 3-6. Dawid kontrasteer die aksies van Doëg om homself en sy invloed- en magsfeer uit te brei deur ander se ondergang te bewerk en met bedrog en leuens om te gaan, met dié van God wat sorg vir dié wat Hom daarvoor vertrou. Doëg word nie net veroordeel daarvoor nie, maar ook herinner daaraan dat sy pogings uiteindelik verniet is.
  2. Die vernietiging wat God oor hom gaan bring, word verwelkom – vers 7-9. In baie skerp taal word God se optrede geskets. Basies word die ruimte wat God vir Doëg gegee het om te woon, weggeneem en sy lewe beëindig. Dié aksie sal dien as hoopgewende getuienis aan die regverdiges wat hulle uitnooi om God te bly vertrou. Die poging om onafhanklik van God ryk en sterk te word, slaag nie in die finale instansie nie.
  3. Die sorg en goedheid van God word verheerlik – vers 10-11. Dawid kontrasteer ook sy eie lewe met dié van Doëg. Dawid kan altyd op God se sorg en goedheid staatmaak. Daarvoor sal hy God altyd bly loof in die vergadering van gelowiges.

Die Psalm herinner dus elkeen van ons wat onder die gemeenheid van ander moes deurloop, dat die laaste sê oor enigiemand se lewe van God af kom. God se sorg en goedheid hou ’n mens in stand selfs wanneer dit lyk asof die boosheid wil-wil seëvier.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-52-god-is-goed-en-sorg-vir-my/

Amos 8:1-14 – Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word

11 Julie

Amos 8:1-14 – Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word

1Dít het my Heer, die Here, my laat sien: Daar was ‘n mandjie met somervrugte. 2Hy het gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie met somervrugte.” Daarop sê die Here vir my: “Die einde het vir my volk Israel aangebreek. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie.” 3“Die sangeresse van die paleis sal weeklaag op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Tallose lyke, oral neergegooi! Stilte!” 4Luister hierna, julle wat die behoeftiges vertrap, en daarop uit is om weerloses in die land uit te wis 5deur te sê, “Wanneer is nuwemaan verby, sodat ons weer koring kan verkoop, en die Sabbat, sodat ons die graansakke kan oopmaak?” net om ‘n efa kleiner te maak en ‘n sikkel groter, en om te kul met ‘n vals weegskaal, 6om armes vir geld te koop en behoeftiges vir ‘n paar sandale. “Die uitskotgraan sal ons ook verkoop.” 7Die Here het gesweer by die trots van Jakob: “Ek sal al hulle dade in ewigheid nie vergeet nie. 8Sal die aarde nie hieroor skud nie, en elkeen wat daarop woon, nie treur nie? Dit sal in sy geheel styg soos die Nyl; dit sal onstuimig wees en terugsak soos die rivier van Egipte.” 9“Op daardie dag,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal Ek die son laat ondergaan op die middaguur en dit helder oordag donker maak vir die aarde. 10Ek sal julle feeste in ‘n rouplegtigheid verander en al julle liedere in treursange. Ek sal om alle heupe ‘n roukleed hang en op elke kop ‘n kaal plek maak. Ek sal dit laat wees soos die rouplegtigheid oor ‘n enigste kind en die einde daarvan soos ‘n bittere dag.” 11“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “dat Ek hongersnood in die land sal uitstuur – nie ‘n honger na brood en ‘n dors na water nie, maar ‘n honger om die woorde van die Here te hoor. 12Hulle sal strompel van see tot see; van noord na oos sal hulle dwaal, op soek na die woord van die Here, maar dit nie vind nie. 13Op daardie dag sal die mooi jongmeisies flou word, ook die jong manne, van dors. 14Hulle wat sweer by die Skuld van Samaria, en sê, ‘So waar as wat jou god leef, Dan’, of ‘so waar as wat jou god leef, Berseba’; hulle sal val en nie weer opstaan nie.”

Dit is nogal ironies dat die vierde gesig (na die drie in hoofstuk 7) met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (Amos 8:1-3). Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (Amos 7:14). Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte sy boodskap oor te dra. Dit is egter ‘n ontstellende boodskap. Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk. Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie. Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander. In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit.

In die eerste plek (Amos 8:4-6) beskryf die Here ‘n konteks waarin arm mense verdruk word en die fokus op onregmatige wins is. Die godsdienstige rituele en feeste word wel nagekom, terwyl angstig gewag word vir die normale ekonomie om daarna weer in te skop. Die Here beskryf met afsku die valsheid en onreg wat hulle in die gemeenskap pleeg. In die tweede plek (Amos 8:7-10) sien die Here net nie kans om dit oor te sien nie. Hy kan nie en sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Die hele skepping sug eintlik saam met Hom oor die onmoontlikheid van die situasie. Die Here moes die roem van Israel gewees het. Nou is hulle vir hom ‘n las en ‘n skande. Dié mense wat sy roem en trots op die aarde moes wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom. Die uiteinde sal daarom vir hulle bitter wees: “soos met die rouplegtigheid oor ‘n enigste kind.” In die derde plek (Amos 8:11-14) is dit tragies dat die woord van die Here in die proses verlore raak. Daar sal ‘n honger wees, sê die Here: “nie ‘n honger na brood en ‘n dors na water nie, maar ‘n honger om die woorde van die Here te hoor.” Die ontroerende prentjie word geskilder van mense wat ronddwaal en rondslinger op soek na die woord van die Here. Maar vind, sal hulle dit nie vind nie. Die pad na die Here, sê Amos, sal verlore wees, uitgewis, uitgevee … net soos die pad na die heiligdomme van hulle afgode by Dan en Berseba, dié twee heiligdomme wat op die noord- en suidgrens respektiewelik geleë was en hulle in die eerste plek verlei het om aan die Here ongehoorsaam te wees.

Daar is ‘n noodwendigheid in die uitkoms van ‘n lewenspad wat mense inslaan. Waar die Here en sy wil vir die lewe gesoek word, dáár is ‘n toename in die bewussyn van God. Waar die Here en sy wil vir die lewe nie gesoek word nie, dáár is ‘n afname in die bewussyn van God. Soveel só dat die woord van die Here soek kan raak, trouens, dat Hy nie meer gevind kan word nie. Dit is vir ons moeilik om te hoor, veral waar ons die woorde van die Here Jesus nog hoor weerklink: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8). Hierdie woorde van Jesus bly gelukkig steeds die evangelie, die goeie nuus, maar in spesifieke kritiese omstandighede, waar die Here langdurig en deurlopend geïgnoreer word, en sy stem uitgedoof word, daar raak dié prentjie van Amos se mandjie ryp somervrugte relevant, ‘n prentjie van ‘n volk wat ryp raak vir oordeel. Dit is daarom dat ons nooit mag toelaat dat iemand geestelik moeg raak en uitsak en doof raak vir die woord van die Here nie, soos die skrywer aan die Hebreërbrief waarsku nie (vgl Hebr 4:1). Selfs God se woord raak soek wanneer Hy langdurig geïgnoreer word

Lees meer: https://bybelskool.com/amos-81-14-die-oordeel-van-die-vierde-gesig-van-n-mandjie-somervrugte/

Lukas 10:25-37 – God se liefde laat ons uitblink in liefde vir ons naaste

10 Julie

Lukas 10:25-37 – God se liefde laat ons uitblink in liefde vir ons naaste

25En kyk, ‘n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” 27Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” 28“Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” 29Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?” 30Hierop het Jesus geantwoord: “’n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 31‘n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. 32En net so het ook ‘n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. 33Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na ‘n herberg en versorg hom daar. 35Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ 36Wie van hierdie drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” 37En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

‘n Wetgeleerde (nomikos –“legal expert”) het opgestaan en hom probeer slim hou, slim genoeg om Jesus te probeer uitvang. Die wetgeleerde noem Jesus “Leermeester” – wat ‘n bietjie van ‘n heuningkwas impliseer – en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te kan ontvang. Jesus antwoord soos ‘n goeie Leermeester met ‘n weervraag om agter te kom wat die wetgeleerde dink. Hy verwys die wetgeleerde na die wet – siende dat hy ‘n ekspert in die reg is – om die essensie daarvan met Jesus te deel. Die wetgeleerde antwoord dan met ‘n opsomming uit die wet, die dubbele liefdesgebod. Hy noem die normale drie dimensies uit die wet waarmee God liefgehê moet word – hart, siel en krag – en voeg “hele verstand” by (Deut 6:5 – onthou dat die hart vir die gedagtewêreld in Hebreeus gebruik is). Daarby kom die gebod tot naasteliefde (Lev 19:18). Jesus het natuurlik presies hierdie selfde antwoord gegee aan ander persone (Mark 12:28-34; Matt 22:34-40; vgl Jos 22:5). Wat dui daarop dat dié opsomming ‘n wye aanvaarding geniet het.  Jesus prys hom dat hy reg geantwoord het. Doen dit en jy sal lewe.

Die dubbele liefdesgebod kan natuurlik op verskillende maniere verstaan word. Die wetgeleerde het dit moontlik as ‘n pad gesien waarop jy God se genade kan verdien. Vandaar sy volgende vraag oor sy naaste, omdat hy waarskynlik geweet het dat die antwoord op daardie vraag baie bepalend kan wees vir jou sukses op só pad. Jesus het daarom in sy laaste gesprekke met sy dissipels ‘n nuwe liefdesgebod vir hulle gegee. Om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het (Joh 13:34). Ons liefde is ‘n reaksie op sy liefde. Dit word uit dankbaarheid gebore, nie uit plig nie. Dit is ook hoe die Tien Gebooie vroeër aan die volk verkondig is. Dit is omdat hulle God se volk is, en Hy hulle uit Egipte gered het, dat Hy van hulle kan verwag dat hulle Hom sal liefhê en hulle naaste soos hulleself.

Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf deur te vra wie is sy naaste. Hy het waarskynlik vergeet dat die wet reeds baie helder is oor wie die naaste is (Lev 19:20). Meer nog, die gebod om die naaste lief te hê is reeds in dieselfde hoofstuk in Levitikus 19 uitgebrei om die vreemdelinge in te sluit (Lev 19:34). Die naaste was dus van die begin af universeel bedoel. Waarop Jesus die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel en die vraag van die wetgeleerde omkeer na: “Vir wie is jy ’n naaste?” ‘n Man – sonder identiteit, Jan Alleman, die universele naaste – is gewelddadig aangeval deur rowers op die pad van Jerusalem na Jerigo in die noorde. Die pad daal so ‘n 1 000 meter en is ongeveer 24 km ver. Ironies genoeg, dieselfde pad wat Jesus binnekort sou aandurf. Hulle het hom halfdood en nakend agtergelaat. Jesus kies dan mense vir sy gelykenis wat direk tot dié wetgeleerde sal spreek – mense uit sy eie omgewing, mense vir wie hy sou bewonder en soos wie hy selfs sou wou wees. Die priester en die Leviet. Albei gaan egter aan die anderkant verby en help nie die man wat onder rowers deurgeloop het nie. Hulle was besig om van die tempel af weg te gaan. So, rituele reinheid was nie ‘n kwessie nie. Hulle wou die man doodeenvoudig nie help nie. Jesus kies ook die barmhartige Samaritaan, mense wat die wetgeleerde sou verafsku en wat hy self sou wou vermy. Dit is hy wat die man innig jammer kry, nadergaan, sy wonde versorg met olie en wyn, en hom op sy eie rydier tot by ‘n herberg vervoer waar hy vir hom betaal dat hy daar kon herstel. Deur hierdie mense te kies, kan Jesus die wetgeleerde se gebrek aan omgee op die beste diepsinnige wyse illustreer. Want, anders as wat die wetgeleerde sou verwag het, is dit die gehate Samaritaan, die een wat van gemengde afkoms is, die een wat nie die hele Skrif as God se Woord aanvaar het nie, wat die held in die verhaal is. Jesus draai dan die vraag van die wetgeleerde om en vra daarom wie die naaste geword het van die man wat onder rowers beland het. Die man kon nie anders as om die Samaritaan uit te wys nie. Let egter op dat hy net praat van die “een wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Dit is egter genoeg vir Jesus om hom aan te raai om self so te leef, om ‘n naaste te wees, want dit is wat die tweede liefdesgebod van ons vra. Wie God liefhet, blink uit in liefde vir die naaste.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/die-gelykenis-van-die-barmhartige-samaritaan-wat-regtig-omgegee-het-lukas-1025-37/

Psalm 123 – Ons oë is op God gerig totdat Hy ons genadig is

9 Julie

Psalm 123 – Ons oë is op God gerig totdat Hy ons genadig is

1‘n Pelgrimslied. Na U kyk ek op, U wat in die hemel woon. 2Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. 3Wees ons genadig, Here, wees ons genadig; want ons het meer as genoeg gehad van minagting; 4tot in ons diepste wese het ons meer as genoeg gehad van die spotlag van selfvoldane mense, van die minagting deur hooghartiges.

Hierdie Psalm gebruik die metafoor van ‘n huishouding waar daar ‘n eienaar en eienares is saam met slawe (meervoud) en slavinne (eintlik enkelvoud in die oorspronklike, miskien omdat daar minder vroulike slawe was as manlikes) en plaas die geloofsgemeenskap in die skoene van die slawe.  Hulle is volledig afhanklik van die genade van hulle eienaars.  Hulle oë is gerig op die geringste beweging van die hand van hulle eienaars om bv vir hulle kos te gee of in ander behoeftes te voorsien. Soos Psalm 145:15-16 later die prentjie van God sal inkleur: “Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.”  Dit is die God wat ons dien!

Daarom bid hulle saam – oral op hulle reis, selfs in Jerusalem – dat God se genade oorvloedig sal wees oor hulle, veral waar hulle as gelowiges baie keer uitgelewer is aan mense wat hulle hooghartig minag en selfvoldaan spot: “Wees ons genadig … ons het meer as genoeg gehad van spotlag en minagting.”  Presies waaroor dié spotlag en minagting gegaan het, word nie uitgespel nie, maar dit beteken dat elkeen van ons eintlik ons eie situasie daarin kan lees, soos inderdaad die pelgrims ook kon doen.  En let op dat die Psalmis sê dat ons oë op God gerig is totdat Hy ons genadig is.

Bely daarom jou afhanklikheid voor die Here en stort jou hart uit voor hom oor dié dinge wat ook jou keel vandag wil laat toetrek.  En moenie ophou nie.  Die Here sal luister en Hy sal jou deur enigiets dra.  Laat jou oë gerig wees op die geringste handbeweging van die Here, ons Here, totdat Hy jou genadig is.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-123-ons-oe-is-gerig-op-god-totdat-hy-ons-genadig-is/

Spreuke 4:20-27 – Spits jou ore vir my woorde, want dit is die lewe vir hulle wat dit vind

8 Julie

Spreuke 4:20-27 – Spits jou ore vir my woorde, want dit is die lewe vir hulle wat dit vind

20“My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. 21Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. 22Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing. 23Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe. 24Bly weg van ‘n mond wat valsheid verkondig, en slinkse lippe, hou dit ver van jou. 25Jou oë moet vorentoe kyk, jou blik moet reg voor jou gerig wees. 26Hou die pad vir jou voet gelyk; en al jou weë, laat dit bestendig wees. 27Moenie regs of links afdraai nie, hou jou voet weg van die kwaad.”

Die volgende lewensles van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad van wysheid. In die proses is sy ore (Spr 4:20), hart (Spr 4:23), mond (Spr 4:24), oë (Spr 4:25), en voete (Spr 4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid.

  • Sy ore moet vir die wyse onderrig van sy rolmodelle uitgeleen word. Hulle leiding en opvoeding moet gevolg en nageboots word.
  • Sy binnekant moet beskerm word teen boosheid en negatiwiteit, meer as enigiets anders. Dit máák saak wat ’n mens dink en hoe jy dink.
  • Sy mond moet reguit praat en leuens en misleiding soos die pes vermy.
  • Sy oë moet reguit kyk na die pad waarvoor hy deur die wysheid geroep is. Hoewel dit in dié konteks meer met eerlikheid en opregtheid te make het, laat dit my tog ook dink aan Job wat van homself gesê het dat hy ’n verbond met sy oë gesluit het om nie na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1), en Jesus wat dieselfde sentiment in die Bergrede gebesig het (Matt 5:28).
  • Sy voete moet doelgerig bly op die pad wat die wysheid vir hom afgebaken het. Sy lewenstyl moet verband hou met wat in sy binneste gebeur.

In jou vertroue op God, en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is, as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.” (Spr 4:23). Hart het hier te make met jou gedagtes en jou binnewêreld, jou binnekant, die plek waar die onderskeiding gebeur tussen dit wat goed is en dit wat sleg is.

Maar natuurlik is dit nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie. Jy moet ook die pad stap wat God wys. Soos Spreuke sê: “Hou die pad vir jou voet gelyk; en al jou weë, laat dit bestendig wees.” (Spr 4:26)  Soos die 1983-vertaling dit weergee: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.” En vers 27: “Moenie regs of links afdraai nie, hou jou voet weg van die kwaad.” Soos die Spreuke van die Wyses later sal eggo: “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spr 23:19). Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-41-27-baken-jou-koers-af/

Onlangse kommentaar