Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie
Amos 7:1-17 – God se beloftes van genade en voorsiening sluit nie sy oordeel uit nie
1Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is. 2Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, Here – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 3Die Here het berou daaroor gehad. “Dit sal nie gebeur nie,” het die Here gesê. 4Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, my Heer, die Here, was gereed om ‘n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer. 5Ek sê toe: “My Heer, Here – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” 6Die Here het berou daaroor gehad. “Ook dit sal nie gebeur nie,” het my Heer, die Here, gesê. 7Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by ‘n loodregte muur. In sy hand was daar ‘n skietlood. 8Toe sê die Here vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. 9“Die offerhoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees. Ek gaan teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.” 10Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u ‘n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie; 11want dit is wat Amos sê, ‘Deur die swaard sal Jerobeam sterf, en Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ” 12Amasia sê toe vir Amos: “Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. 13In Bet-El mag jy nie meer verder profeteer nie, want dit is die koning se heiligdom; dit is ‘n tempel van die koninkryk.” 14Amos het geantwoord en vir Amasia gesê: “Ek is nie ‘n beroepsprofeet nie en ook nie lid van ‘n profetegroep nie; maar ek is ‘n veewagter en ek prik wildevye. 15Die Here het my agter die kleinvee weggevat en die Here het vir my gesê, ‘Gaan profeteer vir my volk Israel!’ 16Hoor dan nou die woord van die Here: “Jy sê, “ ‘Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag nie teen die huis van Isak driftig preek nie.’ 17“Daarom, so sê die Here, “ ‘Jou vrou sal in die stad hoereer, en deur die swaard sal jou seuns en dogters val. Jou grond sal met ‘n maatlyn opgedeel word, en jy self sal op onrein grond sterf. En Israel sal beslis in ballingskap gaan, weg van sy grondgebied af.’ ”
Amos was die eerste van die Skrifprofete en tree op in die tyd van koning Ussia van Juda, en Jerobeam II van Israel, twee jaar voor die aardbewing van 760 vC (Amos 1:1). Ons weet min van Amos as persoon af, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie (Amos 7:14). Hy was ‘n veewagter uit Tekoa, suid van Jerusalem (Amos 1:1-2), en het ook omgesien na vyebome, ‘n seisoenswerk waarin vye geprik is om vinniger ryp te word (Amos 7:14). Dáár het die Here hierdie veewagter geroep om as profeet op te tree en veral die noordelike ryk aan te spreek (Amos 7:15), hoewel dit ook die nasies en Juda ingesluit het. Sy boek begin met ‘n tekening van God as ‘n Leeu wat brul uit Sion: “Die HERE brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.” (Amos 1:2). Elkeen wat al ‘n leeu hoor brul het, sal weet hoe ver dit gehoor kan word, en hoe ‘n impak dit op die omgewing het. Alles raak stil as ‘n leeu brul. ‘n Leeu brul om sy heerskappy oor ‘n gebied aan te kondig en niemand is onder enige illusies dat ‘n leeu dit kan afdwing nie! Dié metafoor is dus baie gepas vir Wie God is en dra die boodskap dat ‘n mens met Hom moet rekening hou. Die Here brul uit Sion en laat sy gramskap hoor oor dié wat Hom in hulle aanbidding versaak en daarby nie hulle naaste liefhet nie, maar onregverdiglik op allerhande maniere uitbuit. Amos 3:1-9:10 bevat profesieë veral gemik teen die noordelike tienstammeryk van Israel, met hulle hoofstad Samaria en die heiligdomme by Bet-El, Gilgal en Berseba, afgerond met vyf visioene in Amos 7-9:10. Die boek sluit in Amos 9:11-15 af met ‘n heilsprofesie rondom die belofte van ‘n verenigde Dawidiese ryk wat Israel weer sal insluit in die herstelde Godsvolk.
Amos 7:1-17 gee vir ons insig in die wyse waarop die oordeel van God inpas binne die groter skema van God se beloftes van genade en voorsienigheid. Dit is juis deur God se oordeel wat sy belofte van ‘n oorblyfsel gestalte kry. Ons lees hier van drie gesigte van oordeel: ‘n sprinkaanswerm, ‘n groot vuur, en ‘n skietlood (tou waaraan ’n stukkie lood hang wat gebruik word om die loodregte rigting aan te dui). Die plaag van sprinkane is God se oordeel oor die sondige koning, Jerobeam II, want dit is sy landerye wat afgevreet word. Amos se gebed laat God sy oordeel oor die hele volk egter terugtrek. Die groot vuur dui waarskynlik op ‘n versengende droogte wat God teen die ongehoorsame volk stuur. Weereens luister die Here egter na Amos se dringende gebed en wend die droogte af. Met die eerste twee gesigte is daar dus nog die hoop op herstel – die Here trek sy oordeel terug.
Maar, dit is nie die geval met die laaste visioen nie. Die laaste oordeel is gemik op die priester Amasia, as die verteenwoordiger van die geestelike elite, wat Amos probeer keer om sy roeping uit te voer. Die Here trek hierdie oordeel nie terug nie, as straf vir die wyse waarop Amasia, die amptelike verteenwoordiger van die staatsgodsdiens, God se profete en hulle boodskap dwarsboom. In plaas daarvan om tot inkeer te kom, om te sorg dat hulle godsdiens met geregtigheid gepaard gaan, probeer hierdie leier die res van die koninklike en geestelike gesag vernedering spaar deur die boodskap sowel as die boodskapper te ignoreer. Om iemand stil te maak omdat die boodskap ongemaklik is, óf omdat die boodskapper nie aan die amptelike kriteria beantwoord nie, help natuurlik niks, as God inderdaad die bron van dié boodskap en die opdraggewer van die boodskapper is nie. Iets wat alle institusionele gesagsdraers in gedagte moet hou. Amasia ontbeer deur sy aktiewe teenstand God se genade wat hier nog sigbaar is in die tydelie terugtrekking van die oordeel oor Jerobeam en die volk.
Lees meer: https://bybelskool.com/amos-71-17-drie-gesigte-van-oordeel-sprinkane-vuur-en-n-swaard/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar