Filippense 2:12-18 – God bewerk die gewilligheid en die optrede in julle soos Hy dit goedvind
Filippense 2:12-18 – God bewerk die gewilligheid en die optrede in julle soos Hy dit goedvind
12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. 14Doen alles sonder kla en teenpraat, 15sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, 16deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. 17Maar al word ek ook as drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. 18Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.
Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (Fil 1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (Fil 1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (Fil 2:3-4) – op in Filippense 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (Fil 2:6-11). En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14). Paulus beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee. Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).
Die hart van sy oproep hier is dat hulle “met vrees en bewing aan hulle verlossing sal werk.” Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas. Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.”
Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne). Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak. Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het). Dan kom God se werk in hulle tot sy volle werking.
Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-25-30-jesus-se-selfontlediging-inspireer-ons-as-ligdraers-in-die-wereld/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar