Lukas 23:33-43 – Vandag sal jy saam met my in die paradys wees
Lukas 23:33-43 – Vandag sal jy saam met my in die paradys wees
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. 35Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” 36Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle naderstaan en vir Hom suur wyn aanbied, 37met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” 38Bokant Hom was daar ook ‘n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” 39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” 40Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! 41In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” 43Jesus het hom geantwoord: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Twee misdadigers – waarskynlik rowers of diewe (vgl Mrk 15:27; Mat 27:44) – word saam met Jesus na die plek wat Skedel genoem is – Golgota (in Latyn Calvaria, in Engels Calvary)– gelei om gekruisig te word. Jesus word in die middel van dié twee gekruisig, een aan sy regterkant, en een aan sy linkerkant. Jesus gee met die kruisiging sy eerste van sewe kruiswoorde. Dit is ‘n gebed tot sy Vader dat Hy die Jode sal vergewe, omdat hulle nie weet wat hulle doen nie – soos Stefanus Hom later sal navolg toe hy self die hoogste prys vir sy getuienis moes betaal (Hand 7:60). Jesus se klere word deur die lot verdeel, sodat dit nie in stukke gesny hoef te word nie. Die verdeling van sy klere is ’n vervulling van Psalm 22:19 wat ook ander ooreenkomste met die kruisiging toon.
Die volk se instemming met die kruisiging word uitgebeeld deur die feit dat hulle net gestaan en kyk het. Die leiers was meer spraaksaam en het Jesus uitgelag vir sy swakheid in hulle oë. Hy wat bekend gestaan het as die Messias van God, die Uitverkorene, wie se missie dit wat om ander te red, kon nou Homself nie red van die dood nie. Ook die soldate het hulle spottery voortgesit deur Hom aan te por om sy Koningskap te bewys – soos die opskrif op die kruis bokant Hom verklaar het – deur Homself te red. Hulle het ook vir Hom suur wyn aangebied as deel van die spottery, ‘n vervulling van Psalm 69:21 (vgl Matt 27:48). Dit moet onderskei word van die wyn met mirre (Mrk 15:23) of gal (Matt 27:34) wat Hom ook aangebied is. Die dubbele ironie van al die Jode se gespot is dat hulle eerstens Hom uitlag omdat Hy Homself nie kan red nie, terwyl dit hulle is wat Hom gekruisig het, en tweedens dat dit presies die manier is waarop Hy ons verlos, deur sy oorgawe aan hulle verraderlike optrede. Deur onskuldig vir ons aan die kruis te hang, bewerk Hy vir ons vergifnis van sonde.
Dan verskuif Lukas ons aandag na die eerste misdadiger. Dié het Jesus ook soos die soldate beledig. As Hy dan die Christus, die Messias, is, laat Hy Homself dan red, en sommer op die koop toe ook die ander wat saam met Hom daar gehang het. Die tweede misdadiger het egter die eerste een tereggewys vir sy oneerbiedigheid teenoor God. Dit is dwaas om sonder ‘n vrees vir God te sterf, want dan kan jy slegs sy oordeel verwag. Hy brei dan uit oor hulle vonnis wat geregverdig is. Hulle het gekry wat hulle verdien het. Dit was egter nie die geval met Jesus nie. Hy het niks sleg gedoen nie. Dan draai die tweede misdadiger na Jesus toe en sê daardie beroemde woorde: “Jesus, onthou my wanneer U in u koninkryk kom.” Waarop Jesus Hom met sy tweede kruiswoord verseker dat hy vandag reeds saam met Jesus in die paradys sal wees (Openb 2:7).
Dit ruk ‘n mens aan die hart dat die Jode so blind kan wees dat hulle nie insien dat hulle verwerping van hierdie onskuldige man, die Seun van God, tot hulle eie verwerping deur sy Vader sal lei nie. ‘n Mens sien ook hier dat ‘n mens Jesus se stilswye in sy verhoor nie moet misverstaan asof Hy nie presies weet wat die gevolge vir die Jode se bespotting van geregtigheid vir hulle inhou nie. Asof Hy niks daaroor te sê het nie. Of dat Hy doodgewoon hulle sonde oorsien asof niks gebeur het nie. Inteendeel, Hy is helder oor die oordeel wat kom vir almal wat nie die genadetyd gebruik wat Hy vir hulle deur sy onskuldige lyding bied nie. Jesus se kruisdood is beide God se straf vir die sonde sowel as sy vryspraak vir elkeen wat in Jesus glo. As die Jode dit maar net wou raaksien. Die eerste kruiswoord oor vergifnis is ook betekenisvol, want dit verklaar dat die kruisdood die hand van vergifnis is wat Jesus uitreik na ‘n wêreld wat Hom verwerp. Elkeen wat dié vergifnis aanvaar, spring die straf van die sonde vry. Elkeen wat dié vergifnis verwerp, skryf daardeur sy eie doodvonnis. In albei gevalle bevestig die gelowige en die ongelowige die regverdigheid van God se straf oor die sonde.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-231-56-die-onskuldige-sterf-vir-ons-die-skuldiges/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar