Psalm 119:129-136 – As u woorde oopgaan, gee dit lig
Psalm 119:129-136 – As u woorde oopgaan, gee dit lig
פ PE 129U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. 130As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. 131Met ‘n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. 132Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. 133Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. 134Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. 135Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. 136Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie.
Ná die pynlike insig wat in die vorige deel van die Psalm verwoord is, verwonder die Psalmis hom in die sewentiende deel van Psalm 119 oor die lig wat God se woorde in sy lewe aansteek: “As u woorde oopgaan, gee dit lig.” (vers 130). Dit is waarom die Psalmis nie omgee om God se bepalings na te kom nie, want dit is – ten spyte van die pyn van gehoorsaamheid – uiteindelik “wonderlik” (vers 29), want dit gee vir eenvoudiges (onervarenes) insig (vers 130). Daarom bly hy met sy hele wese smag na God se gebooie, want dit is vol van genade. Dit getuig van God se omarming van ons. Hoor net hoe pragtig sê hy dit in sy gebed: “Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet.” (vers 132). Genade is God se Gewoonte teenoor Gelowiges! ‘n Mens kan ‘n lewe lank oor die betekenis van hierdie vers nadink!
God se woord doen nog meer as net om genade uit te deel. God se woorde maak ‘n mens se treë ferm, sê die Psalmis, sodat geen onreg oor ons kan heers nie (2020-vertaling), of die kwaad oor ons die oorhand kry nie (1983-vertaling), sodat ons uiteindelik van onderdrukking of verontregting deur mense verlos kan word, en enduit aan God se opdragte kan vashou (vers 133-134). Gehoorsaamheid aan die woord is dus God se manier om ons pad in die lewe te beveilig, soos Psalm 1 ook sê: “die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (vers 6). Dit laat die lig van God se teenwoordigheid oor sy diensknegte skyn sodat God se voorskrifte in sy lig geleer kan word (vers 135).
Die donker kant in hierdie deel van die Psalm is dat daar egter steeds mense is wat – al is die lig in God se voorskrifte te vinde – God se wet nie onderhou nie, tot groot verdriet van die Psalmis: “Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet onderhou nie.” (vers 136). Die openbaring van God gee die Psalmis dus beide vreugde as verdriet – vreugde oor die betekenis daarvan vir hom; verdriet omdat daar mense is wat die betekenis mis, omdat hulle hulle nie daaraan hou nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119129-136-pe-as-u-woorde-oopgaan-gee-dit-lig/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar