Skip to main content

Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom

3 September

Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom

1‘n Pelgrimslied. Dink tog, Here, aan Dawid, aan al sy opofferings, 2hy wat teenoor die Here ‘n eed gesweer het, ‘n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob: 3“Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie, 4ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie, 5totdat ek vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob.” 6Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär. 7Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete. 8Staan op, Here, gaan na u rusplek, U en u magtige ark. 9U priesters moet geklee wees in geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel. 10Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie. 11Die Here het vir Dawid ‘n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas. 12As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.” 13Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: 14“Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit. 15Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig; 16haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig. 17Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitgroei; Ek het ‘n lamp gereedgemaak vir my gesalfde. 18Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.”

Met hierdie Psalm roep die pelgrims die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering.  Hulle dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry (vers 1-9). Dawid wil eintlik op geen manier rus nie, totdat hy vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob. In dieselfde gees buig die pelgrims dan in aanbidding voor die Here neer, terwyl die priesters hulle in ‘n feestelike liturgie begelei.  As getroue volgelinge van die Here juig hulle saam voor Hom in eerbied vir die plek wat Hy by hulle inneem. Daarmee vereenselwig hulle hulle natuurlik ook met dié passie van Dawid vir God se teenwoordigheid op aarde.  En soos hulle kan ons dié gebed bid vir ons eie belewenis van God se teenwoordigheid in ons geloofsgemeenskappe waar dit ook al mag wees.

Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is. Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen 35:19).  Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel.  Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam 1:1).  Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (Mig 5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek (Matt 2:6). Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim.  Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam 6:21; 1 Sam 7:1).  Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam 6:1 vv; 1 Kron 13:6 vv).

Hulle tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom (vers 10-18). Dit wil lyk asof die ark ook deel van ‘n feesliturgie was waarin God se voortdurende teenwoordigheid in die stad wat Hy uitgekies het, gevier is (vgl ook Ps 24). Salomo gebruik bv dié deel van die Psalm amper woordeliks in sy gebed met die inwyding van die tempel (2 Kron 6:41-42). Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie.  Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias. Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word. Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings en die seëninge wat daaraan verbind is.  Dié seëninge sluit vier beloftes in:

  • God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – dws sy teenwoordigheid;
  • God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
  • God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
  • God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.

Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld. En God se beloftes van sy teenwoordigheid, sy voorsiening, sy oorwinning en leiers vir onsself toe te eien.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-132-here-laat-u-gesalfde-se-kroon-skitter/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda