Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom
Psalm 132 – Die Here belowe omvattende seën vir dié wat sy verbond en bepalings nakom
1‘n Pelgrimslied. Dink tog, Here, aan Dawid, aan al sy opofferings, 2hy wat teenoor die Here ‘n eed gesweer het, ‘n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob: 3“Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie, 4ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie, 5totdat ek vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob.” 6Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär. 7Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete. 8Staan op, Here, gaan na u rusplek, U en u magtige ark. 9U priesters moet geklee wees in geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel. 10Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie. 11Die Here het vir Dawid ‘n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas. 12As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.” 13Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: 14“Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit. 15Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig; 16haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig. 17Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitgroei; Ek het ‘n lamp gereedgemaak vir my gesalfde. 18Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.”
Met hierdie Psalm roep die pelgrims die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering. Hulle dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry (vers 1-9). Dawid wil eintlik op geen manier rus nie, totdat hy vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob. In dieselfde gees buig die pelgrims dan in aanbidding voor die Here neer, terwyl die priesters hulle in ‘n feestelike liturgie begelei. As getroue volgelinge van die Here juig hulle saam voor Hom in eerbied vir die plek wat Hy by hulle inneem. Daarmee vereenselwig hulle hulle natuurlik ook met dié passie van Dawid vir God se teenwoordigheid op aarde. En soos hulle kan ons dié gebed bid vir ons eie belewenis van God se teenwoordigheid in ons geloofsgemeenskappe waar dit ook al mag wees.
Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is. Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen 35:19). Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel. Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam 1:1). Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (Mig 5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek (Matt 2:6). Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim. Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam 6:21; 1 Sam 7:1). Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam 6:1 vv; 1 Kron 13:6 vv).
Hulle tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom (vers 10-18). Dit wil lyk asof die ark ook deel van ‘n feesliturgie was waarin God se voortdurende teenwoordigheid in die stad wat Hy uitgekies het, gevier is (vgl ook Ps 24). Salomo gebruik bv dié deel van die Psalm amper woordeliks in sy gebed met die inwyding van die tempel (2 Kron 6:41-42). Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie. Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias. Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word. Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings en die seëninge wat daaraan verbind is. Dié seëninge sluit vier beloftes in:
- God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – dws sy teenwoordigheid;
- God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
- God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
- God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.
Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld. En God se beloftes van sy teenwoordigheid, sy voorsiening, sy oorwinning en leiers vir onsself toe te eien.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-132-here-laat-u-gesalfde-se-kroon-skitter/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar