Skip to main content

Psalm 14 – God is met die regverdige geslag

5 September

Psalm 14 – God is met die regverdige geslag

1Vir die musiekleier. Van Dawid. Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie. 2Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek. 3Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 4Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos ‘n mens brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie. 5Dan oorweldig skrik hulle, want God is met die regverdige geslag. 6Julle wil die planne van die magtelose bespotlik maak, maar die Here is sy skuilplek. 7Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees.

Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (magteloos) – vers 5. Dis ‘n kontras tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges. Tussen mense wat niks van God begryp nie, en die wat wel iets van God begryp. En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Om dwaas te wees, is ook nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief. Dit is Hy wat hulle as dwaas beskou. Uit ons hoek kan iemand ryk en suksesvol en magtig voorkom. Uit God se hoek kan so iemand arm, ‘n mislukking en swak voorkom. ‘n Dwaas is dus iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei. ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei. Dwases se lewens word daarom gekenmerk deur liefdeloosheid – pleeg onreg, eet ander op asof hulle brood is! Dwases kan die wyses ook nie uitstaan nie, en vat hulle op allerhande maniere aan. Wyses boet dus onder die aanslag van dwases, net omdat die dwases nie die geloof en vertroue in God, wat wyses se lewens kenmerk, kan vat nie!

Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op sy redding en lotsverandering. Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle reg kom (dit loop Psalm 15 en 24 vooruit wat hieroor verder nadink).

Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie. Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit. Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Romeine 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig! Die Psalmis se nadenke oor die mens het hom aanvanklik dus na ‘n klaaglied gelei, maar dit mond uiteindelik uit in ‘n bede tot God om verlos te word (van dwase en om self nie dwaas te wees nie), en die verwagting om God se aktiewe teenwoordigheid in sy of haar gemeenskap – “die regverdige geslag of generasie” – te ervaar. Dws God is teenwoordig in die gemeenskap van die wat Hom dien, as ‘n beskerming teen die wat teen hulle planne beraam. Dit is waarom Craigie voorstel dat ons die Psalm moet lees as ons geestelike pelgrimstog, waar onsself van dwaasheid tot begrip en liefde beweeg word. Gebruik daarom vandag die Psalm om te reflekteer oor jou eie geestelike pelgrimstog met God.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-14-net-n-dwaas-se-daar-is-geen-god-nie/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda