Skip to main content

2 Petrus 1:10-15 – Geloofsgroei verseker dat jy nie sal struikel nie

1 September

2 Petrus 1:10-15 – Geloofsgroei verseker dat jy nie sal struikel nie

10Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. 11Ja, so sal toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. 12Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. 13Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. 15Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep.

Petrus het nou al twee belangrike sake in sy brief beklemtoon wat die grondslag lê vir sy appèl in hierdie perikoop. Die eerste is dat hulle: “dieselfde kosbare geloof as ons verkry het… deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.” Dit het hulle: “alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe.” (2 Pet 1:2-3) God het hulle dus alles gegee wat hulle nodig het vir hierdie lewe. Die tweede is dat dié groot gawes van God hulle daarom moet aanspoor en inspireer om hulle geloof te verryk met ‘n sewetal geestelike en etiese aspekte: deug, insig, selfbeheersing, volharding, godvresendheid, broederliefde en liefde vir alle mense. Hulle moet dus alles gee om God se werk in hulle tot sy volle werking te laat kom (2 Pet 1:5-9).

In hierdie perikoop sien ons dat Petrus oortuig is dat hulle eintlik reeds dié dinge nie net begryp nie, maar uitlewe. Maar, hy wil hulle herinner daaraan sodat hy kan seker wees dat hulle regtig vas kan bly staan in die lig van die uitdagings wat deur die dwaalleraars op hulle wag. Hy weet dat hy nie meer lank oor het om te lewe nie, soos die Here Jesus aan hom bekend gemaak het. Daarom sy oproep en ook ander inisiatiewe wat hy onderneem om seker te maak dat hulle nie dié dinge sal vergeet as hy nie meer daar is nie – onder andere die feit dat hy met Markus Johannes sy lewe saam met Jesus gedeel het wat tot die skryf van die Evangelie van Markus aanleiding gegee het.

Dit is waarom Petrus die belofte aan hulle onderstreep dat as hulle hierdie sewetal dinge deel van hulle lewe maak – as hulle geloof op dié manier verryk word – hulle vir seker nooit sal struikel nie. Dit is immers die manier waarop hulle toegang tot die ewige koninkryk van die Here sal kry. Dié belofte het die krag om hulle stewig in “die bestaande waarheid” gevestig te hou. En let op, dit is nie ‘n nuwe waarheid nie, maar die waarheid wat reeds aan hulle oorgedra is, die waarheid wat die apostels van die Here Jesus aan hulle verkondig het. Dit is die vashou aan daardie waarheid wat die deure van die hemelse koninkryk vir hulle sal laat oopswaai in heerlikheid.

Lees meer (preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/faithmustrise-2-petrus-11-15/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar