Jeremia 18:1-11 – God, die Pottebakker, is volkome in beheer van ons, die klei
Jeremia 18:1-11 – God, die Pottebakker, is volkome in beheer van ons, die klei
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” 3Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. 4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe ‘n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak. 5Toe het die woord van die Here tot my gekom: 6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. 7Een keer dreig Ek om ‘n nasie en ‘n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. 8Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 9‘n Ander keer sê Ek oor ‘n nasie en ‘n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. 10Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen. 11Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’ 12Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ”
Die Here beveel Jeremia om te gaan kyk hoe ‘n pottebakker werk met klei, want die Here gaan sy boodskap aan Jeremia en die volk deur hierdie “visuele les” bring. Pottebakkery was ‘n bekende aktiwiteit in die Ou Nabye Ooste, maar die boodskap hiervan was egter nie net gemik op Jeremia se gehoor nie, maar op alle mense van alle tye, want die werkwoord waarvan die woord “pottebakker” (yôṣēr) afgelei word, is ook die werkwoord wat vir God se “vorming” van die mens op verskillende plekke in die OT gebruik word (vgl Gen 2:7; Ps 139:16; Jer 1:5).
In die grondteks word die “pottebakkerswiel” as “die twee klippe” beskryf. Hierdie twee sirkelvormige klippe is met ‘n vertikale as aan mekaar verbind waarvan die onderste plat klip dan deur die voete van die pottebakker gespin is, en die klei op die boonste plat klip deur sy hande gevorm is. Wat Jeremia toe waarneem, is dat die pottebakker volkome in beheer is van die klei. In die proses sou daar gereeld een of ander gebrek in ontwerp, grootte of struktuur ontstaan. Al wat die pottebakker dan doen is om die keli in ‘n ander geskikte vorm te druk. Wat Jeremia veral beïndruk het was die beheer wat die pottebakker oor die klei uitgeoefen het. Hy het die materiaal geneem en daarmee gewerk totdat dit aan sy spesifikasies voldoen het. Net so, kom die woord van die Here daarom na Jeremia, het Hy absolute beheer oor sy volk, en sal Hy hulle lot volgens sy voornemens bepaal (vgl Rom 9 waar Paulus by hierdie beeldspraak aansluit).
Jeremia onderstreep daarmee aan ons almal die soewereiniteit van God oor die ganse mensdom. Nie dat Hy wispelturig soos die ander gode is nie, want die beginsels waarvolgens Hy werk, is algemeen bekend. Waar sy geopenbaarde wil gedwarsboom word – soos wanneer die klei nie meegee in die rigting wat die pottebakker dit vorm nie – laat Hy die strawwe van die verbond in werking kom (Deut 27-28). Wanneer sy geopenbaarde wil gehoorsaam word, of ongehoorsames tot bekering kom en Hom gehoorsaam – soos wanneer die klei meegee in die rigting wat die pottebakker dit vorm – laat Hy die seën van die verbond in werking kom (Deut 28).
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-18-maak-julle-lewe-en-julle-dade-reg/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.