Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdom
Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdom
1Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. 2Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ 3Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. 4Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. 5Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ 6En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ 7Hierna het hy vir ‘n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ 8Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. 9Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot ‘n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ 10Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. 11As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? 12En as julle nie betroubaar was met ‘n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? 13Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Jesus gebruik hier in vers 1-8 regtig ’n baie vreemde gelykenis. Hy vertel van die oneerlike bestuurder wat nie net aanvanklik sy baas se goed verkwis het nie, maar met sy afdanking verdere toegewings maak aan mense wat sy baas geld skuld ter wille van die voordeel wat hy daaruit sal kan kry. Dit kon hy doen, omdat die sosiale netwerk waarin Jode geleef het, gewerk het met die beginsel van wederkerigheid. Hy het dus verseker dat hulle nou by hom in skuld was. Sy (afsienbare) toekoms was dus verseker. Sy baas gee daarom toe dat hy slim opgetree het met die inisiatief wat hy geneem het, maar lewer nie kommentaar op sy oneerlikheid nie. Dit is nie iets wat ooit goedgepraat kan word nie. Jesus doen dit dus ook nie.
Wat Jesus met die gelykenis wys is dat Hy geen illusies gehad het oor hoe dit baie keer in die (besigheids)wêreld gaan nie. (Besigheids)mense – dit is nou dié wat nie aan God gehoorsaam is en volgens sy standaarde lewe nie – kry dit reg om te oorleef in ’n vyandige omgewing deur alles moontlik te gebruik tot hulle eie voordeel, selfs deur oneerlik te wees. Sonder om dit natuurlik goed te keur, weet Jesus hoe dit werk, en volgens watter reëls daar opgetree word (of juis waarsonder daar opgetree word).
Die betekenis van die gelykenis word dan in vers 9-13 uitgespel om ‘n baie belangrike belofte aan ons te onderstreep. Jesus tref eers ’n vergelyking tussen die mense van die wêreld en die mense van die lig (Christene). Die punt wat Hy maak, is dat mense van die lig moet leer om met dieselfde inisiatief en voorsorg te lewe as wêreldlinge. Maar, nie ter wille van hulleself en hulle eie oorlewing nie, maar ter wille van die koninkryk en die ewige lewe. Dit is dan dat ‘n mens die belofte in die teks vir jouself kan toeëien: God beloon dié wat betroubaar is met die aardse rykdom – wat dit gebruik om die koninkryk te bou – met die ware rykdom – rykdom in God in hierdie lewe, en rykdom in God in die ewige lewe.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-161-1737-dissipels-leef-met-integriteit-en-genade/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Mike
Hi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, “ewige tente”.
Chris van Wyk
Hi Mike, “ewige tente” of “ewige woonplekke” in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik ‘n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit ‘n “ewige gebou” of “ewige huis” van God. Presies hoe dit gaan werk, word nie uitgespel nie. Net dat dit by God sal wees, dat ons in God se teenwoordigheid sal kan bestaan, en dat vir altyd sal wees.