2 Petrus 3:1-18 – Ons verwag nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waar geregtigheid woon
2 Petrus 3:1-18 – Ons verwag nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waar geregtigheid woon
1Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker, 2sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle apostels deurgegee het. 3Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag – mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig, 4en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” 5Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook ‘n aarde, wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom het. 6En deur hierdie dinge is die antieke wêreld deur water oorstroom, en het dit vergaan, 7maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses. 8Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 10Die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word. 11As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat ‘n heilige lewe lei en godvresend leef, 12wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. 13Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, waar geregtigheid woon. 14Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. 15En beskou die lankmoedigheid van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. 17Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. 18Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.
Die vorige hoofstuk het nou al reeds uitvoerig gehandel oor die gevare van die leer en lewe van die dwaalleraars. Hulle kan uitgeken word aan hulle verloëning van die Here Jesus Christus, hulle losbandigheid en onsedelikheid, hulle gierigheid en hebsug, asook hulle gebrek aan respek vir die gesag van God se Woord. In hierdie hoofstuk fokus Petrus op ‘n verdere aspek van hulle leer en lewe – hulle lering oor die wederkoms van die Here Jesus Christus en hulle lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap daarteen waarsku, hulle nie net help om reg daaroor te dink nie aan die hand van die geskrifte van die OT profete en die prediking van die NT apostels nie, maar hulle ook motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan.
Die klem op die Skrif en die prediking in dié laaste hoofstuk van Petrus val mens op. Die klem op die gesag van die mense wat daaragter sit, die profete van die OT en die apostels van die NT, val ook op. Dít is immers waarom ons vandag ‘n kanon het wat saam met die OT ook die NT insluit, die evangelies, briewe en geskrifte van die apostels, want hulle skriftelike nalatenskap is versamel en het die outentieke uitdrukking van God se Woord in mensetaal vir ons geword. Daarom is die Woord van God só belangrik, die skriftuurlike neerslag van sy woorde aan ons. Dít is die bron wat ons help om te onderskei tussen waarheid en dwaling, wat ons help om ‘n lewe te bou op die genade en kennis van die Here Jesus Christus. Daaraan moet ons vasklou sodat ons nie weggeskeur word en ons geloof in God verloor
Petrus vervolg dan om die belofte van hoop te onderstreep, dié hoop wat die gelowiges moet vertroetel, en waaraan hulle moet vashou. Die hemel en aarde sal van gedaante verander om ‘n plek te wees “waar geregtigheid woon.” Dit is waarop hulle hulle gedagtes moet rig. Dit sluit in dat hulle ernstig daarna moet streef om in vrede met God te lewe (NIV se vertaling is “at peace with Him“). Dit sluit ook in dat hulle hulle: “vlekkeloos en onberispelik” in leer en lewe sal gedra, sodat hulle saam met Hom dié nuwe hemel en aarde van geregtigheid kan betree. God se geduld is dus ‘n geleentheid tot verlossing, ‘n aanbod aan alle mense, maar veral aan die geloofsgemeenskap. Petrus som sy brief op met die oproep dat hulle dus nie moet toelaat dat hulle meegesleur word deur die dwaalleraars se leringe nie. Hy het hulle in sy brief goeie raad gegee waarmee hulle die dwaasheid van die dwaalleraars kan troef. Daaraan moet hulle vasklou sodat hulle nie meegesleur word en hulle eie standvastigheid verloor nie. Hulle moet sorg dat hulle aanhou groei in die genade en kennis van die Here en Verlosser, Jesus Christus.
Lees meer: https://bybelskool.com/2-petrus-3-sorg-dat-julle-aanhou-groei-in-die-genade-en-kennis-van-jesus-christus/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar