1 Timoteus 2:1-7 – God wil hê dat alle mense verlos word deur Christus Jesus
1 Timoteus 2:1-7 – God wil hê dat alle mense verlos word deur Christus Jesus
1Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, 2vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. 3Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. 5Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, 6wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. 7Hiervoor is ek aangestel as prediker en apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.
Gebed neem die eerste plek in die geestelike lewe in. Gebed kom voor struktuur. Gebed kom voor aksie. Gebed kom voor enigiets anders in die geestelike lewe van ‘n gemeente en ‘n gelowige. Hierdie gebed is egter nie net vir die persoonlike behoeftes van jou eie kring van mense nie, of selfs vir die gemeente nie, maar in die eerste plek vir alle mense. Die kring word nie net in jou gebed getrek om dié wat naby jou is in te sluit nie, maar juis wyer en wyer totdat dit regtig vir alle mense is, selfs mense wat jy nie persoonlik ken nie. Want, God wil hê dat alle mense tot kennis van die waarheid sal kom, dié waarheid wat daar in die enigste Middelaar tussen God en mens is, die Here Jesus Christus. Hoewel regeerders in die tweede plek uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome vroomheid aan God en in alle waardigheid, bly die fokus alle mense. Op grond van die belofte van verlossing wat aan alle mense gebied word.
Dit is ons doel as gelowiges. Ons tree in vir en getuig teenoor alle mense sodat hulle verlos kan word en tot kennis van die waarheid kan kom. God wil hê dat die goeie nuus van die evangelie – dat Jesus Christus ons aan God voorstel en ons aan Hom verbind – dat dié boodskap aan die heidennasies gebring moet word. Almal moet weet dat Jesus Christus die Middelaar tussen God en ons is. En ons doen dit met smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede:
- Smekinge is diep versugtinge oor dinge en situasies wat verkeerd is, bv dinge in ons land, dinge in die wêreld, vir die onderwys, vir die ekonomie, vir harmonie, vir geregtigheid. Dit is soos om te droom vir ‘n ander werklikheid, vir ‘n nuwe wêreld.
- Gebede is spesifieke versoeke wat jy op die Here se hart lê, beloftes waaraan jy God herinner, uitkomste wat jy graag wil hê vir mense om die pad met die Here te begin loop. Dit behels natuurlik intieme kennis van wat aangaan en ‘n betrokkenheid by die mense vir wie jy bid.
- Voorbidding is nog meer spesifiek dinge waarvoor jy voortdurend intree, amper soos met ‘n petisie – en daarom is dit so belangrik om dit ook saam met ander gelowiges te doen – waarin jy vra dat die Here omstandighede só sal verander dat mense die waarheid kan insien en hulle lewens in lyn kan bring met God se Woord.
- En laastens dankgebede vir wanneer die Here antwoord en gebede verhoor. Dit moet net so belangrik wees in jou gebedslewe, want dit veronderstel dat jy bid en kyk, vra en aandag gee aan wat gebeur, pleit en betrokke raak by ‘n moontlike antwoord op jou gebede.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-21-15-n-lewe-in-gebed-deur-mans-en-vrouens/