Psalm 79 – Roep die Here aan wat verlos ter wille van die eer van sy Naam
Die Psalm vir vandag is interessant genoeg eintlik ’n samevoeging van frase uit ander bekende Palms. Dit is asof die skrywer (deel van die groep van Asaf) hulle gebed om redding saamgestel het uit hulle geheue, uit dele van ander Psalms wat vir hulle betekenis gehad het: vgl bv vers 4 se beskrywing van die vyande met Ps 44:15; ook vers 9 se pleidooi op grond van God se naam met die soortgelyke frase in die bekende Ps 23:3 en verskeie ander plekke. Tate (Word kommentaar) noem amper 30 verwysings wat met Psalm 79 verbind kan word. Dit is net vers 3-4 en vers 13 wat waarskynlik eie formulerings is. Psalm 79 is dus ’n soort verpersoonliking van Psalmfrases om ’n eie gebed tot God te bid, in ’n ander situasie as dié waarin die Psalms in die eerste plek geskryf is. Dit is amper soos ons ’n spontane gebed sou bid waarin ons sekere Bybelfrases wat vir ons van betekenis is, sal gebruik.
Psalm 79 – Roep die Here aan wat verlos ter wille van die eer van sy Naam
1‘n Psalm. Van Asaf. O God, nasies het in u eiendom ingegaan, hulle het u heilige tempel verontreinig; hulle het Jerusalem tot puinhope gemaak. 2Hulle het die lyke van u diensknegte vir die voëls van die hemel as kos gegee, die vleis van u getroue volgelinge vir die wilde diere van die aarde. 3Hulle het hulle bloed soos water uitgestort om Jerusalem, en daar was niemand wat hulle begrawe het nie. 4Ons het die bespotting van ons bure geword, die hoon en spot van hulle rondom ons. 5Hoe lank nog, Here? Gaan U vir ewig toornig bly; sal u heilige jaloesie soos ‘n vuur bly brand? 6Stort u gramskap uit oor die nasies wat U nie ken nie, oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie; 7want hulle het Jakob verteer, sy weiding verwoes. 8Moet tog nie ons vroeëre sondeskuld teen ons hou nie; laat u ontferming ons gou bereik, want ons het baie min geword. 9Help ons, o God wat ons verlos, ter wille van die eer van u Naam. Red ons en bedek ons sondes, ter wille van u Naam. 10Waarom moet die nasies sê: “Waar is julle God?” Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is. 11Laat die gesug van gevangenes U bereik; laat hulle, gedoem tot die dood, deur u groot mag gespaar bly. 12Vergeld ons bure sewevoudig waar dit hulle erg raak vir die bespotting waarmee hulle U bespot het, my Heer! 13Ons is u volk en die skape van u weiding; ons sal U vir altyd prys. Van geslag tot geslag sal ons vertel van die lof wat U toekom.
Psalm 79 bring die haglike toestand van die volk wat agtergebly het in die land, na die meeste van hulle in ballingskap weggevoer is, onder God se aandag. Die tempel is ontheilig, die stad is vernietig en baie min van hulle het oorgebly. Daarom pleit Asaf by God dat Hy hulle situasie sal omkeer. Op roerende wyse word die effek van die beleg en verwoesting van Jerusalem en die tempel beskryf. Lyke het oral rondgelê en is deur voëls en wilde diere gevreet. Die bloed het rondom Jerusalem gevloei soos water. Niemand is begrawe nie, wat die toppunt van skande vir ’n Oosterling was. Dit het hulle ’n bespotting gemaak in die oë van almal rondom hulle. Hoe lank sal dit nog aanhou Here? Is dit vir altyd klaar met ons? Sal u woede vir ewig teen ons bly brand?
Die Psalmis bring Psalm 1 se paradigmatiese stelling dat die Here die regverdiges seën en die goddeloses soos kaf laat vergaan voor die Here. Hy bid dat dít nou hier sal gebeur, dít wat Psalm 1 beskrywe: dat die heidene wat nie met God in ’n verhouding is nie, wat Hom nie ken nie, Hom nie dien nie, dit sal ontgeld; en dat die Here Hom oor die volk van God sal ontferm en hulle lot sal verander. Let op dat sy pleidooi gekoppel is aan ’n gebed om vergifnis vir hulle sonde en gegrond is op die eer van God se Naam wat in diskrediet gebring word weens die haglike situasie van die volk in die land. Verlos ons ter wille van die eer van u Naam!
Daarmee het hierdie Psalm ‘n gebed om verlossing geword geword vir enigiemand wat ’n uitmergelende verlies ervaar het en smag na uitkoms en ommekeer. Jy kan dié Psalm as basis vir jou eie gebed tot God gebruik. En jou smeking voor God bring op grond van die belofte dat Hy sy Naam eer. Dit beteken dat jy jou eie nood aan die hand van dié Psalm kan beskryf in jou gebed, jou skuld aan die toedrag van sake bely (indien dit in jou geval só is), en ’n beroep doen op die Here se “onverdiende” vergifnis en vra vir ’n lotsverandering. Ter wille van sy Naam wat Hy altyd sal eer. Jy kan dit ook namens ander doen.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-79-ontferm-u-tog-gou-oor-ons-want-ons-kragte-is-gedaan/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar