Spreuke 16:1-9 – Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou
Spreuke 16:1-9 – Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou
1‘n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die Here. 2Al die weë van ‘n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die Here. 3Vertrou wat jy doen aan die Here toe, dan sal jou planne standhou. 4Die Here het sy doel met alles; selfs ‘n goddelose bestaan vir die dag van onheil. 5Afstootlik vir die Here is elkeen met ‘n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. 6Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die Here vermy ‘n mens die kwaad. 7Wanneer die Here tevrede is met ‘n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 8‘n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as ‘n groot inkomste verkry deur onreg. 9Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe.
Die vorm van die spreuke van Salomo verander in hoofstuk 16 na sinteses eerder as antitese soos dit die geval was in hoofstuk 10-15. Dit sal die geval wees tot aan die einde van hierdie eerste bundel van sy spreuke in hoofstuk 22. ‘n Mens kan die hoofstuk in drie deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat: 1) Die mens wik, maar God beskik – Spreuke 16:1-9; 2) Die ideale koning – Spreuke 16:10-15; 3) Wysheid is beter as welvaart – Spreuke 16:16-33. Ons kyk net na die eerste nege verse.
Vers 1. Dit lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die 1983-vertaling dit ook het. Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. God se woorde maak nog meer saak. Want, God se woorde is lotsbepalend. Hy doen wat Hy sê. Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in Spreuke 1:1-7, en Spreuke 3:1-12 aangevoer is. Anders kan dit ‘n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.
Vers 2. God kyk na gesindhede. Peterson vertaal interessant genoeg: “God probes for what is good” wat insiggewend is.
Vers 3. Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk. Dit is sy belofte. Die NET Bible vertaal: “Commit your works to the LORD, and your plans will be established.” Dit beteken dat ‘n mens jou laste op die Here sal “afrol” (dit is wat die Hebreeuse woord beteken wat met “commit” vertaal word), sodat Hy die bevestiging daarvan sal “afteken”, dws goedkeur (vgl Ps 37:5; 55:22).
Vers 4-5. Die spreuk werk met die belofte dat God in beheer is van die eindbestemming en doel van alles. Onthou ook dat God nie van arrogansie en verwaandheid hou nie, mense wat voorgee dat hulle alles weet, terwyl hulle daarmee op God se terrein oortree. Uit daardie hoek maak die twee opmerkings oor straf vir die goddelose en die verwaande sin, omdat hulle hulself aanmatig om die god van hulle eie lewe te word, en dit hulle buite die ruimte van God se sorg en seën plaas. Hartseer en hard, maar onvermydelik.
Vers 6. Let op die aanbod van versoening – klink heel Nuwe-Testamenties! – as ‘n keuse vir ontsag vir die Here en ‘n lewe van liefde en trou in die gemeenskap gemaak word.
Vers 7. Dit ontsluit God se seën in jou lewe wat selfs jou vyande in vrede met jou laat lewe.
Vers 8. Salomo se gevolgtrekking in hierdie perikoop is dat só ‘n lewe – ’n regte lewe – beter is as baie inkomste en die verkeerde verhouding met God en die gemeenskap.
Vers 9. En dan sluit Salomo af met die herhaling van vers 1 dat ons planne moet inpas in wat God wil. Dan kan ons verwag om sukses daarmee te behaal. Vergelyk ook vers 33 wat die hoofstuk met ‘n soortgelyke gedagte afsluit: “Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.”
Geen wonder dat hierdie 9 verse aan die grondslag lê van vele idiome wat deur die eeue hieroor geformuleer is. Uit Eritrea kom dié een: “Man begins; God completes” (“Proverbs”, in Africa Bible Commentary). ‘n Engelse idioom sê: “Man proposes; God disposes.” soos in vele kommentare nagevolg. In Afrikaans is daar: “Die mens wik, maar God beskik.”
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-161-33-die-mens-wik-maar-god-beskik/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar