Jeremia 17:1-8 – Geseënd is hy wat op die Here vertrou – hy hou nie op om vrugte te dra nie
Die RCL teks vir vandag is Jeremia 8:18-9:1. Jy kan my bydrae daaroor hier lees: https://bybelskool.com/jeremia-84-92-niemand-het-berou-oor-hul-sonde-nie/. Ek gaan egter eerder die belofte in Jeremia 17:1-8 hanteer.
Jeremia 17:1-8 – Geseënd is hy wat op die Here vertrou – hy hou nie op om vrugte te dra nie
1“Die sonde van Juda is opgeteken met ‘n ysterpen, met ‘n diamantpunt; dit is ingegraveer op die tafels van hulle harte en op die horings van hulle altare. 2Net soos hulle aan hulle kinders dink, dink hulle aan hulle altare en asjeras by skaduryke bome op die hoë heuwels. 3My berg in die oop veld, jou rykdom, al jou skatte, sal Ek as buit gee – jou offerhoogtes in ruil vir die sonde in jou hele grondgebied. 4Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis wat Ek vir jou gegee het. Ek sal jou die slaaf van jou vyande maak in ‘n land wat jy nie ken nie; want ‘n vuur is aangesteek in my toorn – vir altyd sal dit brand.”
5So sê die Here: “Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg. 6Hy sal wees soos ‘n jenewerstruik in die Araba; hy sal dit nie opmerk wanneer die goeie kom nie. Hy sal tuis wees op dor plekke in die woestyn, op brak grond waar niemand woon nie.
7Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. 8Hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ‘n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”
Dit is ironies dat in plaas van God se wet op hulle harte, die sonde van Juda ingegraveer is daarop. Netso is die horings van hulle altare nie meer die plek waar versoening vir hulle sondes gedoen word nie, maar waarop juis hulle sonde ingegrif is. En in die geheue van hulle kinders is die afgodsdiens afgeëts, en nie die stories van verlossing, bewaring en toewyding uit die verlede nie. Daarom laat die Here hulle in sy toorn verdryf uit hulle land en gee dit aan ander. “Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis.” Die geestelike bankrotskap van Juda maak hulle ook polities en ekonomies bankrot. Geen wonder dat die nuwe verbond van Jeremia 31:31-34 juis dié toedrag van sake sal omkeer, en dat God se wet, sy woorde, op hulle harte en in hulle gedagtes geskrywe sal word. Dit sou hulle verhouding met die land ook herstel (Jer 32).
Die Here vervolg in vers 5 om ’n vloek te plaas op mense wat nie net ‘n gebrek aan ‘n hartsverbintenis aan Hom het nie – hulle harte is van Hom af weggedraai – maar aktief alliansies met mense soek eerder as met God. Hulle lewe sal so onherbergsaam raak soos die Araba, die woestynstrook aan die suide van die Dooie See.
Daarteenoor sê die Here in ’n saligspreking: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou…” Hulle is soos bome wat by water geplant is en voorspoedig en vrugbaar is reg deur die jaar, ’n duidelike verwysing na die beskrywing van die regverdiges en die goddeloses van Psalm 1. Die verbintenis van ons hart aan God het deur sy deurgronding en toetsing daarvan ’n louterende en suiwerende krag. Daarom moet ’n mens nie te gou ontsteld raak oor dinge wat verkeerd loop en jou geduld en onderskeiding toets nie. Daardeur is God besig met jou hart!
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-17-ek-die-here-deurgrond-en-toets-hart-en-verstand/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar