Skip to main content

Jeremia 8:4-9:2 – Niemand het berou oor hul sonde nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie gesprek van die Here met Jeremia gaan in twee rondtes voort:

  • 8:3-16 – In geen onduidelike taal word die boodskap in die eerste plek aan die volk in prosaïese taal verder uitgespel in 8:4-13 waarop Jeremia in ontsetting reageer namens die volk in 8:14-16.
  • 8:17-9:2 – Dan verander die styl na poësie as ’n verdere gesprek tussen God en Jeremia waarin die Here sy oordeelsaankondiging herhaal met die metafoor van giftige adders wat Hy onder hulle instuur wat niemand kan besweer nie, 8:17, en Jeremia wat daarop met nog dieper smart, ontsteltenis, angs en trane reageer en wens dat hy liewer die einde gespaar sal word, 8:18-9:2.

8:4-16 – Hulle weier om na My toe terug te draai

Die Here gee aan Jeremia opdrag om met die volk in gesprek te tree oor hulle gebrek aan berou oor hulle sonde.  Die Here verstaan nie hoekom hulle nie hulle fout kan agterkom en erken dat hulle gefouteer het nie.  Let op hoe die Here sê: “Ek het goed geluister” en agtergekom dat niemand van hulle berou het nie.  Hulle vermy eerder die Here soos ’n steeks perd wat uit ’n konfliksituasie wegstorm.

Wat die Here verder agterkom van die volk, is dat hulle anders is as die trekvoëls van die natuur – trekooievaar, tortelduif, swaeltjie en kraanvoël.  Hierdie voëls kan hulle pad terugvind op gesette tye, belangrik, omdat hulle nie die wetmatighede van die natuur verander nie.  Die volk kry dit egter nie reg om hulle pad terug na die Here te vind nie, omdat hulle die wet vervals om hulle te pas wat dan beteken dat dié riglyne hulle nie meer na die Here tot lei nie.  Daarom kan hulle die Here van die wet nie meer vind nie.  Hulle het die riglyne vir die lewe verander.  En dit beteken dat hulle daarom nie meer uit kan kom by dié Een wat die lewe gee nie.

Dit beteken dat die volk aan hulle eie lot oorgelaat gaan word en tot ’n val sal kom.  Hulle gruwelike dinge sal aan die lig kom en dit sal lei tot ’n totale vernietiging.

Daarop antwoord Jeremia met ontsetting en praat die volk “slegte moed” in, want die oordeel is verseker: “Ons wag dat alles moet regkom, maar dit gaan nie goed nie, ons wag op ’n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik.”  Van Dan in die noorde af is die vyand in aantog en alles sal deur hulle vernietig word.

8:17-9:2 – Is daar nie balsem in Gilead nie?

Die Here sluit aan by Jeremia wat praat van die “gifwater” wat die Here vir hulle gee om te drink, en brei dié metafoor uit deur te sê dat Hy “giftige slange” onder hulle sal instuur om hulle te pik.  Dié adders sal nie by wyse van spreke deur slangbesweerders afgeweer kan word nie.

Daarop reageer Jeremia met ’n hewige ontsteltenis omdat hy in sy geestesoog alreeds die volk hoor roep uit ’n ver land en vra of die Here dan nie meer in Sion is nie, die plek waar die tempel van God se teenwoordigheid gebou is. Hy weet hulle vra dit egter net omdat hulle so blind is vir die feit dat dit hulle eie skuld is dat die Here hulle verwerp as gevolg van hulle afgodediens, “hulle vreemde nikswerd gode”.  Daarom besef hy die volk het die oes gemis, die somer is verby, hulle het die redding wat God hulle aangebied het, gemis.

Die volk se wonde is egter ook Jeremia se wonde.  Hy is soos hulle deur angs oorweldig, gedompel in rou. Hy kan net nie aanvaar dat die volk nie geluister het nie.  “Is daar nie balsem in Gilead nie?  Is daar nie ’n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?”  Die balsem in Gilead (oos van die Jordaan, vandag Jordanië) verwys na ’n gom van die balsem boom (Commiphora gileadensis – moontlik aangeplant deur Salomo ná die koningin van Skeba dit vir hom as geskenk saamgebring het – 1 Kon. 10:10) wat nie net vir olies en parfuum gebruik is nie, maar ook as medisyne.

Jeremia is ontsteld dat die genesing wat God aangebied het, nie ontvanklik was vir die volk nie, en daarom op niks uitgeloop het nie.  Jeremia sal nog twee keer na die balsem verwys in sy oordele oor Egipte en Babel (Jer. 46:11; 51:8).  Ook Esegiël verwys hierna (Eseg. 27:17).

Interessant genoeg het dié konsep van die balsem van Gilead weerklank gevind in ’n African American spiritual wat dit op die verlossing in Jesus van toepassing gemaak het.  Hier is een weergawe van dié besondere lied:

There is a balm in Gilead,
To make the wounded whole;
There is a balm in Gilead
 To heal the sin-sick soul.

Some times I feel discouraged,
And think my work’s in vain,
But then the Holy Spirit
Revives my hope again.

There is a balm in Gilead,
To make the wounded whole;
There is a balm in Gilead,
To heal the sin-sick soul.

If you can preach like Peter,
If you can pray like Paul,
Go home and tell your neighbour.
“He died to save us all.”

There is a balm in Gilead,
To make the wounded whole;
There is a balm in Gilead,
To heal the sin-sick soul.

Jeremia sluit hierdie deel van sy gesprek met die Here af met twee treffende metafore.

  • Hy wens aan die eenkant sy kop was vol water en sy oë soos ’n fontein dat hy die hele dag en nag kon huil oor sy gesneuwelde volksgenote.
  • Hy wens aan die ander kant dat hy die woestyn kon intrek en in ’n herberg kon gaan bly ver van die slagveld van die egbreuk en ontrou van sy mense.

Boodskap

Wat my tref vandag is die feit dat die Here weet dat daar tye van afvalligheid kan kom, gegewe die menslike natuur.  Maar, dat dit vir Hom baie swaar is om agter te kom dat mense dan nie die pad na Hom kan terugvind nie.  Anders as met die trekvoëls wat hulle pad terug kan vind al vlieg hulle baie ver weg van hulle oorsprong af, maak afvalligheid mense blind vir die bron van lewe, vir God se riglyne wat vir hulle die pad terug na Hom uitspel.  Dan is daar eintlik geen salf meer aan te smeer nie, en verg die situasie drastiese stappe.  Die hoop vir die toekoms lê dan anderkant die oordeel.

Dit tref my ook dat daar darem een mens is wat treur oor sy volksgenote, Jeremia.  Soos Paulus dit ook doen vir sy volksgenote in Romeine 9.  En dit moedig my aan om nie soseer kritiek te lewer teen die afvalligheid van mense in ons eie land nie, maar daaroor te treur, die Here vir sy ingrype te vra en my deel te doen deur van God se pad te getuig.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!