Skip to main content

Psalm 91 – Hy wat die Allerhoogste sy woning maak, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige

19 September

Psalm 91 – Hy wat die Allerhoogste sy woning maak, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige

1Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. 2Ek sê vir die Here: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” 3Ja, Hy is die Een wat jou red uit die net van die voëlvanger, van die dodelike pessiekte. 4Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ‘n Skild en ‘n skans is sy trou. 5Jy sal nie bang wees vir die verskrikking van die nag, vir ‘n pyl wat oordag vlieg nie, 6vir ‘n pessiekte wat in die donker rondloop, vir die epidemie wat helder oordag verwoes nie. 7Daar kan duisend langs jou val, en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie. 8Jy sal maar net toekyk – die vergelding van goddeloses sal jy sien. 9Ja, U, Here, is my skuilplek. Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: 10Onheil sal jou nie oorval nie en ‘n plaag sal nie naby jou tent kom nie, 11want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. 12Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen ‘n klip stamp nie. 13Op leeus en horingslange sal jy trap, jong leeus en slange sal jy vertrap.

14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. 15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. 16Met ‘n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”

Dit is merkwaardig dat dit lyk asof dié Psalm aan ’n individu gerig word om die Here direk aan te spreek as die Een wat beskut en beskerm, moontlik in ’n tyd van gevaar of beproewing. Die raad wat die Psalm gee, is om God se beskutting en beskerming as lewensmotto te bely, daaraan vas te gryp en op God te vertrou, maar nie saak wat die uitkoms van die lewe is nie. Die belydenis dat God dáár is vir dié wat Hom vertrou, is ’n fundamentele vertrekpunt vir die lewe van geloof. Dit is in die “skaduwee van die Almagtige” waar ’n mens veilig kan oornag, soos vers 1b letterlik sê (1983 vertaling: “beskerming van die Almagtige”), iets wat baie keer metafories van die konings van daardie tyd gesê is, dat ’n mens in hulle “skaduwee” veilig is.

God se hulp is egter nie net vir wanneer ’n mens fisies naby Hom is nie, maar ook in die oopte waar die voëlvanger se wip – enigiets wat jou kan verstrik – en dodelike siekte – enigiets wat skade kan aanrig – jou kan tref, want sy vleuels strek ook tot daar. Só beskerm Hy ons van alle kante. Daarom hoef ’n mens nie te vrees vir verskrikking in die nag of vir ’n pyl in die dag (vyande), ’n pessiekte in die nag of ’n epidemie in die dag (siekte) nie – vers 5–6. Selfs in die oorlog sal daar vir jou oorwinning wees (vers 7). Dieselfde geld vers 9–13 waar die Here belowe, dat as Hy jou skuilplek is, beskut Hy jou van onheil en plae, gee Hy sy engele opdrag tot beskerming. Hy beskerm jou selfs in doodsgevaar in die natuur (leeus en slange). Sterk metaforiese taal wat die beskutting en beskerming van die Here belowe met alles wat Hy tot sy beskikking het – natuurlik en bo–natuurlik – aan dié wat Hom vertrou – waar hulle hul ook al mag bevind en in alle omstandighede.

Dit is ’n Psalm wat van besondere betekenis vir Corrie ten Boom en haar familie was. In hulle huis in Haarlem, Nederland, wat intussen in ’n museum verander is, lê haar pa, Casper, se Bybel oop by Psalm 91. Met hulle inhegtenisneming deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog, omdat hulle Jode in hulle huis weggesteek het, het hy vers 1 en 2 uit dié Psalm vir sy familie aangehaal, en sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’”  Sy weerstand teen die Nazi’s het tot op daardie stadium reeds vir ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied, maar hy is egter tien dae later in aanhouding dood, ’n ander soort “bevryding”, soos Corrie dit later in terme van dié Psalm beskryf, omdat hy in God se wêreld inbeweeg het.

Een van die tekste in Psalm 91 wat vir Corrie self van besondere betekenis was, was die belofte in vers 16: “Met ’n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.” Dié vers het vir haar betekenis gekry toe sy in solitêre aanhouding opgesluit was op haar 52ste verjaarsdag in die Nazi konsentrasiekamp in Ravensbruck. Sy het daarin die belofte van die Here gehoor dat dié gevangenis nie die einde vir haar was nie, soos dit inderdaad uiteindelik die geval was. Daar is ook ’n rolprent gemaak oor haar lewe The Hiding Place. Sy het die rype ouderdom van 91 jaar bereik – net so oud soos die Psalm se getal – en ’n invloed regoor die wêreld gehad met optredes in meer as 60 lande waar sy veral oor vergifnis en versoening gepraat het. ’n Geseënde lewe!

Wat my tref, is dat die boodskap van Psalm 91 nie as’t ware ’n argument vir God se beskerming is nie. Dit is nie asof die Psalmis iemand probeer oortuig dat God vir beskerming vertrou kan word nie. God se beskerming word eenvoudig as ’n realiteit geskets waarmee gelowiges tot vertroue in God aangemoedig word. Niemand hoef daaroor te twyfel nie. God kan vertrou word. Dié vertroue kan ook vasgehou word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Dit is waarmee die verskillende ervarings van Corrie en Casper ten Boom in hulle vertroue op die belofte van hierdie Psalm my help. Corrie het ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd …

Hulle gesamentlike ervaring leer my dat die ervaring dat God ’n skuilplek is, nie in die eerste plek lê in die fisiese beskerming of beskutting in hierdie lewe nie, maar ook en miskien selfs veral in die ewige dimensie daarvan. Só het Casper dit ervaar. Hy het gelewe, al het hy fisies gesterwe. Só het Corrie dit ook ervaar. Sy het wel aanvanklik die fisiese dood in die strafkamp vrygespring en so God se beskerming ervaar. Maar, sy het met haar uiteindelike dood egter steeds God se beskerming geniet, toe sy soos haar pa die ewigheid betree het. Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié teks geleer het. Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met ’n aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:5–7). Tog bly God se bewaring ‘n werklikheid! Ook fisies! Dit is wat Jesus ervaar het. Aan die een kant het Hy aan die kruis gesterwe, maar God het Hom nie in die steek gelaat nie. Aan die ander kant het Hy ook weer uit die dood uit opgestaan, want God het Hom nie in die steek gelaat nie. Daarin lê die evangelie van Psalm 91 opgesluit, ook vir ons.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-91-ja-u-here-is-my-skuilplek/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar