Lukas 16:19-31 – God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag
Lukas 16:19-31 – God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag
19“Daar was ‘n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. 20Voor die ingang van sy huis het ‘n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, 21en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. 22Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. 24Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ 25Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ 27Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, 28want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ 30‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ 31Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’”
Hierdie is een van die baie gedeeltes wat oor die invloed van rykdom en armoede in die lewe handel. Jesus maak ons met hierdie gelykenis bewus van die mag wat geld en besittings in ons lewens kan hê, soveel só, dat ons die arm mense wat in ons poorte lê, by wyse van spreke, nie meer kan of wil raaksien nie. Daarmee oortree ons die liefdesgebod wat ons oproep om ons naaste lief te hê soos onsself. Hierdie verhaal is daarom ‘n waarskuwing teen ‘n lewe wat net vir jou eie verryking en bevrediging gelewe word, selfs al verdoesel jy die bedoeling daarvan deur te dink aan wat jy wel vir jou eie mense of eie kring doen. Welvaart het die neiging om die siel van God af weg te trek soos ‘n magneet yster trek. Rykdom in God en vrygewigheid teenoor jou naaste is die enigste teenmiddel daarvoor. God is die Hulp van die hulpeloses. Ook deur jou aardse rykdom. Want, God ontferm Hom oor dié wat hulle hulp van Hom verwag. En Hy doen dit baie keer deur jou besittings.
Onthou dat Lasarus se naam “God help” beteken. Dit is dus ‘n aanduiding dat die hoop van hierdie verhaal in God lê, soos Hy Lasarus inderdaad uiteindelik ‘n beter posisie gee in die hiernamaals as wat die ryk man verkry. Trouens, dit is een van die beloftes wat arm mense kan aangryp dat armoede nie ‘n diskwalifikasie vir die hiernamaals is nie, maar eintlik ‘n voordeel, want armoede rig jou oë op die hoop wat net God kan gee as jou beker nie so vol is in hierdie lewe soos ander s’n nie.
Dit gaan egter in die verhaal nie oor die meriete van die twee persone nie, maar ten diepste daaroor dat Lasarus geleef het in die hoop dat God Hom sal ontferm oor sy lot, en dat die ryk man geleef het deur vir homself te sorg, en van God en sy gebod tot liefde vir die naaste vergeet het. Dit is die groot verskil tussen die twee. En God neem Lasarus in sy heerlikheid op… en laat die ryk man in sy toestand van goddeloosheid, dws in die keuse wat hy met sy lewe uitgeoefen het om ver van God te leef. Dit is in die hiernamaals dus ook sy lot. In plaas daarvan om God in hierdie lewe te soek – waar Hy toeganklik was – het hy gekies om sonder God te lewe en beland in die plek waar God nie meer toeganklik is nie weens die kloof tussen hemel en hel.
Lees meer in ‘n preek van my oor die vyf hoeke waaruit ‘n mens dié verhaal kan beskou (nood, gierigheid, genade, gevolge van ons keuses, en die Bybel): https://ngkerksomerstrand.co.za/luister-na-lasarus-en-die-ryk-man-lukas-1619-31/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Herman Steyn
Die parallel met die Barmhartige Samaritaan is merkwaardig en is maar net weer ‘n aanduiding hoe Die Bybel homself bevestig. Ja, laat mens diep dink hoe jy vasgevang kan word deur materialisme en nie by God se manier van doen inval nie.
Chris van Wyk
Vir seker! Dit is ‘n voorkeur manier om die Bybel uit te lê, Skrif met Skrif.