1 Timoteus 6:1-19 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou
1 Timoteus 6:1-19 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou
2cOnderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. 3As iemand ‘n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, 4is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder ‘n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, 5aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is. 6Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. 7Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; 8maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. 9Wie ryk wil wees, val in versoeking en ‘n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. 10Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. 11Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. 12Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. 13Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus gelewer het, 14dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, 15wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, 16Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. Amen. 17Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. 18Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, 19om sodoende vir hulleself ‘n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.
Lojaliteit aan mekaar en aan die evangelie is nie onderhandelbaar nie. Die bande tussen gelowiges is deur God gesmee, soos trouens ook hulle bande met Hom. En dit moet bo alles gehandhaaf word. Selfs ons onderlinge vermaning, bemoediging en onderskraging moet uit hierdie diep bewussyn van eenheid met mekaar en God gedoen word. Beide in sowel as buite die gemeente. Dit raak ook die wyse waarop ’n mens dink oor jou doel op aarde. Gierigheid is altyd ’n groot versoeking, wat selfs wanneer jy met die dinge van die Here besig is, jou kan verlei om daaruit geld te probeer maak. Die einde daarvan is dat jy van die geloof sal afdwaal en in allerlei ellende beland. Daarom is Paulus se raad aan Timoteus en sy gemeente om tevrede te wees met wat hulle het.
Dan keer Paulus terug na Timoteus se eie lewe en roeping, en moedig hy Timoteus aan om met alles in hom die goeie stryd van die geloof te stry. En dit tref my hoe Paulus hom motiveer met 2 goed.
- Aan die een kant vestig hy sy aandag op dit wat agter hom lê, God wat aan alles die lewe geskenk het, en Jesus Christus wat met sy lewe en bediening die wêreld verander het. Dit is die stukrag in sy lewe, waaruit hy krag kan put om sy roeping na te kom en enduit te voltooi.
- Aan die ander kant skets hy vir hom ’n gloeiende prentjie van die toekoms wat op die bestemde tyd sal aanbreek. Let op met hoeveel passie Paulus vir God teken: “die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers”. Maar dié God is nie net die eerste in die Skepping nie, Hy is ook weergaloos in sy wese: “Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon… aan Hom kom die eer en ewige krag toe.”
Paulus keer terug na ’n laaste gedagte oor rykdom, en spreek hom sterk uit oor die onsekerheid van rykdom (vgl die vorige verhaal van Lasarus en die ryk man van vroeër die week). Die enigste lewenstyl wat sin maak vir die gemeente, is om hulle hoop op God te vestig wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Woorde wat herinner aan Jesus in die Bergrede, dat God dié wat die koninkryk najaag, ook sal gee wat hulle nodig het (Matt 6:33). Die rykdom wat tel, is die rykdom in God, en dit kom deur goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid, nie gierigheid en inhaligheid nie. In ekonomiese taal sluit Paulus af deur te sê, rykdom in God is die enigste belegging wat die toets van die tyd sal deurstaan.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-timoteus-61-21-rykdom-in-god-is-die-enigste-belegging-wat-sal-hou/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar