Skip to main content

Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop

25 September

Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadresar. 2Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; 3want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk deur te sê: “Waarom hou jy aan profeteer en sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië; hy sal dit inneem, 4en Sedekia, koning van Juda, sal nie vrykom uit die hand van die Galdeërs nie, maar sal beslis oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal van aangesig tot aangesig met hom praat en hom in die oë moet kyk; 5en hy sal Sedekia na Babel neem, en hy sal daar bly totdat Ek, die Here, aan hom aandag gee,” is die uitspraak van die Here, “As julle teen die Galdeërs veg, sal julle nie sukses behaal nie.” ’ ”

6Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg.” ’ 8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. 10Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op ‘n weegskaal afgeweeg. 11Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook ‘n oop afskrif, 12en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. 13Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in ‘n erdekruik, sodat dit vir ‘n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’

Hierdie verhaal help ons verstaan dat dit nie genoeg was dat Jeremia net vir die mense van God se beloftes vertel het nie. Hy moes self iets doen wat vir sy hoorders sou wys dat hy glo in die beloftes van God. Dit was egter nie maklik vir Jeremia nie! God sê vir Jeremia om ’n stuk grond te koop, op ’n tydstip dat dit eintlik tyd was om grond te verkoop! Dit was ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. Dit is die jaar 587 vC, koning Sedekia se tiende regeringsjaar. Dit is dieselfde jaar waarin die stad Jerusalem ingeneem sou word deur koning Nebukadnesar van Babel. Hy het reeds die stad beleër. Die beleëring het die normale lewe in die stad onmoontlik gemaak, met die donker wolk van die dreigende oorname oor die stad. Jeremia is onder huisarres, omdat hy van dislojaliteit verdink word. Hy het die nederlaag van Jerusalem en die gevangeneming van Sedekia voorspel.

Koning Sedekia wil weet by Jeremia waarom hy so dislojaal is deur te voorspel dat Jerusalem verower en Sedekia na Babel weggeneem sal word. Jeremia antwoord hom deur te vertel van sy neef Ganamel wat hom sou besoek. Die Here het aan hom openbaar dat sy neef Ganamel na hom toe sou kom met die versoek om sy stuk grond in Anatot te koop. Volgens die Mosaïese wet was die naaste manlik bloedverwant verplig om as “losser” (Jeremia het die lossingsreg gehad) op te tree waar ’n Israeliet vanweë verarming sy grond verloor het. Dit het skynbaar gebruik geword dat die verarmde grondbesitter sy grond direk aan die familielid te koop aanbied voordat ’n vreemdeling dit oorneem.

Hierdie koop het op die oog af geen doel nie, niemand sal dit kan geniet nie, want Jeremia is in gevangenskap en die Galdeërs is besig om alles te vernietig. Trouens, die dorpie Anatot was reeds beset deur die Galdeërs. Die koop van grond lyk dus na dwaasheid. Maar, toe Ganamel opdaag, soos wat die Here vir Jeremia gesê het, het Jeremia geweet dat die grondkooptransaksie God se bevel aan hom was. Hy het daarom op die gebruiklike wyse die kontrak opgestel en die geldsom afgeweeg. Die korrek opgestelde koopkontrak oorhandig hy aan sy vriend en helper, Baruk. Baruk kry opdrag om die kontrak in ’n kleipot te sit sodat dit lank sal hou. Sulke kontrakte is in duplikaat opgestel, waarvan een afskrif met die seël verseël en toegesluit is en die ander afskrif meer toeganklik gemaak is. Dit moes verseker dat die oorspronklike kontrak nie vervals kan word nie. Die onverseëlde kopie bly oop sodat dit nagegaan kan word. Die verseëlde en onverseëlde koopkontrak moet goed weggebêre word, in ’n kleipot, om later as waarborg vir die waarheid van die profetewoord te kan dien.

Die feit dat daar selfs op so ’n late uur in die geskiedenis van Jerusalem so ’n wettige kontrak gesluit word – terwyl ’n mens sou redeneer dat sulke kontrakte tog nie veel sin het as die land voor ’n militêre nederlaag staan nie – word die waarborg dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie. Dit was ’n geweldige gerusstelling vir die volk wat so totaal ontwortel is deur die ballingskap. Hulle sal weer die beloofde land kan besit. So het Jeremia se geloof tot aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood. Jeremia wys sy geloof deur sy werke. Hy wys sy geloof ook deur die deeglike manier waarop hy die transaksie deurvoer. Die boodskap is dat dit wat noodwendig moet gebeur nie gekeer kan word nie. Dit is egter nie die einde van God se pad met sy volk nie. Dit is eerder die begin van ’n nuwe pad: die lewe sal weer begin, daar sal weer grond, huise en wingerde gekoop en verkoop word in Juda.

Die Here kom sê hiermee dat vir hierdie swaar geteisterde volk beter tye sal aanbreek, waarin die normale lewe weer sal aangaan. Daarom is dit so belangrik dat die koopprys die normale gewone prys is. Dit is ook belangrik dat die handeling aan alle regsvereistes moet voldoen en die bewysstuk in ’n kleipot gebêre word sodat dit bewaar kan bly. As alles donker is in die hede is ons geneig om wanhopig te wees oor die toekoms. Maar die toekoms is in God se hande, en Hy belowe verlossing en seën vir sy mense. Geloof in God bring dus vir ’n mens hoop. Daar kom ’n einde aan lyding; dit hou nie vir altyd aan nie. Jeremia se daad spreek duideliker as woorde: God het ’n toekoms vir Juda! So het God ’n toekoms vir jou. Al het jy jou vasgeloop, al lyk omstandighede oorweldigend. En al was dit deur ander se dade of selfs weens jou eie toedoen, soos in die geval van Juda. God het ’n toekoms vir jou. Dít is geloof: om ten spyte van omstandighede wat ’n mens wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe enduit sal voer (Fil 1:6). Verantwoordelikheid en vertroue – dít is die pad van die geloof.

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-32-daar-sal-weer-huise-grond-en-wingerde-in-hierdie-land-gekoop-word/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.