Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop
Jeremia 32:1-15 – Geloof in aksie bring hoop
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadresar. 2Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; 3want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk deur te sê: “Waarom hou jy aan profeteer en sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië; hy sal dit inneem, 4en Sedekia, koning van Juda, sal nie vrykom uit die hand van die Galdeërs nie, maar sal beslis oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal van aangesig tot aangesig met hom praat en hom in die oë moet kyk; 5en hy sal Sedekia na Babel neem, en hy sal daar bly totdat Ek, die Here, aan hom aandag gee,” is die uitspraak van die Here, “As julle teen die Galdeërs veg, sal julle nie sukses behaal nie.” ’ ”
6Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg.” ’ 8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. 10Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op ‘n weegskaal afgeweeg. 11Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook ‘n oop afskrif, 12en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. 13Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in ‘n erdekruik, sodat dit vir ‘n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’
Hierdie verhaal help ons verstaan dat dit nie genoeg was dat Jeremia net vir die mense van God se beloftes vertel het nie. Hy moes self iets doen wat vir sy hoorders sou wys dat hy glo in die beloftes van God. Dit was egter nie maklik vir Jeremia nie! God sê vir Jeremia om ’n stuk grond te koop, op ’n tydstip dat dit eintlik tyd was om grond te verkoop! Dit was ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. Dit is die jaar 587 vC, koning Sedekia se tiende regeringsjaar. Dit is dieselfde jaar waarin die stad Jerusalem ingeneem sou word deur koning Nebukadnesar van Babel. Hy het reeds die stad beleër. Die beleëring het die normale lewe in die stad onmoontlik gemaak, met die donker wolk van die dreigende oorname oor die stad. Jeremia is onder huisarres, omdat hy van dislojaliteit verdink word. Hy het die nederlaag van Jerusalem en die gevangeneming van Sedekia voorspel.
Koning Sedekia wil weet by Jeremia waarom hy so dislojaal is deur te voorspel dat Jerusalem verower en Sedekia na Babel weggeneem sal word. Jeremia antwoord hom deur te vertel van sy neef Ganamel wat hom sou besoek. Die Here het aan hom openbaar dat sy neef Ganamel na hom toe sou kom met die versoek om sy stuk grond in Anatot te koop. Volgens die Mosaïese wet was die naaste manlik bloedverwant verplig om as “losser” (Jeremia het die lossingsreg gehad) op te tree waar ’n Israeliet vanweë verarming sy grond verloor het. Dit het skynbaar gebruik geword dat die verarmde grondbesitter sy grond direk aan die familielid te koop aanbied voordat ’n vreemdeling dit oorneem.
Hierdie koop het op die oog af geen doel nie, niemand sal dit kan geniet nie, want Jeremia is in gevangenskap en die Galdeërs is besig om alles te vernietig. Trouens, die dorpie Anatot was reeds beset deur die Galdeërs. Die koop van grond lyk dus na dwaasheid. Maar, toe Ganamel opdaag, soos wat die Here vir Jeremia gesê het, het Jeremia geweet dat die grondkooptransaksie God se bevel aan hom was. Hy het daarom op die gebruiklike wyse die kontrak opgestel en die geldsom afgeweeg. Die korrek opgestelde koopkontrak oorhandig hy aan sy vriend en helper, Baruk. Baruk kry opdrag om die kontrak in ’n kleipot te sit sodat dit lank sal hou. Sulke kontrakte is in duplikaat opgestel, waarvan een afskrif met die seël verseël en toegesluit is en die ander afskrif meer toeganklik gemaak is. Dit moes verseker dat die oorspronklike kontrak nie vervals kan word nie. Die onverseëlde kopie bly oop sodat dit nagegaan kan word. Die verseëlde en onverseëlde koopkontrak moet goed weggebêre word, in ’n kleipot, om later as waarborg vir die waarheid van die profetewoord te kan dien.
Die feit dat daar selfs op so ’n late uur in die geskiedenis van Jerusalem so ’n wettige kontrak gesluit word – terwyl ’n mens sou redeneer dat sulke kontrakte tog nie veel sin het as die land voor ’n militêre nederlaag staan nie – word die waarborg dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie. Dit was ’n geweldige gerusstelling vir die volk wat so totaal ontwortel is deur die ballingskap. Hulle sal weer die beloofde land kan besit. So het Jeremia se geloof tot aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood. Jeremia wys sy geloof deur sy werke. Hy wys sy geloof ook deur die deeglike manier waarop hy die transaksie deurvoer. Die boodskap is dat dit wat noodwendig moet gebeur nie gekeer kan word nie. Dit is egter nie die einde van God se pad met sy volk nie. Dit is eerder die begin van ’n nuwe pad: die lewe sal weer begin, daar sal weer grond, huise en wingerde gekoop en verkoop word in Juda.
Die Here kom sê hiermee dat vir hierdie swaar geteisterde volk beter tye sal aanbreek, waarin die normale lewe weer sal aangaan. Daarom is dit so belangrik dat die koopprys die normale gewone prys is. Dit is ook belangrik dat die handeling aan alle regsvereistes moet voldoen en die bewysstuk in ’n kleipot gebêre word sodat dit bewaar kan bly. As alles donker is in die hede is ons geneig om wanhopig te wees oor die toekoms. Maar die toekoms is in God se hande, en Hy belowe verlossing en seën vir sy mense. Geloof in God bring dus vir ’n mens hoop. Daar kom ’n einde aan lyding; dit hou nie vir altyd aan nie. Jeremia se daad spreek duideliker as woorde: God het ’n toekoms vir Juda! So het God ’n toekoms vir jou. Al het jy jou vasgeloop, al lyk omstandighede oorweldigend. En al was dit deur ander se dade of selfs weens jou eie toedoen, soos in die geval van Juda. God het ’n toekoms vir jou. Dít is geloof: om ten spyte van omstandighede wat ’n mens wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe enduit sal voer (Fil 1:6). Verantwoordelikheid en vertroue – dít is die pad van die geloof.
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-32-daar-sal-weer-huise-grond-en-wingerde-in-hierdie-land-gekoop-word/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar