Klaagliedere 3:19-26 – Groot is God se getrouheid – sy ontferming ken geen einde nie
Die RCL teks vir vandag is Klaagliedere 1:1-6. Jy kan ‘n preek van my daaroor hier lees: https://ngkerksomerstrand.co.za/wat-doen-jy-as-jy-bang-is-klaagliedere-1/ Ek kies om Klaagliedere 3:19-26 vandag te lees.
Klaagliedere 3:19-26 – Groot is God se getrouheid – sy ontferming ken geen einde nie
19Dink aan my nood en my swerwersbestaan, aan die wildeals en gif. 20Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. 21Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: 22Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. 23Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. 24My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom. 25Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek. 26Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die Here.
Hoofstuk drie is in baie opsigte eintlik die hart van die Klaagliedere van Jeremia. Jeremia is die “ek” in die ses en sestig verse waarvan elke derde een met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Dit is egter ook duidelik dat Jeremia hierdie Klaaglied kollektief en namens die volk aanbied aan die Here, soos die gebruik van “ons” regdeur aandui.
Jeremia begin deur sy ellende op die tafel te sit. Dit is asof hy die donker ingejaag is en die Here hom op ’n pad laat loop waar daar geen lig is nie. Dit is asof sy gebede nêrens kom nie, asof God weier om sy gebede te verhoor. Maar, juis toe hy gedink het dit is klaar met hom en met sy hoop op die Here, het hy besef: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Daar het ’n oorblyfsel gebly. Wat beteken: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Geen wonder dat dié verse Robert Davidson geïnspireer het in die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” Watter wonderlike perspektief. Dit is nie net die verlede wat ‘n mens eerlik moet beskou nie.
Dit is ook die liefde van die Here binne die situasie van verlies wat ons beleef waarop ons moet let. Almal van ons sal kan wys na Godsvallige uitkomste juis in hierdie tyd. Saam met die verlies was daar ook dinge wat uitgewerk het, wat duidelik God se hand verraai. Dít is ons hoop, God se troue liefde, selfs wanneer ons in die diepste ellende is. Trouens, God se trou is só groot dat ’n mens op Hom kan bly hoop, voortdurend na sy wil kan bly vra. Daarom is dit goed om geduldig te wag op die hulp van die Here, selfs as ’n mens eensaam voel in die dra van die las wat die Here jou opgelê het. Ons hoop is immers dat die Here ’n mens nie vir altyd verstoot nie, dat as Hy beproewing oor ’n mens bring, daar ook weer uitkoms kom, dat Hy Homself ook weer ontferm omdat sy liefde so groot is. “Dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.” Die fundamentele ding wat ons moet doen, is om te volhard in die hoop op God; om te volhard om na God se wil te vra; om nie op te hou nie; om nie te rus nie; totdat ons weet wat die Here verder met ons wil doen. Dit beteken natuurlik ook dat ons bereid moet wees om God se wil te doen.
Lees meer (‘n preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/wat-doen-jy-as-jy-hartseer-is-klaagliedere-03/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar