Skip to main content

Psalm 66 – God weerhou nie sy troue liefde van dié wat in ontsag vir Hom lewe nie

3 Oktober

Psalm 66 – God weerhou nie sy troue liefde van dié wat in ontsag vir Hom lewe nie

1Vir die musiekleier. ‘n Lied. ‘n Psalm. Juig tot eer van God, almal op aarde! 2Besing die eer van sy Naam; betoon eer met ‘n loflied aan Hom. 3Sê vir God: “Hoe ontsagwekkend is u dade! Vanweë die grootheid van u krag, veins u vyande onderdanigheid aan U. 4Almal op aarde buig voor U in aanbidding. Hulle besing U, hulle besing u Naam.” Sela

5Kom kyk na God se werke – ontsagwekkend is sy dade onder die mense. 6Hy het ‘n see in droë grond verander. Hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar kon ons ons in Hom verheug, 7Hy wat ewig heers deur sy mag, wie se oë die nasies deurkyk. Hardkoppiges moet hulleself nie verhef nie. Sela

8Prys ons God, volke; laat die klank van sy loflied opklink – 9Hy wat aan ons lewe gee, nie toelaat dat ons voete swik nie. 10Ja, U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. 11U het ons in ‘n vangnet laat beland, ‘n las op ons skouers gelê. 12U het mense oor ons koppe laat ry; ons het deur vuur en water gegaan, maar U het ons na oorvloed uitgelei. 13Ek sal u huis binnegaan met brandoffers; ek sal aan U my geloftes betaal 14wat my lippe uitgespreek en my mond beloof het toe ek in die nood was. 15Brandoffers van vetgemaakte skape sal ek aan U bring, saam met die offerrook van ramme. Ek sal beeste saam met bokke offer. Sela

16Kom luister, almal wat vir God ontsag het, sodat ek kan vertel wat Hy vir my gedoen het. 17Met my mond het ek Hom aangeroep; lofprysing was gereed op my tong. 18Wat onreg betref, as ek dit in my hart sou gewaar, sou my Heer nie geluister het nie. 19Maar God het geluister; Hy het ag geslaan op die klank van my gebed. 20God moet geprys word, Hy wat my gebed nie afgewys het, sy troue liefde van my nie weerhou het nie.

Die eerste kenmerk van dié Psalm wat my opval, is die feit dat die eerste deel van die Psalm (vers 1-7) in die meervoud geskryf is – “ons” – en die tweede deel van die Psalm (vers 8-20) in die enkelvoud – “ek”. Die Psalm was dus waarskynlik bedoel om in die liturgie gebruik te word om beide die geloofsgemeenskap as ’n individu (bv die koning) kans te gee om God te prys vir sy groot dade. Dit is dus ’n soort dankseggings en getuienis liturgie. Dit getuig van ’n wisselwerking tussen verhale van die gemeenskap en dié van ’n lid van daardie gemeenskap, wat ons ’n goeie voorbeeld gee van die ideaal wat ons gerus in ons eredienste na kan streef.

Die punt wat die Psalmis maak, is dat God nie sy troue liefde weerhou van dié wat in ontsag vir Hom lewe nie. Dit het Hy met die Uittog (die Rooisee in droë grond verander) sowel as die Intog (te voet deur die Jordaanrivier) gedemonstreer. Hy gee aan ons lewe selfs al moet ons ons kwota van laste verduur. Die teenstand en verguising van mense het daarby ‘n suiwerende rol. In dit alles laat die Here nie toe dat ons voete swik nie, en lei Hy ons na oorvloed in sy teenwoordigheid (vgl Ps 23). Daarom bring die Psalmis sy getuienis met die offers van ‘n oorvloed vetgemaakte skape, selfs van sy ramme, sowel as beeste en bokke. En let op dat hy hulle as brandoffers bring, dws hy verbrand hulle heeltemal as ‘n geskenk aan die Here en hou niks daarvan vir hom en sy familie terug nie, soos wel met ander offers gedoen kon word.

’n Interessante stukkie kommentaar op gebed kom na vore in vers 18-20 dat God nie sou luister as daar sonde in die hart van die bidder sou wees nie. Spreuke 28:9 en Jesaja 59:2 druk dieselfde gedagte uit. Spreuke waarsku teen ’n gebed wat nie met toewyding aan die Here gekombineer word nie: “As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed.” Jesaja waarsku teen ’n lewe wat nie met toewyding aan die Here geleef word nie. Gebede het dan geen krag nie: “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-66-god-se-dade-moet-vir-almal-vertel-word/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar