2 Timoteus 2:1-13 – God bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie
2 Timoteus 2:1-13 – God bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie
1Jy dan, my kind, wees sterk deur die genade in Christus Jesus, 2en dra dit wat jy deur baie getuies van my gehoor het, oor aan betroubare mense wat bekwaam sal wees om ook ander te onderrig. 3Verduur jou deel van die ontbering, soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus. 4‘n Soldaat raak nie verstrik in sake van die alledaagse lewe nie, sodat hy sy bevelvoerder tevrede kan stel. 5Verder word ‘n atleet wat aan ‘n wedloop deelneem, nie bekroon as hy nie volgens die reëls meeding nie. 6Die landbouer wat die harde werk doen, moet eerste van die oes kry. 7Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge. 8Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, 9waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos ‘n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! 10Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry. 11Dié uitspraak is betroubaar: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; 12as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; 13as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.
Die Christelike lewe sentreer om Christus Jesus, nie net in terme van ‘n eie persoonlike verhouding nie, maar ook in terme van ons bediening en publieke betrokkenheid. Timoteus word dus daaraan herinner dat hy sterk moet wees in die gemeente en gemeenskap deur die genade wat Christus Jesus aan hom verleen. Daaruit vloei die opdragte wat Paulus aan hom gee voort, waarvan die eerste – die aanstel van betroubare leraars – nie net vir hom kan bystaan nie, maar ook kan sorg dat die waarheid van die evangelie nie in gedrang kom nie. Die gemeente is immers die draers van die waarheid.
Let op hoe Paulus vir Timoteus motiveer in sy bediening met twee leidende metafore. Die eerste leidende metafoor kom uit die militêre wêreld, om sy deel van die ontberings vir die evangelie soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus te doen. Paulus gebruik die beeld waarskynlik omdat Timoteus moet sterk staan in ‘n konteks van dwaalleraars en vastigheid en fokus moet bring vir die gemeente. Paulus vul dit aan met die metafore van ‘n atleet wat volgens die reëls moet meeding en ‘n boer wat ‘n deel van die oes as beloning kry. Daarmee motiveer hy Timoteus nie net om sterk te wees nie, maar in sy ywer om reg te doen, ook die beloning in gedagte te hou wat God verseker vir hom sal gee.
Let op hoe Paulus dan terugkeer na die hart van die evangelie, Jesus Christus, wat nie net die Messias uit die geslag van Dawid was nie, maar uit die dood opgewek is. Dit is die boodskap wat verkondig moet word. Dit is die boodskap waaraan getrou gebly moet word, ten spyte van die ontberings. Dit is die boodskap wat in die wêreld geglo moet word, sodat ons uiteindelik saam met Christus kan leef en regeer.
Vers 13 het ‘n ongelooflike belofte. Waar vers 11 en 12 die deelname aan Christus se lewe en regering verbind aan ons volharding en bereidheid om ontberings te dra, sê vers 13 dat God se getrouheid groter is as ons ontrouheid (soos die wagtende vader van Lukas 15). Selfs al faal ons langs die pad, sal Hy ons nie los nie, want Hy kan Homself nie verloën nie. Groter liefde as dit, is daar nie!
Lees meer: https://bybelskool.com/2-timoteus-21-26-getrou-aan-jesus-christus/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar