Skip to main content

Hosea – God volhard altyd in sy liefde

prayer-shawlInleiding

Die profeet Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, tree op in die agste eeu v.C. Dit was volgens vers 1 die tyd van die Judese konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, sowel as die koning van Israel, Jerobeam II (vgl. vroeëre tabel vir die onderskeie regeringstye). Sy boodskap is veral gemik teen die tienstamme noordryk van laasgenoemde koning, hoewel die suidryk ook betrek is in die boodskap. Hy was dus waarskynlik self van die noordryk afkomstig.

Hy voer die “regsaak” van die Here aan veral teen die afvalligheid van die volk in navolging van die geestelike en politieke leiers (5:1: “Luister hierna, priesters; gee ag, huis van Israel; en koningshuis, gee aandag, want die oordeel is vir julle bedoel.”). Tóg verkondig hy ook die deernisvolle liefde van die Here wat herstel belowe as hulle hulle tot Hom sou bekeer, self al moet hy hulle straf vir hulle ontrouheid.

Deur die boek Hosea in die OT ordening van die twaalf boeke eerste te plaas, word die problematiese verhouding tussen God en Israel met die treffende metafoor van ‘n huwelik beskrywe, ‘n gepaste inleiding vir die geheelboodskap. Hosea vertel vir ons dus in die boek van God se volhardende liefde ten spyte van Israel se volgehoue ongehoorsaamheid, iets wat in die res van die profete geëggo sal word. Hosea se problematiese huwelik met Gomer illustreer dit as ‘n treffende lewende gelykenis aan die volk.

Maleagi word daarom waarskynlik laaste van die twaalf Kleiner Profete geplaas, nie net omdat dit kronologies waarskynlik die laaste Skrifprofeet was nie, maar om dié boodskap af te rond deur die volk op te roep om nie net fisiese egskeiding te haat nie – soos God dit inderdaad doen – maar veral Hom nie te minag deur ‘n verhouding van halfhartige gehoorsaamheid nie.   Hulle moet God navolg in sy lojale liefde.

Dié twee boeke gee dus ‘n verbondsraamwerk vir die boodskap van die twaalf boeke, uitgespel in terme van die liefde wat hoort in die metaforiese huweliksverhouding tussen God en die volk. Die verdere boodskap van God se ingrype in die lewe van die volk en die nasies beide in terme van verwoesting en oordeel as in voorspoed en herstel, kan dus hierbinne deur die res van die boeke uitgespel word.

Die betekenis hiervan is dat God se oordeel en genade daarmee in sy liefde en binne verhoudings gefundeer word.

Indeling

Hoewel die fyner indeling van die onderskeie profesieë in die boek Hosea nie altyd maklik gedoen kan word nie, is die breë indeling van die boek heel duidelik:

  • Hoofstuk 1-3 vertel van die opdrag van die Here aan Hosea om ‘n ontroue vrou, Gomer, te neem, en kinders by haar te hê. Sy bly egter nie getrou aan hom nie. Dié onverkwiklike huweliksverhouding word dan deur die Here as metafoor gebruik om sy verhouding met die ontroue Israel (en Juda) te beskryf as basis vir die res van Hosea se boodskap.
  • Hoofstuk 4-11 bevat hoofsaaklik onheilsprofesieë waarin die “regsaak” (4:1) wat die Here teen die volk het oor hulle ontrouheid aangevoer word. Hy kla hulle vir hulle afvalligheid aan en kondig daarmee ook sy strawwe vir hulle sonde aan. Tóg gee Hy ook ‘n belofte van herstel gebaseer op sy deernisvolle liefde vir hulle (11:1-11).
  • Hoofstuk 12-14 herhaal dié onheilsprofesieë van ‘n “regsaak” (12:3) van die Here teen die volk sowel as die belofte van herstel van hulle afvalligheid as hulle hulle tot Hom sal bekeer (14:2-10).

Ons gaan dit as volg lees:

  • 1:1-12 – Hosea trou met die ontroue Gomer
  • 2:1-3:5 – God kla Israel aan, maar belowe tog weer ‘n nuwe toekoms
  • 4:1-5:7 – Die Here het ‘n regsaak teen die leiers en die volk
  • 5:8-7:16 – Julle getrouheid is soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn
  • 8:1-9:9 – Die tyd van afrekening het gekom
  • 9:10-10:15 – Hulle sal swerwers wees onder die nasies
  • 11:1-11 – My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My
  • 12:1-15 – Die Here het ‘n regsaak teen sy volk
  • 13:1-14:1 – Daarom sal hulle word soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn
  • 14:2-10 – Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhê

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…