Hosea 1:1-12 – Hosea trou met die ontroue Gomer

prayer-shawlDie boodskap van die Twaalf Kleiner Profete begin in Hosea 1 met die tekening van die verhouding van God en die volk as ‘n huweliksverhouding. Die Here beskou dié verhouding egter as problematies, want dit is vir Hom asof Hy met ‘n prostituut getroud is.

Daarom is dit dan ook sy eerste opgetekende opdrag aan Hosea om Gomer, ‘n prostituut, te trou en by haar kinders te hê. Hy sal self dus ervaar wat God ervaar, en die volk sal in Hosea se ervaring die wesenlike probleem van God se ervaring met hulle raaksien.

Die hoofstuk word in twee dele geskryf, waarin 1:1-9 die opdrag van die Here en Hosea se uitvoering daarvan behels, waaraan ‘n boodskap van hoop gekoppel word in 1:10-12.

1:1-9 – Hosea trou met die prostituut Gomer

Let op dat Gomer reeds ander buite-egtelike het, of “hoerkinders” soos die BDV dit voorlopig vertaal, d.w.s. kinders wat gebore is uit prostitusie. Die drie kinders wat Hosea en Gomer gesamentlik het, kry name wat ook as boodskappe aan die volk dien:

  1. Jisreël – Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat die Here hom beveel het. God se opdrag was om die koningshuis van Agab uit te wis, en vir Isebel, sy vrou, wat in Jisreël gebly het. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van die Here. Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van die Here verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie. Lees meer in my vorige bydrae: 2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid.
  2. Lo-Rugama (Sonder-ontferming) – Die naam van hierdie dogter simboliseer God se versaking van Israel in terme van vergifnis en beskerming. Juda sal wel sy ontferming bly geniet, in kontras met die uitwissing aan die hand van Jehu.
  3. Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) – Die naam van hierdie seun simboliseer dat God die verbondsverhouding met die volk opsê, omdat dit deur hulle deurbreek is. Die sin in die NAV: “Ek is nie julle God nie,” kan letterlik vertaal word met: “Ek is nie EK IS vir julle nie.” Dit is die naam waarmee die Here Homself aan Moses by die braambos bekend gestel het (Eks. 3:14), wat die terugtrekking nie net van sy verbondsverhouding met hulle impliseer nie, maar ook die opsegging van die openbaring van sy teenwoordigheid by hulle. Terloops, dit is natuurlik ook ‘n naam wat deur Jesus in die NT op Homself van toepassing gemaak is, waarmee Jesus verklaar het dat Hy nou God se teenwoordigheid is by elkeen wat in Hom glo. Lees hier meer oor Jesus se Ek is-uitsprake in die Johannes evangelie.

1:10-12 – “Julle is kinders van die lewende God”

Die Here gee egter nógtans ‘n belofte vir die toekoms, ‘n tyd waarin Hy vir die somtotaal van elkeen wat deel van Israel is die lewende teenwoordige Here sal wees – ‘n getal wat soos die sand van die see sal wees en nie getel of gemeet kan word nie en daarom ‘n duidelike herinnering aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het (Gen. 22:17). “Julle is kinders van die lewende God.” Inderdaad.

Hierdie belofte van die Here kry ‘n nog dieper betekenis in die lig van die “EK IS” verwysing in vers 9. Die Here belowe dus dat sy verhouding met hulle so intiem en werklik sal wees soos wat Hy die pad met Abraham en Moses geloop het. En dié belofte sal geld vir elkeen wat deel van die Godsvolk sal word!

Daarby belowe die Here ‘n eenheid tussen die onderskeie dele van die ryke van Israel en Juda, onder een leier of hoof. Daarom, sê Hosea, kan hulle maar solank vir hulle broers sê: “Ammi (My volk)” en vir hulle susters: “Rugama (Ontferming)”. Die boodskap, wat eers in die toekoms sal waar word, kan solank in die hede omarm word.

Ek kan nie anders as om dit met Paulus se visie in Kolossense te verbind nie: “Hy is die hoof van sy liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem, want dit het God behaag om met sy volle wese in Hom te woon en deur Hom alles met Hom te versoen deur vrede te bring deur sy bloed aan die kruis, ja, alles op aarde en in die hemel.” (Kol. 1:18-20). Dié belofte van Hosea het dus in Jesus waar geword.

Boodskap

Die bedoeling van dié vreemde opdrag van die Here aan Hosea om met ‘n prostituut te trou, is bedoel om ons tot stilstand te ruk. Dit plaas ons voor die persoonlike vraag na die gehalte van ons eie verhouding met die Here. Ons moenie net vra, wat beteken God vir ons nie, maar eerder: “Hóé ervaar Hy vir ons?” Wat sou God oor ons sê, as iemand Hom sou vra na wat ons vir Hom beteken?!  Sou Hy kon sê, Hy ervaar ons as mense wat getrou aan Hom leef? Óf sou Hy ons ook ervaar as mense wat ontrou is aan Hom?

God soek immers gehoorsaamheid. Want dán kan ‘n mens die intimiteit en werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar soos ‘n Abraham en ‘n Moses.

Die boodskap van hoop lê in die Here se besluit om nógtans ook vir ons te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: