Skip to main content

Hosea 14:2-10 – Ek sal hulle afvalligheid genees, Ek sal hulle uit vrye wil liefhê

prayer-shawlHosea sluit met drie kragtige boodskappe af wat die boek nie net afsluit nie, maar ook die hoop vir die toekoms uitspel, vir Israel en vir alle geloofsgemeenskappe regdeur die eeue:

  • 14:2-4 – ‘n Oproep tot bekering
  • 14:5-9 – ‘n Belofte van genesing en seën
  • 14:10 – ‘n Uitdaging tot ‘n wyse lewe

14:2-4 – ‘n Oproep tot bekering

Let op dat die bekering die belofte van die Here ontsluit. Die Here nooi hulle uit om met woord en daad na Hom toe terug te keer, aan die een kant hulle sonde te erken en bely en van Hom vergifnis te vra, en aan die ander kant afstand te doen van politiese eiesinnigheid: “Assirië hou vir ons niks goeds in nie,” en godsdienstige afvalligheid: “Ons sal ook nie meer vir ons eie handewerk sê: ‘Ons god’ nie.” Dit bly die wyse waarop bekering werk, ‘n erkenning van God en ‘n wegdraai van alles wat die verhouding met Hom in gedrang bring. Net by God is daar ontferming en genesing beskikbaar.

14:5-9 – ‘n Belofte van genesing en seën

Die Here belowe nie net vergifnis, ‘n oorsien van hulle skuld nie, maar ‘n genesing van hulle ontrou en afvalligheid. Dit herinner aan die belofte in 1 Joh. 1:9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” Inderdaad.

Die Here belowe verder dat Hy hulle van harte sal liefhê, ‘n mens kan selfs vertaal: “uit vrye wil liefhê.” Hy maak uit eie keuse die besluit om hulle lief te hê. Waar hulle ontrou was soos die dou wat gou verdamp (6:4) en dit hulle bestaan bedreig het (12:3), raak die Here self nou vir hulle die dou wat hulle groei sal verseker. ‘n Pragtige omkeer van die negatiewe gebruik van die metafoor van dou. Vandaar die beskrywing van Israel met verdere botaniese metafore: lelie, olyfboom, seders (waarskynlik wat “plante van die Lebanon” bedoel), koring en wingerde.

God sal hulle dus genees en hulle op omvattende wyse seën. Hy maak egter staat op hulle lojaliteit, want Hy is die een wat dié genesing en seën vir hulle gee. Hy is soos ‘n immergroen sipres wat vir hulle gee wat hulle nodig het: “Alles wat jy het, sal van My af kom,” ‘n uitspraak wat met vrugbaarheid te make het.

14:10 – ‘n Uitdaging tot ‘n wyse lewe

Hosea sluit af met ‘n wyse nawoord wat met Psalm 1 verbind kan word. Daarin daag hy die volk uit tot ‘n wyse lewe: “Wie is wys dat hy hierdie dinge kan verstaan, en verstandig dat hy dit kan begryp? Ja, die paaie van die Here is reguit – regverdiges loop daarop, maar oortreders sal daarop struikel.” (BDV se voorlopige vertaling).

Boodskap

Hosea se boodskap net voor die ballingskap van 722 v.C. spel God se agenda uit vir die toekoms. God het wel die volk oorgegee aan hulle eie dwase politiese keuses en die afvalligheid van hulle afgodediens. Dit het onafwendbaar gelei tot die oordeel van die ballingskap. Daarvoor kon hulle egter net hulleself blameer.

Maar, soos Hosea regdeur sy boek beklemtoon het, God se liefde brand te sterk om hulle uiteindelik heeltemal ten gronde te laat gaan: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” (BDV). God is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie. God se genade is groter as sy oordeel.

Al wat nodig is om dié liefde in ontvangs te neem, is om hulle sonde te erken en die Here met onwrikbare lojaliteit aan te hang. Hy sal nie net vergewe nie, maar genees, en die volle seën waaroor Hy beskik oor hulle uitgiet. God is inderdaad soos ‘n immergroen sipres op wie se seën ons altyd kan staatmaak.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda