Skip to main content

Hosea 5:8-7:16 – Julle getrouheid is soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn

prayer-shawlDie oordeel oor die volk word in twee hoofdele verder uitgespel:

  • 5:8-6:3 – God hoop dat oorlogsnood vir Juda en Efraim na Hom sal laat terugkeer
  • 6:4-7:16 – Efraim kry dit egter nie reg om hulle hart op die Here te rig nie

5:8-6:3 – God hoop dat oorlogsnood vir Juda en Efraim na Hom sal laat terugkeer

Die profesie word teen die agtergrond van die Siro-Efraimitiese oorlog van 734-732 v.C. gelewer, ‘n skrale dekade voor die val van Samaria en die wegvoering in ballingskap. Die noordryk – hier met die naam Efraim aangedui – het aanvanklik eers vir Juda ingeval. Lees meer daaroor by my vorige bydraes in 2 Konings 16-17 en 2 Kronieke 27-28 sowel as Jesaja 7.

Juda het aanvanklik by Assirië – téén die uitdruklike wil van die Here in soos onder andere deur Jesaja aan koning Agas bekend gemaak – hulp gaan soek. Dit het op die korttermyn gehelp, deurdat Assirië die noordryk ingeval en van hulle grondgebied afgeneem het. Op die langtermyn het dit Juda egter aan hulle onderdanig gemaak. Koning Hiskia, seun van Agas, het daarom lank gesukkel om dié juk van hulle nekke af te skud.

Die noordryk het op hulle beurt die uitdaging van die Assiriërs hanteer deur hulle onderdanigheid aan Assirië te bewys deur met hulle in koalisie te gaan, soos ons dit in vers 13 lees – koning Jareb kan waarskynlik beter vertaal word as “groot koning” wat op Salmaneser (die 5de), seun van Tiglat Pileser III, dui. Dit sou hulle egter suur bekom, want die skrif was reeds aan die muur. Koning Hosea, die laaste koning van die noordryk, het later boonop in die stilligheid hulp by Egipte téén Assirië gesoek wat tot sy uiteindelike val en die val van sy ryk gely het (2 Konings 17).

5:8-14 – Juda val Efraim binne, maar word self deur Assirië bedreig

Juda het egter die kans aan die begin van koning Hosea se regeringstyd – uiteraard moet jy die koning van die profeet hier onderskei! – aangegryp om hulle grondgebied uit te brei en van die noordelike gebiede by hulle in te sluit. Daarom lees ons in vers 8 dat Gibea, Rama, en Bet-El (Bet-Awen is Hosea se skeldnaam vir die “huis van onreg”), almal stede in die noordryk se gebied, gewaarsku word dat Benjamin – die ander stam in die tweestamme suidryk saam met Juda – agter hulle aan is en hulle sal verwoes. Die leiers van Juda het dus beslag gelê op van die noordryk se grond.

Dit dra uiteraard nie die Here se goedkeuring weg nie, maar tóg is daar die hoop by die Here dat die nood van die burgeroorlog vir beide Efraim as vir Juda sal laat besef dat hulle nie só kan aangaan nie. Agter die skerms, sê die profeet Hosea, het God hierdie oorlog vir Efraim soos ‘n gewas (abses) en vir Juda soos ‘n beentering (sweer) gebruik om hulle te laat vrae vra en hopelik na Hom toe te laat terugkeer.

Hosea stel dit sterk. Dit is die Hére – NB: deur die nood van die oorlog – wat soos ‘n leeu teenoor Efraim, en soos ‘n roofdier teenoor Juda opgetree het: “Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.” (NAV). God werk dus deur die konflik tussen die nasies om sy wil en wens uit te voer, dít alles met die hoop wat in die volgende deel uitgespel word.

5:15-6:3 – Die Here hoop dat hulle na Hom sal terugkeer

Let op hoe vers 15 God se wagtende houding beskryf met die eerste 3 verse van hoofstuk 6 wat die reaksie wat Hy verwag van die volk beskryf. Dit is die doel van dié oorlogsnood. Die Here wil hê dat hulle hulle skuld sal bely en sy teenwoordigheid sal opsoek weens die nood wat hulle beleef. Hy sal so seker as die dagbreek op hulle bekering reageer, en die dorheid van hulle lewens soos reën verlig.

Hy wil net hê dat hulle sal sê: “Kom ons keer terug na die Here. Hy is die Een wat ons verskeur het, maar Hy sal ons ook weer gesond maak” (aangepas uit die BDV se vertaling). Maar, soos die volgende hoofdeel gaan uitspel, dié verwagting van die Here loop op niks uit nie.

Let op die interessante beskrywing in vers 2: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan”, wat in Hosea eintlik net dui op die sekerheid van God se verlossing waarop die volk kan staatmaak. Sy oordeel sal dus baie vinnig opgehef word as hulle na Hom toe terugkeer. God wil hulle juis só motiveer om te reageer op sy aanbod. Die oorlog sal net twee dae duur!

In die NT word dié vers op ‘n geestelike manier van toepassing gemaak op Jesus se kruisdood en opstanding. Vgl. Paulus se verwysing na Jesus se opstanding in terme van Hosea se profesie: “Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” (1 Kor. 15:4). Terugskouend interpreteer Paulus dus die tydperk van Jesus se dood in die lig van Hosea 6:2.

Hosea se profesie kon dus waarskynlik eintlik dieselfde soort betekenis aan Jesus oorgedra het, as wat Hosea hier bedoel het; dat die tyd tussen sy dood en opstanding gou sou duur. Daarop kon Hy staatmaak! Hoewel Jesus dus nie self na dié profesie uit Hosea verwys het nie, kom die tydperk waarvan Hosea praat ooreen met die Skrif waarna Jesus wel verwys, die tyd wat Jona in die maag van die groot vis was (Matt. 12:40). Dit kon dus moontlik vir Jesus ‘n aanduiding wees van die tyd wat Hyself die dood sou moes verduur.

6:4-7:16 – Efraim kry dit egter nie reg om hulle hart op die Here te rig nie

Die hoop beskaam egter in dié geval. God se verwagting van Israel dat hulle tot inkeer sal kom, word nie bevredig nie. Trouens, terwyl Hy nog beoog om hulle te help en hulle lot wil verander, vermeerder die berigte oor hulle sondes. Wat Hom laat uitroep: “Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle getrouheid is soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn.

In drie gedeeltes word God se gedwarsboomde verwagting uitgespel:

  • 6:4-7:2 – Hulle dink nie eers daaraan dat Ek hulle sonde ken nie
  • 7:3-7 – Hulle is die een so onbetroubaar soos die ander
  • 7:8-16 – Hulle geroep om hulp kom nie uit die hart nie

6:4-7:2 – Hulle dink nie eers daaraan dat Ek hulle sonde ken nie

Let op dat selfs in God se oordeel word dit teen die agtergrond van sy eintlike wil tot verlossing gegee. Dit is waarom die Here die profete gestuur het met ‘n oordeelsboodskap, want Hy wil hulle oorhaal om aan Hom getrou te bly. Anders sou Hy hulle immers net aan hulle lot oorgelaat het. En die boodskap is dat Hy nie gehoorsaamheid aan die tempelrituele in die eerste plek soek nie, maar gehoorsaamheid aan Homself, ‘n verhouding wat deur lojaliteit en intieme kennis gekenmerk word.

Dié hoop beskaam egter. Waarop die profeet die verbondsoortreding, boosheid en moorde by die twee dorpe Adam en Gilead sowel as op die pad na Sigem as simboliese getuienis van die volk se oortredinge in hulle verhouding met die Here aandui:

  • Die gebeure rondom Adam word nie verder uitgespel nie, so ons weet nie presies wat daar gebeur het nie.
  • By Gilead was daar egter in dié tyd ‘n staatsgreep uitgevoer deur Peka (lees meer in my bydrae oor die konings van dié tyd: 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here) wat op sy beurt twee jaar later deur Hosea doodgemaak is in ’n sameswering.
  • Wat presies op die pad na Sigem gebeur het, weet ons ook presies nie, maar omdat Sigem nie verder aan in die boek aangespreek word nie, kan dit wees dat afwykende priesters eintlik wou verhinder dat pelgrims by die heiligdom in Sigem aandoen en soos skurke nie geskroom het om in die proses moord te pleeg nie. Dit was juis een van die asielstede waarheen mense kon vlug as hulle in een of ander probleem beland het (Jos. 21:21).

Dit is dié tipe dinge wat die Here oortuig dat hy uiteindelik nie anders kan as om selfs nóg strenger teen hulle op te tree nie. Soos Hy bereid was om die verlossing so seker as die dagbreek te gee (6:3), so bereid is Hy nou om die straf oor hulle te gebied (6:5).

God verwyt hulle daarom: “Hulle dink nie eers daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie.” Hulle gebrek aan ‘n Godsbewussyn haal hulle in en wreek hom op hulle toekomsverwagting: “Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My.

7:3-7 – Hulle is die een so onbetroubaar soos die ander

Die gebrek aan ‘n Godsbewussyn wreek hom selfs op hulle onderlinge verhoudinge. Die leiers en die amptenare steek mekaar in die rug. Staatsgreep volg op staatsgreep, soos ons uit die geskiedenis weet: Peka vermoor vir Pekahia; Hosea vermoor vir Peka. En in dit alles verplaas die amptenare hulle lojaliteit van die een na die ander, telkens na dié een wat vir hulle die meeste persoonlike voordeel inhou. Gevolglik: “Hulle is die een so onbetroubaar soos die ander.

Met ongelooflike beskrywende metafore word die onderlinge vuur waarmee hulle mekaar verbrand, geteken. “Hulle is soos ‘n oond wat aanhou smeul.” Die onderlinge kompetisie en onderduimse ondergrawery hou net nooit op nie. ‘n Mens sien dit in die feit dat: “die verraad in hulle gesmeul het soos ‘n oond”, alreeds toe hulle nog vol eerbetoon die vorige koning gehuldig het! So gou soos hulle die kans gekry het ,het hulle egter die volgende koning ingehuldig, dié een wat na hulle pype kan dans. ‘n Mens dink nog die konflik is verby, dan kom jy agter, hulle was al die tyd soos ‘n oond wat deur die nag sluimerend was, en teen die môre weer opgevlam het.

Mensig! En die tragedie is dat ‘n mens dié dinge steeds in politieke prosesse wêreldwyd vandag nog sien. Geen wonder dat daar ‘n nuwe hemel en aarde nodig is waar God Koning oor alles en almal kan wees nie!

Maar nie een van hulle vra ooit na my wil nie …

7:8-16 – Hulle geroep om hulp kom nie uit die hart nie

Op die koop toe is die Israeliete se mislukte buitelandse beleid sigbaar vir almal behalwe vir die leiers: “Efraim het soos ‘n askoek geword wat verbrand het. Vreemdes het sy krag verteer, maar hy besef dit nie. Hy het muf geraak soos ou brood, maar hy besef dit nie.” Hulle is só besig met mekaar dat hulle nie eers raaksien hoe hulle in die proses pione raak op die skaakbord van die wêreldpolitiek nie.

Ten diepste lê die rede vir hulle misplaaste vertroue op pogings tot alliansies met van die wêreldmagte, in hulle hoogmoedige verwerping van ‘n verhouding met die Here, want hulle: “het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie.

Dit is nie net dom nie, maar destruktief. Hulle vlug weg van die Here af en besef nie dat hulle daardeur direk in die gevaar kom nie: “Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is!” Trouens, die Here sê: “Ek was bereid om hulle te red,” maar hulle slaan dit in die wind.

Selfs waar hulle oënskynlik om hulp roep na die Here, kom dit nie uit hulle hart nie, en lieg hulle oor hulle lojaliteite. Daarom het hulle in die oë van die Here geword soos ‘n nuttelose boog, een wat te slap is om sy werk te doen.

En Egipte sal daaroor lag.” Hulle alliansie met die wêreldleiers sal hulle suur bekom. Egipte sal nie uiteindelik vir hulle help teen Assirië nie. Die ballingskap is hulle voorland, direk vanweë hulle eie dwaasheid.

Boodskap

Dit is ‘n gedeelte wat soos ‘n skop in die maag voel. En dit hou net aan en aan. Laat ons egter goed besef dat al die teëspoed vermy kon geword het deur eenvoudig hulle met hulle hele hart op die Here en sy sorg te werp. Telkens het Efraim en Juda die profete se woorde in die wind geslaan. Telkens het hulle mekaar ondergrawe tot daar niks vir niemand oorgebly het om van te lewe nie. Die ballingskap is dus in die eerste plek hulle eie skuld, al is dit uiteraard agter die skerms ook deel van God se oordeelsvonnis oor hulle.

Ek weet ook dat ons na situasies in ons eie land en natuurlik wyer in Afrika en in die wêreld kyk en parallelle trek. Dit is nie verkeerd nie. Maar, die afgryse daaroor moet ons net nie die dieper boodskap van Hosea laat miskyk nie. Dit is dat die volk en sy leiers ten gronde gaan aan ‘n gebrek aan ‘n Godsbewussyn.

Elkeen van ons wat ‘n pad met God loop, sal dus ook voor ons eie deur moet vee. Doen ek wat Paulus skrywe aan die Filippense? Onthou, hy skryf dit terwyl hy weer onregverdiglik in die tronk sit, en met die wete dat die Filippense onthou dat die stadsbestuur tydens sy besoek aan hulle, hom en Silas onregverdiglik in die tronk gestop het op die valse klagtes van kwaadwilliges (Hand. 16):

Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra … Julle geloof in God is ‘n offer in diens van God …” (Fil. 2:14-18 – lees hier meer oor wat ek daaroor geskrywe het: Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld).

Dít is ook ons opdrag. Ligdraers in hierdie donker wêreld.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar