Skip to main content

Hosea 11:1-11 – My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My

prayer-shawlDis interessant dat die verhouding van God en Israel hier nie as ‘n huweliksverhouding geteken word nie, maar as dié tussen ‘n pa en sy seun. Daarmee word die moontlike seksuele konnotasies van die vrugbaarheidsgodsdienste vermy waarmee die huweliksmetafoor wat vroeër in die boek gebruik is, geasossieer kon word, sodat die kontras met die Baälgodsdiens helder hier getrek kan word.

In Eksodus 4:22 was die boodskap aan farao: “Israel is my oudste seun.” Dit was die aanleidende oorsaak vir die Uittog uit Egipte, soos Hosea hier verklaar: “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” (BDV).

In die NT word dié vers met die kort verblyf van Jesus saam met sy ouers in Egipte verbind, toe die Here hulle opdrag gegee het om die toorn van Herodes te vermy deur ‘n tyd daar te gaan bly voordat hulle in Nasaret hulle gaan vestig het (Matt. 2:15).  Jesus word daarmee in kontras met die volk in die 8ste eeu geteken, want anders as hulle, het Jesus gedy in die verhouding met God en aan Hom gehoorsaam gebly tot die einde toe.

Hosea draai egter nie doekies om in sy beskrywing van die frustrasie wat die Here beleef het in sy verhouding met Israel nádat Hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle status van ‘n slawevolk in Egipte na dié van ‘n vry en selfstandige volk in hulle eie land verander het. Hulle wou egter nie erken dat God hulle versorg het nie, en het hulle lojaliteit verskuif na die Baälgodsdiens toe.

God se straf is die ballingskap weens hulle keuse om onderdanig aan Assirië te word. Dié juk waaronder hulle hulleself geplaas het met die alliansie met die Assiriërs sal nie net hulle selfstandigheid wegneem nie, maar hulle weer die status van ‘n slawevolk laat inneem.

Die Here se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie. Sy worsteling met die gevolge vir sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar sy diep liefde vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” (BDV).

Die Here kry dit nie oor sy hart om hulle te oordeel soos Hy met die mense van Adma en Sebojim gedoen het in die tyd van Abraham nie, waar hulle saam met Sodom en Gomorra omgekom het weens die gewelddadigheid van hulle gemeenskapslewe (Gen. 19; Deut. 29:23).

Daarom verkondig Hosea dat die Here nie uiteindelik heeltemal vernietigend wil optree teen sy volk nie. Hy is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie: “Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” (BDV) Daar sal ‘n oorblyfsel bly wat die Here sal volg en sal terugkom wanneer die Here soos ‘n leeu vir hulle brul (vers 10).

En ons weet dat dít wel gebeur het. Aanvanklik het Assirië mense van ander nasies gebring om hulle in die plek van die Israeliete te vestig in Samaria en die res van die noordryk (2 Kon. 17). Toe dinge nie goed gaan nie: “omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie,” het die koning ‘n aantal weggevoerde priesters laat terugkom om die mense te leer.  Lees meer hieroor in my bydrae: 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword.

Dit het egter nie regtig die gewenste uitwerking gehad nie, en die gemengde bevolking het ‘n gemengde godsdiens gehandhaaf vir die volgende paar eeue. Daarom dat Jesus vir die Samaritaanse vrou, een van die afstammelinge van dié mensegroep, sê: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh. 4:22).

‘n Deel van die noordryk het egter ook as immigrante in Juda kom woon en deel van die volk geword (2 Kron. 30:25 – vgl. ook 1 Kron. 9:3 en 2 Kron. 15:9 waar van hulle gepraat word). Ons lees ook dat die Judese koning Hiskia van die agtergeblewe noordryk mense uitgenooi het om die Paasfees te kom vier in die tyd ná die ballingskap. Dié mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het juis nie mooi geweet hoe hulle hulself moes reinig vir die Paasfees nie!

Ná die ballingskap van die suidryk in 586 v.C. het daar ook ‘n aantal mense van die noordryk wat verstrooi is met die eerste ballingskap in 722 v.C. by die oorblyfsel in Jerusalem in die tyd van Jeremia kom aansluit (Jer. 40:12), hoewel dit ‘n tyd van chaos was en baie van hulle toe doodgemaak is en ‘n verdere uittog na Egipte plaasgevind het. Die edik van Kores van Persië dat die Jode kan terugkeer in 538 v.C. het ook geïmpliseer dat enigiemand in sy breë wêreldryk wat met die Joodse volk geassosieer was, kon terugkeer (Esra 1).

Boodskap

Ons sien hier die begin van die ontwikkeling van die idee van die oorblyfsel. Dit verkondig dat God se liefde en sy genade groter is as sy oordeel. Hy is nie soos die mense wat voor die voet vernietig nie. Daarvoor is Hy te anders, te heilig, te vol van liefde en deernis. Dit is ‘n idee wat deur Jesaja, sy tydgenoot, en deur Jeremia en Esegiël verder ontwikkel sou word en in die NT as deel van die Godsbewussyn hanteer sou word, soos Paulus bv. in Romeine 9-11 sou argumenteer.

Daarin lê ook die hoop van die evangelie opgesluit soos Jesus dit in die evangelie van Johannes uitgedruk het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (3:16). Dít is ‘n belofte wat uiteindelik dus nie net vir die Jode van belang was nie, maar vir elke mens regoor die wêreld.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda