Skip to main content

Hosea 12:1-15 – Die Here het ‘n regsaak teen sy volk

prayer-shawlInleiding

Ons kom by die derde en laaste hoofdeel van die boek van Hosea.

Onthou dat hoofstuk 1-3 die onverkwiklike verhouding tussen die Here en sy volk met ‘n huweliksmetafoor – simbolies geïllustreer met die huwelik van Hosea met Gomer – beskryf het as basis vir die res van Hosea se boodskap. Hoofstuk 4-11 het daarom hoofsaaklik onheilsprofesieë op die tafel gesit waarin die “regsaak” (4:1) wat die Here teen die volk het oor hulle ontrouheid aangevoer word. Tóg het Hy ook verskillende beloftes van herstel gegee onder andere gebaseer op sy deernisvolle liefde vir hulle (11:1-11).

Hoofstuk 12-14 herhaal nou in ‘n tweede rondte weer dié onheilsprofesieë van ‘n “regsaak” (12:3) van die Here teen die volk sowel as die beloftes van herstel van hulle afvalligheid as hulle hulle tot Hom sal bekeer (14:2-10).

Die Here het ‘n regsaak teen sy volk

Let op hoe dieselfde temas van hoofstuk 4-11 weereens hier opgetel en aangeroer word steeds as deel van die “regsaak” wat die Here met die volk het (12:3):

  • Die wispelturigheid in diens van die Here waar hulle lojaliteit telkens van die Here na afgode verskuif – vers 2. Hulle weet nie dat dit so vrugteloos is soos om die wind te probeer vasvang of nog erger agter die wind aan te leef nie.
  • Die alliansies wat hulle met Assirië en Egipte probeer sluit om hulleself polities te handhaaf, uitgedruk met die pragtige metafoor: “Met Assirië sluit hulle ‘n verdrag, maar olyfolie word na Egipte gestuur.” – vers 2.
  • Die skelm ekonomiese uitbuiting van mense, en nog erger, die ontkenning daarvan – vers 8.
  • Die verwysing na Gilead (vgl. hfst. 6) waarskynlik weens die staatsgreep wat daar uitgevoer is deur Peka wat Pekahia doodgemaak het (2 Kon. 15) – vers 12. Gilead se vernietiging word hier ook metafories beskryf.
  • Die verwysing na Gilgal (vgl. hfst 3 en 9) wat nie net die plek is waar ‘n ongesanksureerde heiligdom opgerig, en Baäl (bulle) aanbid is nie, maar ook die plek waar die volk ‘n koning in die plek van die Here se direkte begeleiding verkies het (1 Sam. 15) – vers 12.
  • En darem ook die aanduiding van die pad terug, die pad van bekering, as hulle net na die Here toe sal terugkeer en Hom alleen sal liefhê – vers 7. Onthou die gretige verwagting van die Here wat so pragtig in hfst. 6:2 uitgespel is, sy hoop dat hulle sal sê: “Hy sal ons na twee dae ‘n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.

Wat nuut in dié hoofstuk verwoord word, is die wyse waarop die geskiedenis van Jakob ingeweef word as deel van die motivering vir die oordeel wat die Here nou oor die volk gaan voltrek, sowel as die positiewe verwysing na Moses – hy is die profeet wat in vers 14 genoem word (‘n omkeer van die negatiewe verwysing na die “Ek is” van Gen. 3:14 in Hos. 1:9 wat ook implisiet met Moses verbind word) – wat die rol van die profete as God se gesagvolle woordvoerders motiveer.

Dat dié aanbod in die wind geslaan is, is daarom dubbeld jammersoos dit aan die einde van dié stuk verwoord word: “Maar Efraim het My aangehou tart en verdien die dood. Ek sal hom straf vir sy skandelike gedrag.” (vers 15).

Die verhaal van Jakob as motivering vir terugkeer

Let op hoe vier aspekte van die verhaal van Jakob gebruik word om aan die een kant die volk se ongehoorsaamheid op die tafel te sit, en die ballingskap te motiveer (vgl. vers 13), maar tegelykertyd ook sy inkeer en verhouding met God as model en uitkoms aan hulle voor te hou as belofte van terugkeer.

Die eerste aspek is Jakob se ondermyning van Esau (Gen. 25 en 27), die tweede sy gebed tot God in sy nood, juis by Bet-El (Gen. 28) en die derde sy worsteling met God in die gedaante van ‘n engel (Gen. 32) wat vertel word as motivering en aanmoediging om die Here te soek, ten spyte van hulle verkeerde dade. Daaraan word die ongelooflike belofte gekoppel: “Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou.

In woorde waarop Miga 6:8 later sal uitbrei, word die pad om na God terug te keer, uitgespel: “Jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (NAV). Die meer direkte vertaling maak die verband met Miga nog helderder en duideliker: “Lê jou toe op troue liefde en geregtigheid en wag altyddeur op jou God.” (BDV voorgestel).

Jakob se verblyf in Haran (die landstreek van Aram, die Arameërs) en sy “slawediens” van veertien jaar om vir Lea en Ragel as vroue te “verdien” (Gen. 29-30) word in die vierde plek as motivering in herinnering geroep om hulle te bemoedig dat die Here hulle sal beskerm en ook sal terugbring.

Die verhaal van Moses as motivering om te luister na die profete

Na die verhaal van Moses word net kortliks in vers 14 verwys om die begeleiding en beskerming van die Here: “deur die diens van ‘n profeet,” in woestyn in herinnering te roep as belofte dat die Here weer iets soortgelyks vir hulle sal doen. Die belangrike punt om hier te onthou, is dat dit die Here self is wat deur bemiddeing van Moses die volk begelei het, en dat die Here dit eintlik eksplisiet vir die volk aanbied, hoewel hulle nie positief daarop gereageer het nie.

Let ook op in vers 11 hoe God se sanksionering van die profetiese arbeid die huidige woorde van Hosea ook bevestig. Dit gee ons ook ‘n kykie in van die maniere wat God as openbarings gebruik het: woorde, visioene en gelykenisse. Hosea se huwelik was in sy bediening ook op unieke wyse ‘n simboliese gelykenis aan die volk, soos ons reeds vroeër na verwys het.

Boodskap

Wat in hierdie gedeelte tref is die positiewe gebruik van die verhale van Jakob en Moses om die volk uit hulle verstrikking in hulle afvalligheid los te ruk. Die Here wil hulle geheue wakker maak sodat hulle die toekoms wat ingebed lê in hulle eie verhale uit die verlede weer kan toe-eien. Bet-El was die plek waar die Here hemel en aarde laat ontmoet het in Jakob se lewe, al was hy ‘n aartsbedrieër. Die probleem is dus nie in die eerste plek dat hulle Bet-El as heiligdom gebruik het nie, maar dat hulle Baäl daar aanbid het, en nie die Here nie. Hulle moet dus net hulle fokus na die Here toe verskuif, en Hy sal hulle weer die werklikheid van sy teenwoordigheid in hulle midde laat ervaar.

Die pad wat God wil hê dat hulle met Hom moet stap, is steeds die pad wat Hy met ons ook wil stap. Hy wil hê dat ons Hom sal liefhê en sy bevele gehoorsaam. Hy wil hê dat ons ons hoop altyd op Hom sal stel. In die woorde van die direkte vertaling van vers 7:

Lê jou toe op troue liefde en geregtigheid en wag altyddeur op jou God.

Doen dit vandag, en altyd, en jy sal die lewe hê, en dit in oorvloed.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda