Skip to main content

Hosea 8:1-9:9 – Die tyd van afrekening het gekom

prayer-shawlSoos in Hosea 5:8 word die volgende hoofdeel aangekondig in Hosea 8:1 met die opdrag om die ramshoring, die sjofar, te blaas as waarskuwingsteken. Die boodskap is tweërlei:

  • 8:1-14 – God se toorn het sy volle maat bereik. Dit gaan nou losbreek teen Samaria.
  • 9:1-9 – Die dae van afrekening het vir Efraim en Samaria gekom. Efraim gaan in ballingskap weggevoer word na Assirië.

8:1-14 – God se toorn het sy volle maat bereik

Die ramshoring kondig die dreigende teenwoordigheid van ‘n roofvoël aan, ‘n arend, Assirië. Die rede vir dié toedrag van sake is Israel se verbondsverbreking en verset teen die wil (wet) van die Here. Hulle halfhartige hulpgeroep kon nie hulle verwerping van God wegsteek nie. Daarom laat die Here hulle oor aan hulle verkeerde keuse, hulle keuse téén die goeie en vír die kwade.

God se toorn teen Efraim het sy volle maat bereik. Die Here lys vyf redes vir dié situasie:

  • LEIERSKAP: Hulle het die Here nie geken in die aanstelling van konings en leiers nie.  Dié leiers het gevolglik ook nie die Here geken en gedien nie – 8:4a.
  • AFGODSDIENS: Hulle het afgodsbeelde van silwer en goud gemaak en dié aanbid: “Samaria, jou goue kalf is aanstootlik.” ‘n Duidelike verwysing na Jereobeam se verkeerde optrede deur twee heiligdomme by Bet-El in die suide en Dan in die noorde op te rig, met van alles, twee goue kalwers om te aanbid as die “gode” wat hulle uit Egipte uitgelei het (lees meer in my bydrae: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here). Dit herroep natuurlik ook die goue kalf van Aäron in die woestyn (Eks. 32) – 8:4b-6.
  • POLITIEK: Hulle het alliansies met die wêreldleiers gesoek, en daarmee het hulle reeds hulle onafhanklikheid in die sorg van die Here ingeboet. Hulle weet dit nog nie in feite nie, maar: “Israel is klaar ingesluk.” – 8:8-10.
  • SELFBEVREDIGENDE GODSDIENS: Hulle het meer en meer altare gebou, maar in plaas daarvan om die Here daar te dien, het hulle eintlik offers gebring om hulle self te bevredig: “hulle bring offers sodat hulle dit self kan eet!” – 8:11-13.
  • SELFVERRYKENDE GODSDIENS: Hulle het gefokus op hulle eie voorspoed en gefokus op paleise en vestingstede as sekuriteit, in plaas daarvan om die Here te soek en van Hom afhanklik te lewe. Ons hoor hier alreeds die begin van Jesus se beklemtoning van die Bergrede weerklink: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

In kort: ISRAEL HET SY MAKER VERGEET (8:14). Dit is nie vir die Here aanneemlik nie. Geen wonder dat die Here sê: “As mense wind saai, sal hulle ‘n storm oes.” Dié storm is die toorn van die Here wat Hom op hulle gaan wreek. Sy toorn het sy volle maat bereik.

Hoe verskriklik dat die Here se oordeel oor hulle is: “Al skryf Ek vir hom my wet tienduisend maal neer, dit word as iets vreemds gereken.” (8:12 – BDV). Hulle Godsbewussyn is onherstelbaar verbrokkel.

9:1-9 – Die dae van afrekening het vir Efraim en Samaria gekom

Daarom raai die Here hulle aan om hulle feeste – feeste wat in elk geval onregmatig deur Jerobeam in Samaria ingestel is as ‘n teenvoeter vir die feeste wat die Here vir Jerusalem beveel het – te staak. Hulle moenie langer vrolik wees nie, want die skrif is vir hulle aan die muur.

Let op hoe die Here aankondig dat die normale vermoë van die land om hulle te onderhou, ingekort sal word. Die graan- en die wynoes sal hulle niks meer baat nie, want hulle sal weggevoer word. Ook hulle vermoë om só iets vir die Here te gee, om die oesfees in sy teenwoordigheid te vier, word ingeperk. “Hulle sal nie in die land van die Here bly nie.

Let ook op dat die Here sy eienaarskap van die land bevestig, soos Hy dit regdeur hulle geskiedenis gedoen het (Lev. 25). Die pelgrims sal nie meer die tog na die tempel aanpak nie, want hulle sal in ‘n vreemde land bly en daar te sterwe kom.

Die dae van afrekening het aangebreek; die dae van vergelding het gekom – Israel sal dit ervaar.” (9:7 – BDV).

In ‘n klaarblyklike verwysing na ‘n verwyt wat sommige die profeet Hosea toegesnou het dat hy dwaas en waansinnig is om dié dinge te verkondig, herbevestig Hosea die logika en verantwoordbaarheid van sy oordeelsprofesie. Die oordeel kom weens hulle sonde en vyandigheid teen die Here. Die korrupsie in die land is soos in die Rigtertyd met die tragiese gebeure by Gibea toe geweld ook in die land losgebars het weens die Leviet se byvrou wat daar op grusame wyse verkrag en vermoor is. Sy, sê Rigters, het die oggend dood gelê: “in die deur met haar hande op die drumpel,” toe die Leviet, wat haar gruwelik versaak het, weer wou vertrek (Rigters 19-21).

‘n Mens het nie woorde vir sulke ongenadige gewelddadige optredes nie. Dié gebeure het amper tot die uitwissing van Benjamin gelei … gaan lees die hele afgryslike verhaal om die volle omvang van God se afgryse nou oor Israel se toestand goed te kan begryp.

Só is die land en sy mense nou vir die Here, verkragters en moordenaars, as ‘n mens die volle gewig van die vergelyking met Gibea in gedagte hou. God gaan daarom rekenskap van hulle eis oor hulle sondes. Die dae van afrekening het gekom vir Efraim en Samaria, net soos dit eenmaal vir Gibea gekom het.

Boodskap

Sonde het altyd gevolge. Tragiese gevolge. Onmenslike gevolge. Gibea was ‘n werklikheid en word dit ook altyd weer waar die Here nie erken en gedien word nie. En dit gebeur nie soseer as gevolg van ‘n keuse vir geweld nie. Dit begin daar waar jou godsdiens eintlik net jou eie selfbevrediging en selfverryking dien. Want dan is jy met jouself besig en nie met God nie. Jou voet is dan op ‘n pad wat in skande en skade sal eindig.

Jesus se woorde in die Bergrede – om God se koninkryk en sy geregtigheid in die eerste plek te soek – is daarom ‘n wekroep aan ons om ons prioriteite reg te kry, en God bo alles te dien. Hy hou, soos ‘n Hosea, oor ons die wag. Waar Hy eerste gestel word, daar is nie net vrede en versoening te vinde nie, maar ook voorspoed en veiligheid.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!