Skip to main content

Hosea 4:1-5:7 – Die Here het ‘n regsaak teen die leiers en die volk

prayer-shawlDie Here se regsaak teen die Israeliete, die inwoners van die land, word in vier dele in dié gedeelte uitgepak:

  • 4:1-3 – Geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land
  • 4:1-14 – Ek hou die priesters en profete verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis
  • 4:15-19 – Moenie die slegte voorbeeld van die noordryk volg nie, Juda
  • 5:1-7 – Die leiers se nalatigheid maak dit onmoontlik vir die volk om die Here te ken

4:1-3 – Geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land

Die regsaak word ingelei met ‘n samevatting van God se beoordeling van die situasie in die land en die oordeel wat hy gevolglik oor hulle uitspreek en voltrek. God is dus aanklaer, regter en uitvoerder van die oordeelsvonnis.

Omdat die volk mank gaan aan die regte kennis van God kan hulle nie betroubaar teenoor Hom optree nie, en betoon hulle geen troue liefde of lojaliteit aan Hom nie. Daarom verval hulle in dinge soos meineed (perjury in Engels – “om te lieg onder eed” bv. deur valse getuienis te gee, waarmee hulle God se naam in gedrang bring), bedrog, moord, diefstal en egbreuk en geweld (BDV: “bloedbad volg op bloedbad” – NAV: “is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag”).

Hosea verwys hier na vyf dinge wat veral in die tweede tafel van die wet aangespreek word. In volgorde word oortredings van die derde, negende, sesde, agste, en sewende gebod aangespreek, met die laaste en sesde een oor geweld eintlik ‘n samevatting van die effek wat die ongehoorsaamheid in die land op die gemeenskap het.

Terloops, die Hebreeuse woord “bloedbad” kan ook met “afgod” vertaal word, wat sou beteken dat die laaste oortreding eintlik ‘n oortreding van die tweede gebod verteenwoordig, en baie goed in die konteks van die veroordeling van hulle afgodediens inpas (Stuart).

Omdat die volk dus nie God se voorskrifte vir die lewe volg nie, is daar droogte en kwyn almal weg, selfs die diere, voëls en visse. Let op dat die NAV praat van die visse wat vrek, maar in die oorspronklike staan eintlik dat die visse “bymekaargemaak word”, wat op ekologiese uitbuiting kan dui. Die uitbuiting van bronne begin immers by ‘n gebrek aan ‘n raamwerk van waardes.

Soos Philip Yancy in sy onlangse boek Vanishing Grace: What ever happened to the Good News? (2014) die probleem van ateïsme aandui: waar God uit die prentjie is, is daar eintlik geen waardes meer oor nie, niks om dinge soos ons verantwoordelikhede of selfs dinge soos “regte” te verantwoord nie. ‘n Samelewing val uitmekaar as die Godsbewussyn taan.

4:1-14 – Die priesters en profete is verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis

Die konsep van verantwoording (accountablitity) is nie ‘n nuwe begrip uit die korporatiewe wêreld nie. Dit lê ingebed in die basiese waarderaamwerk van die OT. God hou die leiers – priesters, profete en konings (vgl. 5:1) – verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis. Hulle het hulle primêre taak om woordvoerders vir God te wees, om die volk te leer hoe om God te ken en te dien, versaak.

Die hart van die saak is dus dat die Godsvolk omkom weens ‘n gebrek aan kennis (vers 6), nie net omdat hulle nie geleer is nie, maar ook omdat die priesters self die kennis van God verwerp het. Daarom kan die Here nie anders as om hulle ook te verwerp nie, en hulle nie langer in sy diens te gebruik nie.

‘n Ontstellende prentjie word geteken van wat die leiers, meer spesifiek die priesters, gedoen het. Hulle het geteer op die sonde en sondeskuld van hulle mense. Trouens: “hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig,” want dan word die offers meer, en omdat hulle daarvan geleef het, floreer hulle ekonomies weens die groter omset van offers. Sieklik!

Daarom gaan die Here rekenskap van die leiers eis oor hulle optrede en hulle vergeld vir hulle dade. Hulle manier van doen was direk verantwoordelik daarvoor dat die volk hulle tot afgode gewend het, want die offerdiens was openlik korrup. Die gevolg was dat hulle die Here verlaat het en Hom nie meer geraadpleeg het wanneer hulle die pad vorentoe moes onderskei nie.

‘n Volk wat dus nie met die regte Godsbewussyn leef nie, gaan ten gronde. En dié wat nie op God e waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.

4:15-19 – Moenie die slegte voorbeeld van die noordryk volg nie, Juda

Die Here waarsku die suidryk, Juda, om terwyl hulle nog ‘n kans het, te leer uit die lot wat die noordryk, Israel, gaan tref. Hulle moenie die ongesanksureerde heiligdomme in Gilgal en Bet-El – die Here noem dié heiligdom Bet-Awen, dws. “huis van onreg” in plaas van “huis van God” soos dit eintlik bedoel is om te wees! – besoek en die Here daar gaan dien nie, want dit dra nie sy goedkeuring weg nie.

Die volk se ongehoorsaamheid dwarsboom die sorg en voorsiening van die Here. God laat hulle daarom hulle gang gaan. Die oordeel sal hulle soos ‘n stormwind tref wat hulle in die skande sal bring.

5:1-7 – Die leiers se nalatigheid maak dit onmoontlik vir die volk om die Here te ken

Die Here herhaal sy klag teen die leiers van Israel. Let op hoe Hosea drie groepe leiers uitwys: die priesters, die leiers (“huis van Israel”), en die koninghuis. Dié leiers het ‘n strik geword vir hulle eie mense, uitgedruk met drie metafore wat daarmee verband hou: ‘n wip in Mispa (‘n belangrike vergaderplek in die Rigtertyd [10; 11; 20; 21] sowel as in Samuel se tyd [1 Sam. 7], ook later in die tyd van Jeremia [Jer. 40]), ‘n vangnet oor die berg Tabor (‘n belangrike berg in die noordryk), en ‘n vanggat in Sittim (die plek vanwaar Josua Kanaän binne gegaan het – Jos. 2).

Maar vir dié leiers het die Here nou self ‘n strik geword. Hy gaan hulle almal straf, saam met die volk wat hulle mislei en versaak het.

Die gevolg is dat die volk só vasgeval het in hulle gebrek aan ‘n Godsbewussyn dat hulle nie meer die lewenswyse wat hulle gekies het, kan verlaat nie. Soos die BDV vers 4 vertaal: “Hulle dade laat hulle nie toe om na hulle God terug te keer nie, want ‘n gees van hoerery heers in hulle midde en hulle ken die Here nie.” Watter verskriklike toestand om in te verval!

Dit bring die onvermydelike oordeel van die Here dat hulle Hom nie sal vind as hulle Hom soek nie, want Hy het Hom van hulle onttrek. Hulle gaan binnekort vernietig word en as teken daarvan gaan hulle gesaaides met die nuwemaan verwoes wees, waarskynlik met verwysing na die droogte.

Boodskap

‘n Samelewing val uitmekaar as die Godsbewussyn taan. Uiteraard kan ‘n samelewing met ‘n verkeerde verstaan van God, selfs al is dit baie godsdienstig, ook destruktief optree. Vergelyk maar die voorbeelde deur die geskiedenis in Joodse, Christelike en Islamitiese kontekste.

Maar waar die regte Godskennis geleer word, waar betroubaarheid, en lojaliteit, en liefde teenoor God EN teenoor medemense uitgeleef word, dáár gedy gemeenskappe en uiteindelik die samelewing. Die regte Godsbewussyn is juis bedoel om dinge soos meineed, bedrog, moord, diefstal, egbreuk en geweld te keer. Waar dié dinge dus voorkom, kan ons by voorbaat weet, is daar juis nie die regte Godsbeeld en –bewussyn teenwoordig nie. En kan God en godsdiens nie geblameer word vir die onreg en geweld wat baie keer ons wêreld kenmerk nie. “‘n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde.

Wat beteken dat ons werk moet maak van ons Godsverhouding. Jan Johnson (Invitation to the Jesus Life: Experiments in Christlikeness. Navpress: Colorado Springs, 2008) sê die volgende: “When we put our effort into whatever it takes to help us connect with God, we quite naturally do good things without thinking about them.” Sy noem dit: “accidental obedience”.

Terwyl ons met die Here die pad stap, raak ons gehoorsaam, ‘n mens kan amper sê, sonder dat ons ons instel daarop! En leef die Here eintlik deur ons!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda