Hosea 9:10-10:15 – Hulle sal swerwers wees onder die nasies

prayer-shawlIn hierdie gedeelte stort die Here sy hart uit oor sy eie gedwarsboomde verwagting van sy volk Israel. Hy het in hulle die belofte van wederkerige liefde gesien, maar helaas. Hulle het nie na Hom geluister nie en hulle verhouding het op niks uitgeloop nie. Daarom trek die Here sy beskerming en sorg terug en sal hulle swerwers wees onder die nasies.

9:10-17 – Ek sal hulle nie meer liefhê nie

Let op die besondere metafoor van die druiwe waarmee Israel beskrywe word wat in hoofstuk 10 verder geneem sal word met die metafoor van die wingerdstok. God se opgewondenheid oor die belofte wat die verhouding met Israel ingehou het, het in afgryse verander toe die volk – reeds in die woestyn! – van Hom afvallig geword en in Sittim by die Moabitiese Baäl-Peor vrugbaarheidsgodsdienste se onsedelikheid betrokke geraak het (Num. 25).

Die Here se reaksie daarop is om juis dít wat hulle van Baäl verwag, van hulle af weg te hou, om sy eie kreatiewe rol in vrugbaarheid onwrikbaar te onderstreep. Hulle seksuele losbandigheid bring juis onvrugbaarheid, heel anders as wat hulle verwag het. Hierdie gebrek aan vrugbaarheid is bedoel om hulle tot stilstand te ruk en die nikswerd karakter van Baäl en die vrugbaarheidsgodsdienste te laat raaksien, maar helaas, verniet.

Die profeet onderbreek daarom die woorde van die Here met sy eie instemming met die Here se optrede; “Gee vir hulle, Here, wat U wil gee; gee vir hulle kinderlose moederskote en verskrompelde borste.” As die volk dan nie insig kry oor wie God vir hulle is in God se teenwoordigheid nie, is die hoop dat hulle dit moontlik sal kry wanneer sy teenwoordigheid terug getrek word van hulle. Miskien sien hulle Hom raak wanneer hulle buite God se beskermende en sorgende teenwoordigheid moet sin maak van die lewe.

Die Here roep ‘n volgende plek in herinnering waar hulle optrede Hom vertoorn het, Gilgal. Waarna dit presies verwys, is nie seker nie, maar dit is die plek waar Israel die eerste keer vir ‘n koning gevra het, en waar hulle in feite hulle ontevredenheid met die Here se koningskap getoon het (1 Sam. 11). Dié leiers het immers verder bygedra tot die afvalligheid van God af.

Die Here het daarom ‘n weersin in hulle en wil hulle oor die boosheid van hulle dade van Hom af wegdryf. Hy wil nie verder sy liefde aan hulle bewys nie – hoewel hoofstuk 11 dié boodskap uiteindelik gaan aanpas.

Die slotsom van dit alles is dat die Here hulle verwerp en dat hulle swerwers op die aarde sal word, ‘n duidelike boodskap van die dreigende ballingskap en verstrooiing.

10:1-8 – Valse godsdiens bring Israel in die skande

Die metafoor van die druiwe word verder geneem. Die Here het verwag dat die welige groei van die Israelitiese wingerdstok onder sy sorg hulle erkenning van sy betrokkenheid sou verdiep, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Hulle het altare en gedenkstene (klippilare) gebou waar die Here nie gedien is nie.

Dié oënskynlike toegewydheid was dus ‘n valse godsdiens eintlik net gemik op hulle eie verryking en bevrediging, nie om ‘n diep erkentelike verhouding met die Here te hê nie. Die Here sal daarom net soseer die valse kultus van hulle altare vernietig as wat Hy die konings gaan uitwis. Hulle was immers net so vol vals beloftes en het die land met hulle gebrek aan regspraak vernietig – “soos gifplante wat in die vore langs die land groei.

Hoe onsinnig hulle verering van ‘n dooie afgod – die goue kalf van Bet-Awen (Bet-El) – in wese is, sal getoon word wanneer dié goue kalf ook saam met hulle in ballingskap weggevoer gaan word. Die koning sal soos ‘n stuk dryfhout meegesleur word op die water van die ballingskap en al die plekke waar hulle die afgode gedien het, sal verwoes word.

Die skande sal groot wees, só groot, dat hulle sal wens die berge en die heuwels val op hulle om hulle skande te bedek – woorde wat vir ons, in die lig van Openbaring, ook die einde van die tyd met die finale oordeel in herinnering roep.

10:9-15 – Die tyd om die Here te soek, is helaas verby

Die gebeure by Gibea (Rigters 19-21) word weer in herinnering geroep as motivering vir die straf van die ballingskap. Hulle volharding in die tipe gewelddadigheid van die verlede maak die besluite van die Here om hulle te laat wegvoer ‘n voldonge feit.

God se plan was om die volk in te span vir die werk wat Hy vir hulle op aarde gehad het. Sy opdrag was: “Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.” (vers 12 – BDV). Maar helaas. God se hoop het beskaam. Geregtigheid en troue liefde het deurgaans ontbreek.

Hoewel die twee groot sondes waarvoor die Here hulle verkwalik nie direk uitgespel word nie, word ‘n aantal kenmerke van hulle afvalligheid in vers 13 gelys wat as getuienis dien teen Israel: goddeloosheid (dit word in die NAV met sonde vertaal), leuens (NAV het valsheid), en ‘n vertroue op eie planne. Moontlik verwys die twee sondes na die goddeloosheid en leuens met die vertroue op eie planne as ‘n ekstra verdere beskrywing van wat die gevolge van hulle sondes was.

Daarom gaan die volk vernietig word. Soos Salman (waarskynlik Salmaneser V) vir Bet-Arbel (dorp in Assirië) verwoes het, só sal dieselfde gebeur met Bet-El.

Boodskap

Die ontstellende van hierdie boodskap is vir my dat die aangewese tyd om die Here te soek op ‘n punt verbygaan. Dit is een van die diep waarhede oor God dat Hy dié beloon wat Hom soek (Hebr. 11:6). Maar dit is ook net so waar van God dat daar ‘n tyd kom wanneer Hy nie meer beskikbaar is nie. Waar ‘n mens volhardend weier om die Here te erken, waar jy telkens sy genade aanbod in die wind slaan, daar breek die tyd uiteindelik aan dat genade in oordeel verander. Dit leer die geskiedenis van Israel ons.

Vir ons – en vir die mense rondom ons – bly die aanbod egter nog steeds: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes … Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.” (NAV).

Hosea


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: