Skip to main content

Hosea 9:10-10:15 – Hulle sal swerwers wees onder die nasies

prayer-shawlIn hierdie gedeelte stort die Here sy hart uit oor sy eie gedwarsboomde verwagting van sy volk Israel. Hy het in hulle die belofte van wederkerige liefde gesien, maar helaas. Hulle het nie na Hom geluister nie en hulle verhouding het op niks uitgeloop nie. Daarom trek die Here sy beskerming en sorg terug en sal hulle swerwers wees onder die nasies.

9:10-17 – Ek sal hulle nie meer liefhê nie

Let op die besondere metafoor van die druiwe waarmee Israel beskrywe word wat in hoofstuk 10 verder geneem sal word met die metafoor van die wingerdstok. God se opgewondenheid oor die belofte wat die verhouding met Israel ingehou het, het in afgryse verander toe die volk – reeds in die woestyn! – van Hom afvallig geword en in Sittim by die Moabitiese Baäl-Peor vrugbaarheidsgodsdienste se onsedelikheid betrokke geraak het (Num. 25).

Die Here se reaksie daarop is om juis dít wat hulle van Baäl verwag, van hulle af weg te hou, om sy eie kreatiewe rol in vrugbaarheid onwrikbaar te onderstreep. Hulle seksuele losbandigheid bring juis onvrugbaarheid, heel anders as wat hulle verwag het. Hierdie gebrek aan vrugbaarheid is bedoel om hulle tot stilstand te ruk en die nikswerd karakter van Baäl en die vrugbaarheidsgodsdienste te laat raaksien, maar helaas, verniet.

Die profeet onderbreek daarom die woorde van die Here met sy eie instemming met die Here se optrede; “Gee vir hulle, Here, wat U wil gee; gee vir hulle kinderlose moederskote en verskrompelde borste.” As die volk dan nie insig kry oor wie God vir hulle is in God se teenwoordigheid nie, is die hoop dat hulle dit moontlik sal kry wanneer sy teenwoordigheid terug getrek word van hulle. Miskien sien hulle Hom raak wanneer hulle buite God se beskermende en sorgende teenwoordigheid moet sin maak van die lewe.

Die Here roep ‘n volgende plek in herinnering waar hulle optrede Hom vertoorn het, Gilgal. Waarna dit presies verwys, is nie seker nie, maar dit is die plek waar Israel die eerste keer vir ‘n koning gevra het, en waar hulle in feite hulle ontevredenheid met die Here se koningskap getoon het (1 Sam. 11). Dié leiers het immers verder bygedra tot die afvalligheid van God af.

Die Here het daarom ‘n weersin in hulle en wil hulle oor die boosheid van hulle dade van Hom af wegdryf. Hy wil nie verder sy liefde aan hulle bewys nie – hoewel hoofstuk 11 dié boodskap uiteindelik gaan aanpas.

Die slotsom van dit alles is dat die Here hulle verwerp en dat hulle swerwers op die aarde sal word, ‘n duidelike boodskap van die dreigende ballingskap en verstrooiing.

10:1-8 – Valse godsdiens bring Israel in die skande

Die metafoor van die druiwe word verder geneem. Die Here het verwag dat die welige groei van die Israelitiese wingerdstok onder sy sorg hulle erkenning van sy betrokkenheid sou verdiep, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Hulle het altare en gedenkstene (klippilare) gebou waar die Here nie gedien is nie.

Dié oënskynlike toegewydheid was dus ‘n valse godsdiens eintlik net gemik op hulle eie verryking en bevrediging, nie om ‘n diep erkentelike verhouding met die Here te hê nie. Die Here sal daarom net soseer die valse kultus van hulle altare vernietig as wat Hy die konings gaan uitwis. Hulle was immers net so vol vals beloftes en het die land met hulle gebrek aan regspraak vernietig – “soos gifplante wat in die vore langs die land groei.

Hoe onsinnig hulle verering van ‘n dooie afgod – die goue kalf van Bet-Awen (Bet-El) – in wese is, sal getoon word wanneer dié goue kalf ook saam met hulle in ballingskap weggevoer gaan word. Die koning sal soos ‘n stuk dryfhout meegesleur word op die water van die ballingskap en al die plekke waar hulle die afgode gedien het, sal verwoes word.

Die skande sal groot wees, só groot, dat hulle sal wens die berge en die heuwels val op hulle om hulle skande te bedek – woorde wat vir ons, in die lig van Openbaring, ook die einde van die tyd met die finale oordeel in herinnering roep.

10:9-15 – Die tyd om die Here te soek, is helaas verby

Die gebeure by Gibea (Rigters 19-21) word weer in herinnering geroep as motivering vir die straf van die ballingskap. Hulle volharding in die tipe gewelddadigheid van die verlede maak die besluite van die Here om hulle te laat wegvoer ‘n voldonge feit.

God se plan was om die volk in te span vir die werk wat Hy vir hulle op aarde gehad het. Sy opdrag was: “Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.” (vers 12 – BDV). Maar helaas. God se hoop het beskaam. Geregtigheid en troue liefde het deurgaans ontbreek.

Hoewel die twee groot sondes waarvoor die Here hulle verkwalik nie direk uitgespel word nie, word ‘n aantal kenmerke van hulle afvalligheid in vers 13 gelys wat as getuienis dien teen Israel: goddeloosheid (dit word in die NAV met sonde vertaal), leuens (NAV het valsheid), en ‘n vertroue op eie planne. Moontlik verwys die twee sondes na die goddeloosheid en leuens met die vertroue op eie planne as ‘n ekstra verdere beskrywing van wat die gevolge van hulle sondes was.

Daarom gaan die volk vernietig word. Soos Salman (waarskynlik Salmaneser V) vir Bet-Arbel (dorp in Assirië) verwoes het, só sal dieselfde gebeur met Bet-El.

Boodskap

Die ontstellende van hierdie boodskap is vir my dat die aangewese tyd om die Here te soek op ‘n punt verbygaan. Dit is een van die diep waarhede oor God dat Hy dié beloon wat Hom soek (Hebr. 11:6). Maar dit is ook net so waar van God dat daar ‘n tyd kom wanneer Hy nie meer beskikbaar is nie. Waar ‘n mens volhardend weier om die Here te erken, waar jy telkens sy genade aanbod in die wind slaan, daar breek die tyd uiteindelik aan dat genade in oordeel verander. Dit leer die geskiedenis van Israel ons.

Vir ons – en vir die mense rondom ons – bly die aanbod egter nog steeds: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes … Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.” (NAV).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hosea


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…