Esra 5 – God ondersteun die leiers deur die profete Haggai en Sagaria in die bou van die tempel

Hoofstuk 5 en 6 van Esra hervat die verhaal van die bou van die tempel in die konteks van verbete teenstand van die goewerneur van die Wes-Eufraat, Tattenai en sy bondgenote.  Dit is net met:

  • die vasberade ondersteuning van twee Skrifprofete, Haggai en Sagaria,
  • die beskikking van God self om die leiers van Juda se hande te sterk en
  • die uiteindelike onomwonde steun van koning Darius van Persië wat die tempel voltooi is en met groot vreugde ingewy is. 

Darius beveel selfs uiteindelik die teenstanders om sonder versuim en nougeset die tempelbou projek te ondersteun.  Praat van ironie!  Dit loop uit op die vreugdevolle viering van die Paasfees, waarskynlik die eerste een ná die terugkeer uit ballingskap.

Ons lees vandag hoofstuk 5 en môre hoofstuk 6.

Die bystand en ondersteuning van Haggai en Sagaria

Die werk aan die tempel in Jerusalem is weens die intimidasie en omkopery van die mense van die land vir ‘n baie lang tyd gestaak, amper 20 jaar, sodat die tempel bly lê het – met net die fondamente gegooi – tot in die tweede regeringsjaar van koning Darius (Hystaspes), d.w.s. 521 v.C.

In ’n kort mededeling word die werk van twee profete aan die einde van dié tyd erken, Haggai en Sagaria, wat die Jode van die stad Jerusalem sowel as in die platteland van Juda aangespreek het oor hulle gebrek aan durf en moed om die tempel bouwerk te voltooi, al was daar groot teenstand.

Die profeet Haggai se boodskap

Haggai tree in ’n kort vier maande tydperk op van die 1ste dag van die sesde maand van die tweede regeringsjaar van koning Darius tot en met die 24ste dag van die negende maand van dié jaar – 521 v.C.  Hy lewer 4 kort kragtige boodskappe waarin:

  • God op die 1ste dag van die sesde maand die leiers, Serubbabel en Jesua, asook die volk skerp aanspreek dat hulle fokus op die bou van hulle eie huise, eerder as Sy huis – 1:1-11 – en die volk daarop reageer en ná 24 dae begin om die tempel te bou – 1:12-15;
  • God ’n maand en ’n half later op die 21ste dag van die sewende maand die volk sterk bemoedig met die belofte van sy Gees ná hulle al ongeveer ’n maand besig was – 2:1-9 (iets wat Sagaria ook pertinent doen – Sag 4:6);
  • God hulle twee maande later op die 24ste dag van die negende maand bemoedig met ’n belofte van voorspoed in terme van oeste en die afwesigheid van peste en rampe – 2:10-19;
  • God op dieselfde dag spesifiek vir Serubbabel bemoedig vir sy taak om die volk te lei binne die politieke uitdagings van sy tyd, omdat God hom uitgekies het en vir sy taak sal bemagtig – 2:20-23.

Die profeet Sagaria se boodskap

Sagaria begin sy bediening in die agste maand van die tweede regeringsjaar van koning Darius, d.w.s. net voor Haggai se twee boodskappe van voorspoed en verkiesing (2:10-23) – 521 v.C.  Hy begin met ’n woord wat die volk oproep tot bekering (1:1-6).  Drie maande later op die 24ste dag van die elfde maand begin hy ’n reeks van 8 gesigte sien waarin hy insig kry, ondersteun deur ’n engel (4:1):

  • in die passie van die Here wat Hom oor hulle ontferm dat die tempel weer herbou word (1:7-17 – die ruiters op bruin, vos en wit perde);
  • in die beskerming wat die Here sy volk teen die ander koninkryke van die wêreld sal gee (1:18-20 – die vier horings en vier ambagsmanne);
  • in die teenwoordigheid van die Here in die stad self, maar wat ook ’n muur van vuur rondom die stad sal wees (2:1-13 – die man met die maatlyn wat Jerusalem opmeet);
  • in die vergifnis en verantwoordelikheid wat die Here aan die hoëpriester Jesua gee ten spyte van die aanklagte van die Satan (3:1-10 – die hoëpriester Jesua wat skoon klere kry);
  • in die bemoediging en bemagtiging wat die Here aan die goewerneur Serubbabel gee dat hy deur God se Gees sal slaag, nie deur eie mag en krag nie, want die Here sien alles en laat Homself nie onbetuig nie (4:1-14 – die kandelaar met sewe tuite en lamppitte tussen twee olyfbome);
  • in die vervloeking van God wat oor alle diewe en valse mense sal kom (5:1-4 – die boekrol wat in die lug sweef);
  • in die uitwissing van die sonde en goddeloosheid van almal op die aarde (5:5-11 – die graanmandjie met die vrou);
  • in die Here wat besit neem van die hele aarde wat in elk geval aan Hom behoort (6:1-8 – die vier strydwaens).

Dit word opgevolg met die opdrag om die hoëpriester Jesua te kroon waarin hy ’n metafoor word vir wat God in die toekoms gaan doen met ’n man met die naam “Loot” – 6:9-15.

Twee jaar later, in die negende maand van die vierde regeringsjaar van koning Darius (519 v.C.), kom die woord van die Here na Sagaria in antwoord op ’n navraag oor vasdae, dat Hy van hulle vra om reg te laat geskied aan almal, liefde en barmhartigheid te bewys aan mekaar, die weduwee, weeskind, vreemdeling en arme nie te verdruk nie en nie bose planne teen mekaar te bedink nie (woorde wat aan Miga 6:8 herinner) – 7:1-14.

Nog drie woorde van die Here kom in hierdie tyd na Sagaria oor:

  • God se terugkoms na Sion wat tot voorspoed en
  • feestelikheid sal lei, sodat
  • die nasies aan God verbind sal word – 8:1-23.

Hierna skuif Sagaria se fokus volledig na God se passie vir die nasies en die Messiaanse tyd wat aan die kom is vir sy volk asook vir die hele aarde – hfst. 9-14.  Daaroor later wanneer ek die profeet as sodanig behandel.

Die effek van dié twee profete op die leiers en die volk van Juda

Hierdie 4 boodskappe van Haggai (aangespreek en bemoedig), het die leiers van Juda geïnspireer om weer te begin bou aan die tempel.  Dit het ’n effek gehad op die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua.

Die 8 visioene van Sagaria het hulle weer regdeur die tyd wat hulle gebou het aan die tempel ondersteun en bemoedig, deurdat hulle kennis geneem het van wat God hulle gee – passie en ontferming, beskerming, Sy teenwoordigheid, vergifnis en verantwoordelikheid, bemoediging en bemagtiging – en wat Hy hulle belowe – vervloeking van goddeloses, uitwissing van die sonde en ’n besit neem van die hele aarde.  Laasgenoemde is uiteraard ook beloftes wat meer op die toekoms slaan.

Die bystand en ondersteuning van die twee profete was dus onontbeerlik vir hulle standvastigheid. Dink net daaraan dat jy in ’n kerk sit en dié twee profete as predikers het!  Dit wys ook hoe profesie nie net – soos mense soms aanneem – met die toekoms te make het nie, maar veral met die verklaring van God se wil vir die hede.  O, mag ons meer súlke profetiese prediking ervaar ook vir ons eie tyd!

Die teenstand van die Wes-Eufraatse goewerneur Tattenai

Soos dit maar altyd is, bly die teenkanting nie uit nie.  Die Wes-Eufraatse goewerneur Tattenai en sy bondgenote verskerp die intimidasie deur nie net neerhalend van die tempel te praat as ’n timmerasie nie – en onthou, die Jode was maar al te bewus van die feit dat die tempel nie tot sy vorige glorieryke gestalte herstel sou kon word nie, daarvoor was hulle te arm – maar ook te kyk of hulle nie deur koning Darius ’n einde aan die bouery kan bring nie.

Maar die Here het die Joodse leiers versterk, met Haggai en Sagaria se persoonlike boodskappe aan Jesua en Serubbabel, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom ’n beslissing oor die saak ontvang is.

Vervolgens word die brief aan Darius redelik volledig aangehaal, waarin ook die Joodse aansprake aangehaal word, met verwysing na die ballingskap onder Nebukadnesar en die vrylating onder Kores.  Tattenai wou die konkrete getuienis uit die koninklike argiewe bekom, voordat hy die Jode sou toelaat om die tempel te voltooi.

Môre lees ons vêrder aan Darius se antwoord.

Esra


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: