Esra 9 – Esra verootmoedig hom namens die volk voor God oor hulle godsdienstig-gemengde huwelike

Dit wil voorkom asof Esra so besig was met praktiese reëlings rondom die funksionering van die tempel asook die vestiging van goeie verhoudings met die regeerders van die Wes-Eufraat – moontlik moes hy ’n paar keer reis in dié tyd – dat die situasie op grondvlak rondom godsdienstig-gemengde huwelike hom ontgaan het. Ons lei dit af uit die feit dat hierdie gebeure volgens Esra 10:9 in die 9de maand van 458 v.C. plaasvind, terwyl hy al in die 5de maand van dié jaar daar aangekom het (Esr. 7:8).  Hy word eers bewus van die problematiek ná 4 maande in Jerusalem.

Die effek op Esra is baie dramaties, nie omdat hy of enige van dié mense wat saam met hom uit Babel gekom het, daaraan skuldig was nie, maar omdat hy deel geword het van die geloofsgemeenskap van Jerusalem en solidêr met hulle was en hulle sonde dus ook op hom en die teruggekeerdes ’n impak gehad het.  Hulle verbintenis aan die Here word ook deur die sonde van die oortreders in gevaar gestel.

Hy skeur dus sy klere, trek van sy hare en baard uit en gaan sit verslae voor die Here in die tempel tot die aand toe.  Terloops, Nehemia tree heel anders op 25 jaar later met sy tweede besoek aan Jerusalem in 533 v.C., toe hy agterkom dat daar steeds godsdienstig-gemengde huwelike plaasgevind het en trek eerder die oortreders se hare uit as sy eie (Neh. 13:25)!

In ’n roerende gebed verootmoedig Esra homself voor God, namens die volk – let op die wisseling van “ek is te skaam” na “ons sonde is hoog opgestapel” – en hy vra vir hulle as geloofsgemeenskap vergifnis van die Here.  Die sondes van die verlede het hulle immers suur bekom in terme van die ballingskap, maar dieselfde gevaar dreig nou weer eens.  Die genade van die terugkoms na hulle land – veral ook geïllustreer in die goeie guns wat God in die harte van die regeerders teenoor hulle bewerk het – is meteens weer in gedrang.

Die wet was immers baie duidelik rondom godsdienstig-gemengde huwelike, veral met die omringende nasies, die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, asook die Egiptenaars en Amoriete.  Dit het Eks. 34:16 (vgl. ook Deut. 7:1-4) reeds duidelik uitgespel, dat godsdienstig-gemengde huwelike streng verbode was, weens die gevaar van afvalligheid wat inherent in súlke huwelike opgesluit was.

Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie verbod op godsdienstig-gemengde huwelike niks met afkoms of etnisiteit te doene gehad het nie, soos onder andere die verhale van Moses wat met ’n Kussitiese vrou getroud was (Num. 12), en Rut, ’n Moabiet, wat met Boas getroud is, duidelik maak.  Trouens, die Here tree baie skerp op teen Mirjam en Aäron wat op rassistiese grond beswaar maak teen Moses se huwelik met die Kussitiese vrou en tref Mirjam met melaatsheid.  Rut word daarby weens haar onomwonde lojaliteit aan die God van Israel selfs ingesluit in die Messiaanse geslagslyn (soos ook die geval was met Ragab, die Kanaäniet van Jerigo, wat Boas se ma was – Matt. 1:5) en word Dawid se oumagrootjie.

Maar die wet se duidelike verbod op godsdienstig-gemengde huwelike, sowel as die ervarings wat die Israeliete gehad het rondom van hulle konings se huwelike met vroue uit ander godsdienste – bv. Salomo wat teen die bevel van die Here verlief geraak het op die vroue van die omringende nasies en daarmee van die Here afvallig geraak het (1 Kon. 11 – vgl. Nehemia wat sterk hierop hamer in Neh. 13) – het só swaar geweeg dat Esra die toedrag van sake in Jerusalem nie kon oorsien nie

Hulle identiteit as Gods volk was op die spel.  Deur huwelike met mense van ander godsdienste te sluit, het die Jode hulle verhouding met God verbreek en hulle blootgestel aan afgodsdiens.  Die suiwerheid van hulle verbintenis aan God en die roeping wat die Here vir hulle het om ’n lig vir die nasies te wees (Jes. 2) was in gevaar.

Die tafel was dus gedek vir die tragiese, maar onafwendbare optrede, waarvan ons in hoofstuk 10 gaan lees.

Esra


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: