Skip to main content

Esra 9 – Esra verootmoedig hom namens die volk voor God oor hulle godsdienstig-gemengde huwelike

Dit wil voorkom asof Esra so besig was met praktiese reëlings rondom die funksionering van die tempel asook die vestiging van goeie verhoudings met die regeerders van die Wes-Eufraat – moontlik moes hy ’n paar keer reis in dié tyd – dat die situasie op grondvlak rondom godsdienstig-gemengde huwelike hom ontgaan het. Ons lei dit af uit die feit dat hierdie gebeure volgens Esra 10:9 in die 9de maand van 458 v.C. plaasvind, terwyl hy al in die 5de maand van dié jaar daar aangekom het (Esr. 7:8).  Hy word eers bewus van die problematiek ná 4 maande in Jerusalem.

Die effek op Esra is baie dramaties, nie omdat hy of enige van dié mense wat saam met hom uit Babel gekom het, daaraan skuldig was nie, maar omdat hy deel geword het van die geloofsgemeenskap van Jerusalem en solidêr met hulle was en hulle sonde dus ook op hom en die teruggekeerdes ’n impak gehad het.  Hulle verbintenis aan die Here word ook deur die sonde van die oortreders in gevaar gestel.

Hy skeur dus sy klere, trek van sy hare en baard uit en gaan sit verslae voor die Here in die tempel tot die aand toe.  Terloops, Nehemia tree heel anders op 25 jaar later met sy tweede besoek aan Jerusalem in 533 v.C., toe hy agterkom dat daar steeds godsdienstig-gemengde huwelike plaasgevind het en trek eerder die oortreders se hare uit as sy eie (Neh. 13:25)!

In ’n roerende gebed verootmoedig Esra homself voor God, namens die volk – let op die wisseling van “ek is te skaam” na “ons sonde is hoog opgestapel” – en hy vra vir hulle as geloofsgemeenskap vergifnis van die Here.  Die sondes van die verlede het hulle immers suur bekom in terme van die ballingskap, maar dieselfde gevaar dreig nou weer eens.  Die genade van die terugkoms na hulle land – veral ook geïllustreer in die goeie guns wat God in die harte van die regeerders teenoor hulle bewerk het – is meteens weer in gedrang.

Die wet was immers baie duidelik rondom godsdienstig-gemengde huwelike, veral met die omringende nasies, die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, asook die Egiptenaars en Amoriete.  Dit het Eks. 34:16 (vgl. ook Deut. 7:1-4) reeds duidelik uitgespel, dat godsdienstig-gemengde huwelike streng verbode was, weens die gevaar van afvalligheid wat inherent in súlke huwelike opgesluit was.

Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie verbod op godsdienstig-gemengde huwelike niks met afkoms of etnisiteit te doene gehad het nie, soos onder andere die verhale van Moses wat met ’n Kussitiese vrou getroud was (Num. 12), en Rut, ’n Moabiet, wat met Boas getroud is, duidelik maak.  Trouens, die Here tree baie skerp op teen Mirjam en Aäron wat op rassistiese grond beswaar maak teen Moses se huwelik met die Kussitiese vrou en tref Mirjam met melaatsheid.  Rut word daarby weens haar onomwonde lojaliteit aan die God van Israel selfs ingesluit in die Messiaanse geslagslyn (soos ook die geval was met Ragab, die Kanaäniet van Jerigo, wat Boas se ma was – Matt. 1:5) en word Dawid se oumagrootjie.

Maar die wet se duidelike verbod op godsdienstig-gemengde huwelike, sowel as die ervarings wat die Israeliete gehad het rondom van hulle konings se huwelike met vroue uit ander godsdienste – bv. Salomo wat teen die bevel van die Here verlief geraak het op die vroue van die omringende nasies en daarmee van die Here afvallig geraak het (1 Kon. 11 – vgl. Nehemia wat sterk hierop hamer in Neh. 13) – het só swaar geweeg dat Esra die toedrag van sake in Jerusalem nie kon oorsien nie

Hulle identiteit as Gods volk was op die spel.  Deur huwelike met mense van ander godsdienste te sluit, het die Jode hulle verhouding met God verbreek en hulle blootgestel aan afgodsdiens.  Die suiwerheid van hulle verbintenis aan God en die roeping wat die Here vir hulle het om ’n lig vir die nasies te wees (Jes. 2) was in gevaar.

Die tafel was dus gedek vir die tragiese, maar onafwendbare optrede, waarvan ons in hoofstuk 10 gaan lees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esra


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms