Esra 8 –God bewaar Esra en sy geselskap en maak hulle reis voorspoedig
Hoofstuk 8 bevat drie perikope wat:
- die mense lys wat saam met Esra teruggekeer het na Jerusalem – 8:1-14,
- die werwing van ’n klomp Leviete om saam te gaan – 8:15-20 en
- die reis na en aankoms in Jerusalem – 8:21-36.
Die mense wat saam met Esra teruggekeer het na Jerusalem – 8:1-14
Esra lys veertien families volgens hulle familiehoofde. Die eerste twee families is priesterlik en die volgende twaalf normale Joodse families, wat op simboliese vlak die twaalf stamme van Israel in herinnering roep, hoewel dit nie letterlik daarmee ooreenkom nie. Esra behoort natuurlik self aan die eerste priesterlike familie wat genoem word, Pinehas, nageslag van Aäron.
Die ooreenkomste tussen dié lys van families en dié van Esra 2 wys vir ons dat die terugkeer na Juda en Jerusalem stuksgewys gebeur het. Daarom staan daar in vers 13 dat dié wat uit die nageslag van Adonikam saam gereis het met Esra, “van die laastes” van hulle familie was.
Die werwing van ’n klomp Leviete om saam te gaan – 8:15-20
Esra laat die geselskap bymekaarkom by waarskynlik ’n sytak van die Eufraat wat by ’n dorpie Ahawa verbyloop en kamp daar om bestek op te neem van wie saamgaan en wie hulle nog nodig het om die opdrag van die koning te gaan uitvoer. Toe hy vasstel dat daar nie een Leviet onder die reisgeselskap is nie, het hy nege leiers en twee ander verstandige manne – die woord wat met verstandige vertaal word, dui waarskynlik op óf goeie onderwysers (diplomate!) of goeie uitleggers van die wet – gestuur om van die leiers, veral Iddo, wat gekies het om nie saam te trek na Jerusalem toe nie, te vra om hulle invloed te gebruik om die tempel personeel aan te vul.
Esra wyt die uiteindelike positiewe reaksie aan die beskikking van God wat onder andere vir Serebja en Gasabja en hulle onderskeie geselskappe oortuig het om saam te kom. Hulle was ’n aanwins, nie net in terme van hulle wysheid en vaardighede nie, maar ook in terme van getalle.
Die reis na en aankoms in Jerusalem – 8:21-36
Esra verenig die reisgeselskap in vas en gebed voor die Here, nie net om hulle aan God te verbind nie, maar ook om te illustreer dat hulle nou ’n geloofsgemeenskap is wat aan God en mekaar behoort. Hy vra vir “’n voorspoedige reis” – letterlik staan daar “’n reguit pad” – en dat die Here hulle met hulle “afhanklikes” – letterlik staan daar “swakkes” wat waarskynlik op die kinders en ouer mense dui – en hulle besittings sal beskerm op die pad.
Hoe eerlik is Esra nie in sy gebed, dat hy skaam was om vir die koning vir begeleiding te vra teen moontlike vyande langs die pad nie! Hy wou nie die koning die idee gee dat hulle net praatjies maak oor God se sorg vir almal wat hom dien nie. Daarom vra hy nou hulp van God vir die reis, ter wille van 1) hulleself, maar ook 2) ter wille van ’n getuienis aan die koning. En hulp sou hulle nodig hê met soveel goud en silwer wat vervoer moes word! Terloops: Nehemia het nie geskroom om die koning se aanbod van offisiere en ruiters te aanvaar nie (Neh. 2:9), waarskynlik omdat sy missie meer polities van aard was, maar ook as ’n getuienis van ’n ander manier van doen wat ook die Here se goedkeuring wegdra.
Interessant dat Esra sê God het hulle gebede verhoor, voordat hulle eers vertrek het. Dit wil voorkom asof hulle vir ’n oortuiging of ’n teken gewag het, voor hulle die pad sou aandurf, hoewel ons geen detail kry van hoe hulle dit ontvang het nie.
Daarna het hulle die pad aangedurf na hulle ’n regverdige verdeling van die bagasie gemaak het. Die verdeling was ook publiek en deursigtig sodat almal kon weet dat daar met verantwoordelikheid met die geskenk van die koning omgegaan sou word. Daarom sê Esra vir die priesters om wakker te wees en die gawes op te pas totdat hulle dit kon uitpak in Jerusalem en almal kon sien dat dit volgens voorskrifte hanteer is.
Die reis was inderdaad voorspoedig, omdat God sy hand oor hulle gehou het en hulle nie in die mag laat val het van vyande of rowers langs die pad nie. Ná die lang reis het hulle weer drie dae gerus – net soos hulle drie gevas en gebid het – en op die vierde dag alles oorhandig aan die tempel personeel. Alles was in orde.
In hulle toewyding aan die Here is brandoffers gebring waarmee hulle totale toewyding aan die Here gesimboliseer is. Soos die hele brandoffer verbrand is, só was hulle heeltemal afgesonder aan die Here.
Die bystand van die staatsmasjinerie van die Wes-Eufraat het ook ingeskop ná hulle die nodige dokumente van die koning oorhandig het.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Esra - August 7, 2013
- Esra 1 – God beweeg Kores en die volk om na Juda terug te keer
- Esra 2-3 – Die Jode vestig hulle weer in die land en herstel hulle verhouding met God - August 8, 2013
- Esra 4 – Die mense van die land bied sterk weerstand teen die bou van die tempel en die mure van die stad - August 9, 2013
- Esra 5 – God ondersteun die leiers deur die profete Haggai en Sagaria in die bou van die tempel - August 12, 2013
- Esra 6 – Darius gee opdrag dat die tempel voltooi word met die ondersteuning van die staat - August 13, 2013
- Esra 7 – God stuur Esra as Skrifgeleerde om die onderrig en regspraak vanuit die wet van God te behartig - August 14, 2013
- Esra 8 –God bewaar Esra en sy geselskap en maak hulle reis voorspoedig - August 15, 2013
- Esra 9 – Esra verootmoedig hom namens die volk voor God oor hulle godsdienstig-gemengde huwelike - August 16, 2013
- Esra 10 – Die geloofsgemeenskap vernuwe die verbond deur godsdienstig-gemengde huwelike te ontbind - August 19, 2013
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.