Esra 4 – Die mense van die land bied sterk weerstand teen die bou van die tempel en die mure van die stad

Die weerstand teen die bou van die tempel

Dat die nie-Israelitiese inwoners (letterlik: “die mense van die land”) hier as vyande beskryf word – ’n mens kan hulle na alle waarskynlikheid die Samaritane noem – hou verband met die beskrywing in hfst. 3:3 van die Jode se vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land.  ’n Mens moet onthou dat die Jode nou na die ballingskap weer hulle intrek geneem het in hulle eie huise en woonplekke, maar dat dié plekke amper ’n eeu laas bewoon was.  Dat daar dus konflik was met die huidige inwoners van die land, selfs oor die Jode se eie eiendom, was dus onvermydelik.

Dit val op dat die aanbod van die mense van die land om saam met die Jode te bou aan die tempel baie afwysend hanteer word.  Let op dat die Jode praat van ons God waarmee hulle die aanspraak van die mense van die land dat hulle dieselfde God aanbid, afwys.  Die argument van die Samaritane dat hulle offers aan dié God gebring het van die tyd van die Assiriese koning Esarhaddon af (681-669 v.C.) as motivering om nou saam met die Israeliete te aanbid, maak ook nie hond haaraf by die leiers van die Jode nie.  Daarmee bevestig die mense van die land ironies genoeg dat hulle hulleself as ’n aparte volk beskou, want hulle het nie dieselfde toenadering gesoek by die Jode in die rofweg 100 jaar, toe gesamentlike aanbidding nog moontlik was, voor die Babiloniese ballingskap aangebreek het nie.  Waarom dan nou?

2 Konings 17:24-41 brei uit oor dié Samaritaanse geskiedenis waarin die Assiriese koning Esarhaddon verskillende volke in die stede van Samaria – die voormalige noordryk – gevestig het in die plek van die Israeliete wat in die eerste ballingskap van 722 v.C. weggevoer is in die tyd van sy voorganger Salmaneser.  Dit het tot gemengde huwelike gelei, sowel as ’n dien van afgode, hoewel daar ook pogings was om “die regte verering van die God van die land te leer.”  Selfs van die priesters het teruggekom uit ballingskap om die mense in Bet-El te leer hoe hulle die Here moet vereer.  Volgens Konings was dié pogings egter vrugteloos omdat elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit het in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is.

Hoe dit ook al sy, hierdie weiering tot samewerking deur die Jode met hulle terugkeer uit ballingskap bring ’n groot verwydering en ’n groeiende vyandskap met die Samaritane wat lei daartoe dat die mense van die land die bouwerk met intimidasie en omkopery in die wiele wou ry.  Die konflik het strykdeur aangehou van die tyd van koning Kores af (539 v.C.) tot met die tyd van koning Darius van Persië (522 v.C.).

Op ’n geestelike vlak leer ons hieruit dat geen opdrag van die Here ooit uitgevoer kan word sonder dat daar nie ook teenstand sal wees nie.  Dié teenstand kan baie vorms aanneem en selfs uitmergelend lank die werk vir en van die Here kortwiek en selfs tot stilstand bring.  ’n Mens moet ook in die proses baie seker maak met wie jy hande vat in die werk van die Here en nie net mense aanvaar op onvaste gronde nie.  Geduld, gehoorsaamheid en onderskeiding ten spyte van gevaar en bedreiging – selfs van oënskynlike gewillige vennote – is dan nodig om te volhard en te wag op die uitkoms wat die Here sal bring.

In hakies: die konflik oor die bou van die mure van die stad

In vers 6-23 word die verdere konflik oor die herbou van die mure van die stad in die tyd van Darius se seun, Ahasveros (Xerxes – die tyd van Ester – vers 6 – 486 v.C.) en dié se seun Artasasta (Artaxerxes – die tyd van Esra en Nehemia – vers 7-23 – 465 v.C.) beskryf, voor in vers 24 weer teruggekeer word na vers 5 se mededeling van die situasie in Darius se tyd oor die herbou van die tempel.

Die rede daarvoor is dat die skrywer waarskynlik aan dié dekade-lange stryd herinner is, toe hy die aanvanklike konflik met die bou van die tempel beskrywe het en dié gedeelte “in hakies” bygevoeg het.

1.  Die eerste weerstand waaraan hy dink, is dié geskrewe klag wat in die tyd van Xerxes ingedien is, maar wat klaarblyklik op dowe ore geval het – vers 6.

2.  Die tweede weerstand wat hy onthou, is die brief wat Bislam, Mitredat en Tabeël geskrywe het aan Artasasta, hoewel ons ook niks van die uitkoms daarvan verneem nie – vers 7.

3.  Die derde weerstand wat hy beskryf, het egter meer om die lyf en behels ook ‘n skrywe aan Artasasta, dié keer deur Regum en sy sekretaris Simai met groot steun van regters, goewerneurs en amptenare onder andere uit die Persiese stede, Babel en Susan, sowel as uit die gebied van Samaria en die Wes-Eufraat – vers 8 en verder.  Dit is ook in Aramees omdat dit waarskynlik die taal was waarin dié amptelike dokumentasie geskryf was.  Terloops: Asenappar is ’n ander naam vir die Assiriese koning Assurbanipal (669-627 v.C.), wat Esarhaddon opgevolg het.

Hierdie keer word die inhoud van die brief weergegee en gaan dit duidelik oor die herbou van die mure van Jerusalem, nadat die tempel al voltooi is, ’n projek wat die vyande van die Jode wil beëindig.  Hulle kry dit dan ook reg, deurdat Artasasta positief op hulle versoek reageer, waarskynlik omdat hulle valslik sê dat daar geen belasting meer betaal sal word as die muur voltooi is nie en Artasasta herinner word aan die geskiedenis van opstand teen hulle vorige oorheersers.  Daarmee kry hulle verlof om die werk met mag en geweld tot stilstand te bring, hoewel die koning tog ’n agterdeur oophou vir ’n ander besluit in die toekoms op sy bevel.  Dit was dus die situasie tot en met die tyd van Nehemia waarin hy inderdaad só ’n bevel gegee het.

Wat ons hieruit leer, is dat daar tog wel pogings was om die mure te herbou, voordat Nehemia op die toneel verskyn het, maar dat dit nie geslaagd was nie.  Eers in 445 v.C. sou Nehemia by die einste koning Artasasta verlof kry om die mure te gaan herbou, hoewel hy steeds deeglik rekening moes hou met die vyandskap van die nie-Israelitiese inwoners van die land.

Esra


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: