Skip to main content

Esra 4 – Die mense van die land bied sterk weerstand teen die bou van die tempel en die mure van die stad

Die weerstand teen die bou van die tempel

Dat die nie-Israelitiese inwoners (letterlik: “die mense van die land”) hier as vyande beskryf word – ’n mens kan hulle na alle waarskynlikheid die Samaritane noem – hou verband met die beskrywing in hfst. 3:3 van die Jode se vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land.  ’n Mens moet onthou dat die Jode nou na die ballingskap weer hulle intrek geneem het in hulle eie huise en woonplekke, maar dat dié plekke amper ’n eeu laas bewoon was.  Dat daar dus konflik was met die huidige inwoners van die land, selfs oor die Jode se eie eiendom, was dus onvermydelik.

Dit val op dat die aanbod van die mense van die land om saam met die Jode te bou aan die tempel baie afwysend hanteer word.  Let op dat die Jode praat van ons God waarmee hulle die aanspraak van die mense van die land dat hulle dieselfde God aanbid, afwys.  Die argument van die Samaritane dat hulle offers aan dié God gebring het van die tyd van die Assiriese koning Esarhaddon af (681-669 v.C.) as motivering om nou saam met die Israeliete te aanbid, maak ook nie hond haaraf by die leiers van die Jode nie.  Daarmee bevestig die mense van die land ironies genoeg dat hulle hulleself as ’n aparte volk beskou, want hulle het nie dieselfde toenadering gesoek by die Jode in die rofweg 100 jaar, toe gesamentlike aanbidding nog moontlik was, voor die Babiloniese ballingskap aangebreek het nie.  Waarom dan nou?

2 Konings 17:24-41 brei uit oor dié Samaritaanse geskiedenis waarin die Assiriese koning Esarhaddon verskillende volke in die stede van Samaria – die voormalige noordryk – gevestig het in die plek van die Israeliete wat in die eerste ballingskap van 722 v.C. weggevoer is in die tyd van sy voorganger Salmaneser.  Dit het tot gemengde huwelike gelei, sowel as ’n dien van afgode, hoewel daar ook pogings was om “die regte verering van die God van die land te leer.”  Selfs van die priesters het teruggekom uit ballingskap om die mense in Bet-El te leer hoe hulle die Here moet vereer.  Volgens Konings was dié pogings egter vrugteloos omdat elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit het in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is.

Hoe dit ook al sy, hierdie weiering tot samewerking deur die Jode met hulle terugkeer uit ballingskap bring ’n groot verwydering en ’n groeiende vyandskap met die Samaritane wat lei daartoe dat die mense van die land die bouwerk met intimidasie en omkopery in die wiele wou ry.  Die konflik het strykdeur aangehou van die tyd van koning Kores af (539 v.C.) tot met die tyd van koning Darius van Persië (522 v.C.).

Op ’n geestelike vlak leer ons hieruit dat geen opdrag van die Here ooit uitgevoer kan word sonder dat daar nie ook teenstand sal wees nie.  Dié teenstand kan baie vorms aanneem en selfs uitmergelend lank die werk vir en van die Here kortwiek en selfs tot stilstand bring.  ’n Mens moet ook in die proses baie seker maak met wie jy hande vat in die werk van die Here en nie net mense aanvaar op onvaste gronde nie.  Geduld, gehoorsaamheid en onderskeiding ten spyte van gevaar en bedreiging – selfs van oënskynlike gewillige vennote – is dan nodig om te volhard en te wag op die uitkoms wat die Here sal bring.

In hakies: die konflik oor die bou van die mure van die stad

In vers 6-23 word die verdere konflik oor die herbou van die mure van die stad in die tyd van Darius se seun, Ahasveros (Xerxes – die tyd van Ester – vers 6 – 486 v.C.) en dié se seun Artasasta (Artaxerxes – die tyd van Esra en Nehemia – vers 7-23 – 465 v.C.) beskryf, voor in vers 24 weer teruggekeer word na vers 5 se mededeling van die situasie in Darius se tyd oor die herbou van die tempel.

Die rede daarvoor is dat die skrywer waarskynlik aan dié dekade-lange stryd herinner is, toe hy die aanvanklike konflik met die bou van die tempel beskrywe het en dié gedeelte “in hakies” bygevoeg het.

1.  Die eerste weerstand waaraan hy dink, is dié geskrewe klag wat in die tyd van Xerxes ingedien is, maar wat klaarblyklik op dowe ore geval het – vers 6.

2.  Die tweede weerstand wat hy onthou, is die brief wat Bislam, Mitredat en Tabeël geskrywe het aan Artasasta, hoewel ons ook niks van die uitkoms daarvan verneem nie – vers 7.

3.  Die derde weerstand wat hy beskryf, het egter meer om die lyf en behels ook ‘n skrywe aan Artasasta, dié keer deur Regum en sy sekretaris Simai met groot steun van regters, goewerneurs en amptenare onder andere uit die Persiese stede, Babel en Susan, sowel as uit die gebied van Samaria en die Wes-Eufraat – vers 8 en verder.  Dit is ook in Aramees omdat dit waarskynlik die taal was waarin dié amptelike dokumentasie geskryf was.  Terloops: Asenappar is ’n ander naam vir die Assiriese koning Assurbanipal (669-627 v.C.), wat Esarhaddon opgevolg het.

Hierdie keer word die inhoud van die brief weergegee en gaan dit duidelik oor die herbou van die mure van Jerusalem, nadat die tempel al voltooi is, ’n projek wat die vyande van die Jode wil beëindig.  Hulle kry dit dan ook reg, deurdat Artasasta positief op hulle versoek reageer, waarskynlik omdat hulle valslik sê dat daar geen belasting meer betaal sal word as die muur voltooi is nie en Artasasta herinner word aan die geskiedenis van opstand teen hulle vorige oorheersers.  Daarmee kry hulle verlof om die werk met mag en geweld tot stilstand te bring, hoewel die koning tog ’n agterdeur oophou vir ’n ander besluit in die toekoms op sy bevel.  Dit was dus die situasie tot en met die tyd van Nehemia waarin hy inderdaad só ’n bevel gegee het.

Wat ons hieruit leer, is dat daar tog wel pogings was om die mure te herbou, voordat Nehemia op die toneel verskyn het, maar dat dit nie geslaagd was nie.  Eers in 445 v.C. sou Nehemia by die einste koning Artasasta verlof kry om die mure te gaan herbou, hoewel hy steeds deeglik rekening moes hou met die vyandskap van die nie-Israelitiese inwoners van die land.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esra


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms