Skip to main content

Inleiding op die boek Esra

Die boeke Esra en Nehemia handel oor die tyd van die eerste terugkeer na die land Juda in 539 v.C. in die tyd van die Persiese koning Kores (vgl. die profesie in Jes. 45:1) tot by die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (445 v.C. – Hebreeus Artasasta).

Die boek Esra

Die boek Esra fokus in die eerste 6 hoofstukke op die verhaal van die terugkeer van die volk van Juda tot by die voltooiing en inwyding van die tempel in 516 v.C in die tyd van koning Darius (seun van Hystaspes, wat Cambyses, seun van Kores opgevolg het) onder leiding van Serubbabel, een van Dawid se afstammelinge wat as goewerneur opgetree het.  Daar is ook ‘n gedeelte in hoofstuk 4 ingevoeg (vers 6-23) wat uit ’n later tyd kom.  Dit is daar geplaas as getuienis van ’n soortgelyke teenstand van nie-Israelitiese inwoners in die tyd van Nehemia, hoewel dit eers ongeveer 80 jaar later gebeur het.

Die laaste 4 hoofstukke van die boek Esra fokus op die aankoms en bediening van die geleerde priester Esra – gebaseer op die memoirs van Esra self soos die 1ste persoon weergawe aantoon – waarin veral gefokus word op die poging om die volk weer aan die wetboek en die wil van God te verbind.  Dit vind plaas in die tyd van koning Artaxerxes (Artasasta in Hebreeus), ongeveer in 458 v.C. (Esra 7:7).  Daar is dus ’n gaping van ongeveer 80 jaar tussen hfst. 1-6 en hfst. 7-10.  Nehemia kom op die toneel so 14 jaar later, soos ons in die boek Nehemia lees, veral om die mure van Jerusalem te herbou.

Die Kronis wat verantwoordelik was vir die samestelling van dié vier boeke van die Kronistiese Geskiedwerk, het nie net die vorige boeke van Samuel en Konings gebruik in die skrywe van 1&2 Kronieke nie, maar ook die memoirs van Esra (Esra 6-10) en Nehemia (Neh. 1-7), waarskynlik joernale wat hulle gehou het.  Interessant is ook om te let op die gebruik van Aramees, die wêreldtaal van daardie tyd, vir gedeeltes in Esra – 4:8-6:12 en 7:12-26 – waarskynlik omdat dit amptelike korrespondensie was.  Die res is in Hebreeus geskrywe.

Die boodskap van die boek

Die twee boeke vorm deel van die Kronistiese Geskiedwerk (saam met 1&2 Kronieke – vgl. 2 Kron. 36:22-23 wat direk aan Esra 1 verbind word) en wys ’n mens hoe jy te werk gaan om ‘n geloofsgemeenskap weer op te bou.

  • 1 en 2 Kronieke werp ’n waarderende blik op die verlede om hulle identiteit te vorm – hulle is deel van die wêreldgemeenskap (Adam), deel van die volk van Israel (Abraham), deel van die koninkryk van Juda (Dawid) en deel van die volk van God (Jahwe).
  • Esra en Nehemia lig die werk van drie leiers ná die ballingskap uit:
    • Serubbabel wat die verhouding met God herstel deur die bou van die tempel en die herstel van die liturgiese omgang met God;
    • Esra wat fokus op die regte en reflekterende lees van die Bybel sodat dit die hele lewe kan deursuur;
    • Nehemia wat op die herstel van die muur van Jerusalem fokus sodat die geloofsgemeenskap kan gedy in ‘n veilige ruimte waarin lewe kan floreer.

Dit gee vir ons prentjies van hoe ons met God kan saamwerk in ons eie tyd wat uiters inspirerend is, veral omdat dit duidelik is die twee boeke dat God se soewereiniteit selfs heidense konings insluit.  Dié boodskap word verder ondersteun deur die 3 profete, Haggai, Sagaria en Maleagi, wie se profesieë direk met hierdie opbou tydvak te make het.

Ons lees dit soos volg:

  • Dag 1 – Esra 1
  • Dag 2 – Esra 2-3
  • Dag 3 – Esra 4
  • Dag 4 – Esra 5
  • Dag 5 – Esra 6
  • Dag 6 – Esra 7
  • Dag 7 – Esra 8
  • Dag 8 – Esra 9
  • Dag 9 – Esra 10

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esra


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms