Skip to main content

Inleiding op die boek Esra

Die boeke Esra en Nehemia handel oor die tyd van die eerste terugkeer na die land Juda in 539 v.C. in die tyd van die Persiese koning Kores (vgl. die profesie in Jes. 45:1) tot by die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (445 v.C. – Hebreeus Artasasta).

Die boek Esra

Die boek Esra fokus in die eerste 6 hoofstukke op die verhaal van die terugkeer van die volk van Juda tot by die voltooiing en inwyding van die tempel in 516 v.C in die tyd van koning Darius (seun van Hystaspes, wat Cambyses, seun van Kores opgevolg het) onder leiding van Serubbabel, een van Dawid se afstammelinge wat as goewerneur opgetree het.  Daar is ook ‘n gedeelte in hoofstuk 4 ingevoeg (vers 6-23) wat uit ’n later tyd kom.  Dit is daar geplaas as getuienis van ’n soortgelyke teenstand van nie-Israelitiese inwoners in die tyd van Nehemia, hoewel dit eers ongeveer 80 jaar later gebeur het.

Die laaste 4 hoofstukke van die boek Esra fokus op die aankoms en bediening van die geleerde priester Esra – gebaseer op die memoirs van Esra self soos die 1ste persoon weergawe aantoon – waarin veral gefokus word op die poging om die volk weer aan die wetboek en die wil van God te verbind.  Dit vind plaas in die tyd van koning Artaxerxes (Artasasta in Hebreeus), ongeveer in 458 v.C. (Esra 7:7).  Daar is dus ’n gaping van ongeveer 80 jaar tussen hfst. 1-6 en hfst. 7-10.  Nehemia kom op die toneel so 14 jaar later, soos ons in die boek Nehemia lees, veral om die mure van Jerusalem te herbou.

Die Kronis wat verantwoordelik was vir die samestelling van dié vier boeke van die Kronistiese Geskiedwerk, het nie net die vorige boeke van Samuel en Konings gebruik in die skrywe van 1&2 Kronieke nie, maar ook die memoirs van Esra (Esra 6-10) en Nehemia (Neh. 1-7), waarskynlik joernale wat hulle gehou het.  Interessant is ook om te let op die gebruik van Aramees, die wêreldtaal van daardie tyd, vir gedeeltes in Esra – 4:8-6:12 en 7:12-26 – waarskynlik omdat dit amptelike korrespondensie was.  Die res is in Hebreeus geskrywe.

Die boodskap van die boek

Die twee boeke vorm deel van die Kronistiese Geskiedwerk (saam met 1&2 Kronieke – vgl. 2 Kron. 36:22-23 wat direk aan Esra 1 verbind word) en wys ’n mens hoe jy te werk gaan om ‘n geloofsgemeenskap weer op te bou.

  • 1 en 2 Kronieke werp ’n waarderende blik op die verlede om hulle identiteit te vorm – hulle is deel van die wêreldgemeenskap (Adam), deel van die volk van Israel (Abraham), deel van die koninkryk van Juda (Dawid) en deel van die volk van God (Jahwe).
  • Esra en Nehemia lig die werk van drie leiers ná die ballingskap uit:
    • Serubbabel wat die verhouding met God herstel deur die bou van die tempel en die herstel van die liturgiese omgang met God;
    • Esra wat fokus op die regte en reflekterende lees van die Bybel sodat dit die hele lewe kan deursuur;
    • Nehemia wat op die herstel van die muur van Jerusalem fokus sodat die geloofsgemeenskap kan gedy in ‘n veilige ruimte waarin lewe kan floreer.

Dit gee vir ons prentjies van hoe ons met God kan saamwerk in ons eie tyd wat uiters inspirerend is, veral omdat dit duidelik is die twee boeke dat God se soewereiniteit selfs heidense konings insluit.  Dié boodskap word verder ondersteun deur die 3 profete, Haggai, Sagaria en Maleagi, wie se profesieë direk met hierdie opbou tydvak te make het.

Ons lees dit soos volg:

  • Dag 1 – Esra 1
  • Dag 2 – Esra 2-3
  • Dag 3 – Esra 4
  • Dag 4 – Esra 5
  • Dag 5 – Esra 6
  • Dag 6 – Esra 7
  • Dag 7 – Esra 8
  • Dag 8 – Esra 9
  • Dag 9 – Esra 10

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esra


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar