Esra 10 – Die geloofsgemeenskap vernuwe die verbond deur godsdienstig-gemengde huwelike te ontbind

Die geloofsgemeenskap tree op – 10:1-8

Dit is duidelik dat die optrede van die geloofsgemeenskap nie onder dwang van Esra gebeur nie, maar gebeur omdat dit ’n gewetensaak vir die Jode was.  Die keuse om iets te doen aan die slegte toedrag van sake, kom van die mense self af.

Esra se hartseer skuldbelydenis voor die tempel – geëggo deur ‘n groot aantal Jode, mans, vrouens en kinders – lei tot Sekanja se voorstel dat daar hoop is vir hulle as hulle almal ’n plegtige onderneming teenoor God maak dat hulle al dié vroue wat vreemde gode dien, sowel as hulle kinders sal wegstuur, in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die wet.   

Omdat huwelike met mense van ander godsdienste teen die wet was en daarom in wese onwettig, is die voorstel dat hulle die situasie rondom huwelike wettig kry deur die ongeoorloofde huwelike ongeldig te verklaar.  Hartseer, drasties, maar ’n eerlike poging om te herstel wat verbrou is.  Dit gaan dus om verbondsvernuwing waarin hulle hul gehoorsaamheid aan die wet van God tasbaar wil uitoefen.

Dit lyk ook asof dit net oor vrouens van ander godsdienste gegaan het wat met Joodse mans getroud is.  Ons lees nie van ’n enkele Joodse vrou wat deur dié proses geraak is nie.  Hulle is dus waarskynlik nie aan heidense mans as vroue gegee nie en het dié drastiese optrede vrygespring.  Sommige van hulle is moontlik weer met hulle mans verenig, as ’n mens Maleagi 2:11-16 se uitsprake hierop betrek, dat die Joodse mans opgeroep is om nie langer ontrou aan die vroue van hulle jeug te wees nie.  Dit is ook wat Esra vir hulle sê in 10:10: “Julle het troueloos opgetree.”

Die groot byeenkoms in Jerusalem – 10:9-15

Die trane van Esra en die volk by die aanvang van dié proses word geëggo in die reën wat neersak op die 20ste van die maand (Desember in ons kalender)  wat die mense van die koue laat bewe het, asook van die spanning van die impak wat dié groot besluite op almal gaan hê.

Niemand het dié oproep om in Jerusalem bymekaar te kom, verontagsaam nie, weens die dreigement van die konfiskering van besittings en die verwerping uit die geloofsgemeenskap.  Hulle sou dus hulle goed verloor en uit die geloofsgemeenskap uitgeskop word.

In ’n kort toespraak, gegewe die reën en die koue, spel Esra die rede vir die drastiese optrede uit en beveel hulle om die foute van die verlede reg te stel en dit nie weer in die toekoms te herhaal nie.  Die geloofsgemeenskap het hulle instemming eenparig en hardop betuig.  Hulle vra egter dat daar ’n ordentlike proses sal wees om die saak af te handel op individuele grondslag deur die regters van die stad waartoe die leiers instem.

Nie almal het egter gedink dat die weg van egskeiding en verwerping van vrouens en kinders die gewenste optrede is nie, iets waarmee ons in ons eie konteks waarskynlik sou saamstem.  Paulus verwoord ’n ander weg wat in sulke situasies moontlik is, deur in 1 Kor. 7:12-16 juis te sê dat as die ongelowige getroud wil bly met die gelowige, die gelowige nie mag skei nie!  Trouens, die ongelowige man of vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige huweliksmaat.  Die kinders uit só ’n huwelik geniet ook God se spesiale seën.  Die onus moet dus op die ongelowige rus om te skei al dan nie, nie op die gelowige nie.

Vier van die Jode (een was ’n Leviet, die ander waarskynlik gewone Jode) was dus teen die gedagte – miskien hulle tyd vooruit – hoewel daar nie enige detail gegee word oor hulle redes nie.  Die feit dat hulle teenstand egter sonder kommentaar genoem word, beteken waarskynlik dat die ander leiers dit as bona fide teenstand gesien het weens grondige redes – die onmenslikheid van die optrede, die gebrek aan enige dwingende voorskrif in die wet daarvoor, die feit dat ander mense ly as gevolg van hulle gebrek aan oordeel, dat die keuse ook die heidense vroue se verbintenis in ag moet neem – hoewel die meerderheid van die Jode vir drastiese optrede gekies het.

Die profeet Maleagi gee egter ’n perspektief hierop wat moontlik ten minste ten dele verklaar waarom só drasties opgetree is.  Die manne van Juda – sê Maleagi, wat min of meer in hierdie tyd optree – het die Joodse vroue van hulle jeug geskei en verruil vir vrouens wat in diens van ander gode gestaan het (Mal. 2:11-16).  Dit het dus in hierdie tipe situasies nie net oor die ander godsdienste gegaan nie, maar oor die feit dat van die Jode ontrou was aan hulle eerste vroue, ook Jode, en van dié geskei het.  Geen wonder die Here sê dat Hy egskeiding haat, want dit is niks anders as geweld nie.

Sommige van die egskeidings wat nou plaasgevind het, kon dus moontlik ook ’n herstel van die vorige huwelike van die manne van Juda gewees het.  Maleagi sê immers twee keer: “Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie” (Mal. 2:15-16 – vgl. Esra wat ook van hulle ontrouheid praat wat herstel moet word).

Die regsprosesse – 10:16-44

Die regsprosesse wat nou gevolg is, het drie maande geduur tot net voor die Paasfees in die eerste maand van hulle kalender.  Dit het almal geraak – priesters, Leviete, sangers, poortwagte, sowel as gewone Israeliete.  Interessant dat die tempelslawe nie genoem word nie, want hulle sou moontlik meer blootgestel gewees het aan sulke tipe huwelike.  Let ook op dat die geestelikes eerste genoem word in dié proses om te illustreer dat hulle nie net van ander verwag het om gehoorsaam te wees nie, maar self gedoen het waaroor ooreengekom is.

Al die mense – 110 mans word genoem, 17 priesters, 6 Leviete, 1 sanger en 3 poortwagte met 83 gewone Jode – wat met vreemde vrouens getroud was, het dus hulle vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur, waarskynlik terug na hulle ouerhuise, hoewel dit nie uitgespel is nie.  Dat dit ’n baie drastiese stap was wat tot groot maatskaplike nood kon aanleiding gee, is onteenseglik so.

Ná ’n tyd van stilte in die Bybel oor Esra, sal ons hom weer in aksie sien in die tyd van Nehemia (Neh. 8), so 13 jaar later.

Esra


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: