Skip to main content

Esra 10 – Die geloofsgemeenskap vernuwe die verbond deur godsdienstig-gemengde huwelike te ontbind

Die geloofsgemeenskap tree op – 10:1-8

Dit is duidelik dat die optrede van die geloofsgemeenskap nie onder dwang van Esra gebeur nie, maar gebeur omdat dit ’n gewetensaak vir die Jode was.  Die keuse om iets te doen aan die slegte toedrag van sake, kom van die mense self af.

Esra se hartseer skuldbelydenis voor die tempel – geëggo deur ‘n groot aantal Jode, mans, vrouens en kinders – lei tot Sekanja se voorstel dat daar hoop is vir hulle as hulle almal ’n plegtige onderneming teenoor God maak dat hulle al dié vroue wat vreemde gode dien, sowel as hulle kinders sal wegstuur, in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die wet.   

Omdat huwelike met mense van ander godsdienste teen die wet was en daarom in wese onwettig, is die voorstel dat hulle die situasie rondom huwelike wettig kry deur die ongeoorloofde huwelike ongeldig te verklaar.  Hartseer, drasties, maar ’n eerlike poging om te herstel wat verbrou is.  Dit gaan dus om verbondsvernuwing waarin hulle hul gehoorsaamheid aan die wet van God tasbaar wil uitoefen.

Dit lyk ook asof dit net oor vrouens van ander godsdienste gegaan het wat met Joodse mans getroud is.  Ons lees nie van ’n enkele Joodse vrou wat deur dié proses geraak is nie.  Hulle is dus waarskynlik nie aan heidense mans as vroue gegee nie en het dié drastiese optrede vrygespring.  Sommige van hulle is moontlik weer met hulle mans verenig, as ’n mens Maleagi 2:11-16 se uitsprake hierop betrek, dat die Joodse mans opgeroep is om nie langer ontrou aan die vroue van hulle jeug te wees nie.  Dit is ook wat Esra vir hulle sê in 10:10: “Julle het troueloos opgetree.”

Die groot byeenkoms in Jerusalem – 10:9-15

Die trane van Esra en die volk by die aanvang van dié proses word geëggo in die reën wat neersak op die 20ste van die maand (Desember in ons kalender)  wat die mense van die koue laat bewe het, asook van die spanning van die impak wat dié groot besluite op almal gaan hê.

Niemand het dié oproep om in Jerusalem bymekaar te kom, verontagsaam nie, weens die dreigement van die konfiskering van besittings en die verwerping uit die geloofsgemeenskap.  Hulle sou dus hulle goed verloor en uit die geloofsgemeenskap uitgeskop word.

In ’n kort toespraak, gegewe die reën en die koue, spel Esra die rede vir die drastiese optrede uit en beveel hulle om die foute van die verlede reg te stel en dit nie weer in die toekoms te herhaal nie.  Die geloofsgemeenskap het hulle instemming eenparig en hardop betuig.  Hulle vra egter dat daar ’n ordentlike proses sal wees om die saak af te handel op individuele grondslag deur die regters van die stad waartoe die leiers instem.

Nie almal het egter gedink dat die weg van egskeiding en verwerping van vrouens en kinders die gewenste optrede is nie, iets waarmee ons in ons eie konteks waarskynlik sou saamstem.  Paulus verwoord ’n ander weg wat in sulke situasies moontlik is, deur in 1 Kor. 7:12-16 juis te sê dat as die ongelowige getroud wil bly met die gelowige, die gelowige nie mag skei nie!  Trouens, die ongelowige man of vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige huweliksmaat.  Die kinders uit só ’n huwelik geniet ook God se spesiale seën.  Die onus moet dus op die ongelowige rus om te skei al dan nie, nie op die gelowige nie.

Vier van die Jode (een was ’n Leviet, die ander waarskynlik gewone Jode) was dus teen die gedagte – miskien hulle tyd vooruit – hoewel daar nie enige detail gegee word oor hulle redes nie.  Die feit dat hulle teenstand egter sonder kommentaar genoem word, beteken waarskynlik dat die ander leiers dit as bona fide teenstand gesien het weens grondige redes – die onmenslikheid van die optrede, die gebrek aan enige dwingende voorskrif in die wet daarvoor, die feit dat ander mense ly as gevolg van hulle gebrek aan oordeel, dat die keuse ook die heidense vroue se verbintenis in ag moet neem – hoewel die meerderheid van die Jode vir drastiese optrede gekies het.

Die profeet Maleagi gee egter ’n perspektief hierop wat moontlik ten minste ten dele verklaar waarom só drasties opgetree is.  Die manne van Juda – sê Maleagi, wat min of meer in hierdie tyd optree – het die Joodse vroue van hulle jeug geskei en verruil vir vrouens wat in diens van ander gode gestaan het (Mal. 2:11-16).  Dit het dus in hierdie tipe situasies nie net oor die ander godsdienste gegaan nie, maar oor die feit dat van die Jode ontrou was aan hulle eerste vroue, ook Jode, en van dié geskei het.  Geen wonder die Here sê dat Hy egskeiding haat, want dit is niks anders as geweld nie.

Sommige van die egskeidings wat nou plaasgevind het, kon dus moontlik ook ’n herstel van die vorige huwelike van die manne van Juda gewees het.  Maleagi sê immers twee keer: “Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie” (Mal. 2:15-16 – vgl. Esra wat ook van hulle ontrouheid praat wat herstel moet word).

Die regsprosesse – 10:16-44

Die regsprosesse wat nou gevolg is, het drie maande geduur tot net voor die Paasfees in die eerste maand van hulle kalender.  Dit het almal geraak – priesters, Leviete, sangers, poortwagte, sowel as gewone Israeliete.  Interessant dat die tempelslawe nie genoem word nie, want hulle sou moontlik meer blootgestel gewees het aan sulke tipe huwelike.  Let ook op dat die geestelikes eerste genoem word in dié proses om te illustreer dat hulle nie net van ander verwag het om gehoorsaam te wees nie, maar self gedoen het waaroor ooreengekom is.

Al die mense – 110 mans word genoem, 17 priesters, 6 Leviete, 1 sanger en 3 poortwagte met 83 gewone Jode – wat met vreemde vrouens getroud was, het dus hulle vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur, waarskynlik terug na hulle ouerhuise, hoewel dit nie uitgespel is nie.  Dat dit ’n baie drastiese stap was wat tot groot maatskaplike nood kon aanleiding gee, is onteenseglik so.

Ná ’n tyd van stilte in die Bybel oor Esra, sal ons hom weer in aksie sien in die tyd van Nehemia (Neh. 8), so 13 jaar later.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Esra


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…