Skip to main content

Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese

Efesiërs

Paulus skryf sy brief aan die gemeente in Efese tydens sy gevangenskap in Rome, net na hy ‘n soortgelyke brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het.  Ons gaan egter eers die volgende twee dae aandag gee aan die verhaal wat Lukas ons vertel van hulle verskillende besoeke aan Efese, voor ons aan die brief self aandag gee.

Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese

Voor jy die gedeelte lees, is dit goed om net weer te dink aan hoe Lukas hierdie tweede boek van hom skrywe.

  • Hy vertel met die boek Handelinge die storie van die redding van hierdie wêreld, soos dit ontvou van Jerusalem – die hart van die Joodse volk – tot in Rome – die hart van die wêreldryk en –bevolking.
  • Hy doen dit in ses groot hoofstukke(elke keer afgesluit met min of meer dieselfde opsommende opmerking oor die verspreiding van die evangelie):
    • Die verspreiding van die evangelie na Jode in Jerusalem (1:1-6:7);
    • Die verspreiding van die evangelie na Jode in Judea, Galilea, Samaria en Afrika (6:8-9:31);
    • Die verspreiding van die evangelie na heidene in Seserea (Noord-Palestina) met Saulus (Paulus) wat tot bekering kom (9:32-12:24);
    • Die verspreiding van die evangelie na Asië (12:25-16:5) wat alle mense insluit, Jode en Grieke;
    • Die verspreiding van die evangelie na Europa (16:6-19:20) wat alle mense insluit, Jode en Grieke;
    • Die verspreiding van die evanglie na Rome via die gevangeniskap van Paulus (19:21-28:31) wat alle mense insluit, Jode en Grieke.
    • Die verhale van die gemeente van Efese val aan die einde van hoofstuk 5 en die begin van hoofstuk 6, waarin die evangelie nou die grense na die hart van die politieke sisteme van daardie tyd oorsteek.

LEES DIE GEDEELTE!

‘n Paar opmerkings van my kant af.

18:18-23 – Paulus se eerste besoek aan Efese

Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC, in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie.  Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly.  Hulle het ‘n huis in Efese gehad – 1 Kor 16:19.  Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen.  Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.

18:24-28 – Die bediening van Apollos in Efese

Dan vertrek Paulus weer op sy derde sendingreis, ’n geestelike reis van versterking.  Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.

Voor ons egter meer daaroor hoor, vertel Lukas eers ietsie meer oor die bediening van Apollos.  Apollos, ‘n begaafde prediker (Hand 18:24), doen groot voorbereidende werk, en sit dit voort met die ondersteuning van die gelowiges in Korinte soos ons hier lees en ook later in die Korinte brief (1 Kor 3:1-9 – waar Paulus hulle bediening vergelyk, maar ondergeskik maak aan die groei wat God gee).

Let op dat Apollos nie weer gedoop word nie – al het hy net van die doop van Johannes geweet – en net dieper ingelei word in wat die evangelie van Jesus Christus alles behels.  Hy het reeds die genade van Jesus ontvang, maar moes meer leer van die praktyke wat daarmee saamgaan.

19:1-40 – Paulus se bediening met sy tweede besoek aan Efese

Hierdie deel van Paulus se bediening in Efese word in drie episodes vertel: 1) die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees, 2) die verhaal van die seuns van Skeva, en 3) die verhaal van die oproer in Efese.

Uitstorting van die Heilige Gees

Interessant is die onderwerp van die doop van Johannes wat Lukas hier aanraak,

  • eerstens in die vorige verhaal van Apollos, wat net dieper ingelei word in die betekenis van die evangelie van Jesus, sonder om weer gedoop te word, en
  • tweedens in die verhaal van die groepie dissipels (dit is die eintlike Griekse woord wat hier met gelowiges vertaal word) in die binneland, wat nog in die verwagting van Jesus en die Gees gelewe het, soos Johannes die Doper dit verkondig het, en nou beide die doop met water en die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Let op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.

Omdat Paulus in sy brief aan die Efesiërs later weer oor die doop en verwante sake sal gesels, gee ek hier ietsie meer oor die doop:

Die doop van Johannes teenoor die doop van Jesus

Die teks kontrasteer die doop van Johannes met die doop in die Naam van die Here Jesus.

Die doop van Johannes was ‘n bekeringsdoop.  Dit was ‘n teken van verootmoediging en skuldbelydenis voor God.  Jesus ondergaan ook die doop van Johannes om sy bediening te begin met ‘n identifikasie met die volk se sonde en vervreemding van God om Sy werk as Middelaar tussen God en mens te kan vervul, om saam met hulle en namens hulle om God se genade te smeek.  Johannes se doop is dus ‘n kreet om redding.  Dit is ons woord aan God om te vra vir sy genade.

Die doop in die Naam van Jesus was ‘n bevestigingsdoop.  Dit word ingestel nadat Jesus se verlossingswerk plaasgevind het, nadat God sy offer aan die kruis aanvaar het, en deur die opstanding begroet het.  Hierdie doop beseël God se trou, die waarheid van God se beloftes, die insluiting van die gedoopte in God se genadekring, en sodoende die vaste verbintenis (verbond) wat God met mense maak.  Dit is God se woord aan ons dat Hy ons insluit in sy verbond van genade.

Die Christelike doop is dus iets anders as die doop van Johannes.  Laasgenoemde is ‘n kreet om redding.  Die Christelike doop is die diepe bevestiging van God se redding, en van God se inisiatief om mense in te sluit in ‘n band met God.

Die doop van Johannes wys vooruit, roep vooruit, na God om in te gryp in die omstandighede van sy volk.  Dit bely en vra vergifnis.  Die doop in Christus se werk in verteenwoordig God se genadige antwoord.  Dit is God se boodskap van aanvaarding, omhelsing en versoening met sondaars.  Die Christelike doop doen iets aan die gedoopte: dit is God se aksie in die lewe van die gedoopte, en die gemeenskap van gedooptes.

Seuns van Skeva

Paulus doen vir nog twee jaar groot werk hier (in totaal uiteindelik 3 jaar lank – Hand 20:31), aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus.  Let op hoe die wonderdade wat God deur Paulus doen, uitgelig word, selfs deur sy klere, net soos dit vroeër van Petrus gesê is (selfs sy skaduwee – Hand 5:12-16) en van Jesus (ook sy klere – Mark 5:27; 6:56).  Dit word skerp gekontrasteer met die seuns van Skeva wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom.

Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke.  Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien, iets waarby Paulus sal aansluit in die laaste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs.

Let op hoe Lukas aan die einde van hierdie deel van Paulus se bediening in Efese dit afsluit met dieselfde opsommende opmerkings van die vorige 5 hoofstukke van sy verhaal: “So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.” (19:20).  Die laaste hoofstuk van sy verhaal begin dus met die verhaal van die oproer in Efese waarmee ook die volgende fase in Paulus se bediening begin.

Terloops, dit is ook hier waar Paulus waarskynlik van sy briewe aan die Korintiërs geskrywe het.

Die oproer in Efese

Die evangelie van Jesus Christus sal nou tot in die hartjie van die hoofstad van die Romeinse ryk geneem word.  Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Masedonië (met die stede Filippi en Tessalonika) en Agaje (met hoofstad Korinte)  – en dan na Jerusalem en uiteindelik ook Rome te gaan.  Hy stuur Timoteus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye).  Daarmee word die breë lyne van die verhaal wat hom gaan afspeel na die einde van die Handelinge getrek.

Die botsing tussen die Christelike godsdiens (die leer van die Here) en die heidense godsdienste van Efese bereik nou ’n hoogtepunt, met veral die vakmanne wat beswaar maak teen die effek wat die Christelike geloof op hulle beroepsbeoefening het.  Demetrius stook die onrus aan vanuit sy persoonlike situasie, maar spel ook die gevolge uit wat die evangelie op die publieke respek vir die godin Artemis het, en haar aanhang sal laat kwyn, en natuurlik hulle inkomste dan sal bedreig.

Chaos heers totdat die stadsklerk hulle tot bedaring bring met ’n verstommende wyse woord.  Dit is ’n oorwinning in die kleine vir die Christelike godsdiens en is ook ’n getuienis dat mense se harte nie gewen word deur mag en geweld nie, maar deur respekvolle gesprek wat  tot oortuigings kan lei.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Efesiërs, Handelinge


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders