Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese
Efesiërs
Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese
Voor jy die gedeelte lees, is dit goed om net weer te dink aan hoe Lukas hierdie tweede boek van hom skrywe.
- Hy vertel met die boek Handelinge die storie van die redding van hierdie wêreld, soos dit ontvou van Jerusalem – die hart van die Joodse volk – tot in Rome – die hart van die wêreldryk en –bevolking.
- Hy doen dit in ses groot hoofstukke(elke keer afgesluit met min of meer dieselfde opsommende opmerking oor die verspreiding van die evangelie):
- Die verspreiding van die evangelie na Jode in Jerusalem (1:1-6:7);
- Die verspreiding van die evangelie na Jode in Judea, Galilea, Samaria en Afrika (6:8-9:31);
- Die verspreiding van die evangelie na heidene in Seserea (Noord-Palestina) met Saulus (Paulus) wat tot bekering kom (9:32-12:24);
- Die verspreiding van die evangelie na Asië (12:25-16:5) wat alle mense insluit, Jode en Grieke;
- Die verspreiding van die evangelie na Europa (16:6-19:20) wat alle mense insluit, Jode en Grieke;
- Die verspreiding van die evanglie na Rome via die gevangeniskap van Paulus (19:21-28:31) wat alle mense insluit, Jode en Grieke.
- Die verhale van die gemeente van Efese val aan die einde van hoofstuk 5 en die begin van hoofstuk 6, waarin die evangelie nou die grense na die hart van die politieke sisteme van daardie tyd oorsteek.
LEES DIE GEDEELTE!
‘n Paar opmerkings van my kant af.
18:18-23 – Paulus se eerste besoek aan Efese
Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis, ongeveer in die jaar 51-52 nC, in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie. Hy het waarskynlik by Akwila en Priscilla gebly. Hulle het ‘n huis in Efese gehad – 1 Kor 16:19. Hy wou egter nie lank bly nie, en belowe om met ‘n volgende reis weer by hulle aan te doen. Hy vertrek dus, doen Jerusalem aan, en voltooi sy tweede sendingreis met ‘n tyd in Antiogië.
18:24-28 – Die bediening van Apollos in Efese
Dan vertrek Paulus weer op sy derde sendingreis, ’n geestelike reis van versterking. Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.
Voor ons egter meer daaroor hoor, vertel Lukas eers ietsie meer oor die bediening van Apollos. Apollos, ‘n begaafde prediker (Hand 18:24), doen groot voorbereidende werk, en sit dit voort met die ondersteuning van die gelowiges in Korinte soos ons hier lees en ook later in die Korinte brief (1 Kor 3:1-9 – waar Paulus hulle bediening vergelyk, maar ondergeskik maak aan die groei wat God gee).
Let op dat Apollos nie weer gedoop word nie – al het hy net van die doop van Johannes geweet – en net dieper ingelei word in wat die evangelie van Jesus Christus alles behels. Hy het reeds die genade van Jesus ontvang, maar moes meer leer van die praktyke wat daarmee saamgaan.
19:1-40 – Paulus se bediening met sy tweede besoek aan Efese
Hierdie deel van Paulus se bediening in Efese word in drie episodes vertel: 1) die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees, 2) die verhaal van die seuns van Skeva, en 3) die verhaal van die oproer in Efese.
Uitstorting van die Heilige Gees
Interessant is die onderwerp van die doop van Johannes wat Lukas hier aanraak,
- eerstens in die vorige verhaal van Apollos, wat net dieper ingelei word in die betekenis van die evangelie van Jesus, sonder om weer gedoop te word, en
- tweedens in die verhaal van die groepie dissipels (dit is die eintlike Griekse woord wat hier met gelowiges vertaal word) in die binneland, wat nog in die verwagting van Jesus en die Gees gelewe het, soos Johannes die Doper dit verkondig het, en nou beide die doop met water en die gawe van die Heilige Gees ontvang.
Let op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.
Omdat Paulus in sy brief aan die Efesiërs later weer oor die doop en verwante sake sal gesels, gee ek hier ietsie meer oor die doop:
Die doop van Johannes teenoor die doop van Jesus
Die teks kontrasteer die doop van Johannes met die doop in die Naam van die Here Jesus.
Die doop van Johannes was ‘n bekeringsdoop. Dit was ‘n teken van verootmoediging en skuldbelydenis voor God. Jesus ondergaan ook die doop van Johannes om sy bediening te begin met ‘n identifikasie met die volk se sonde en vervreemding van God om Sy werk as Middelaar tussen God en mens te kan vervul, om saam met hulle en namens hulle om God se genade te smeek. Johannes se doop is dus ‘n kreet om redding. Dit is ons woord aan God om te vra vir sy genade.
Die doop in die Naam van Jesus was ‘n bevestigingsdoop. Dit word ingestel nadat Jesus se verlossingswerk plaasgevind het, nadat God sy offer aan die kruis aanvaar het, en deur die opstanding begroet het. Hierdie doop beseël God se trou, die waarheid van God se beloftes, die insluiting van die gedoopte in God se genadekring, en sodoende die vaste verbintenis (verbond) wat God met mense maak. Dit is God se woord aan ons dat Hy ons insluit in sy verbond van genade.
Die Christelike doop is dus iets anders as die doop van Johannes. Laasgenoemde is ‘n kreet om redding. Die Christelike doop is die diepe bevestiging van God se redding, en van God se inisiatief om mense in te sluit in ‘n band met God.
Die doop van Johannes wys vooruit, roep vooruit, na God om in te gryp in die omstandighede van sy volk. Dit bely en vra vergifnis. Die doop in Christus se werk in verteenwoordig God se genadige antwoord. Dit is God se boodskap van aanvaarding, omhelsing en versoening met sondaars. Die Christelike doop doen iets aan die gedoopte: dit is God se aksie in die lewe van die gedoopte, en die gemeenskap van gedooptes.
Seuns van Skeva
Paulus doen vir nog twee jaar groot werk hier (in totaal uiteindelik 3 jaar lank – Hand 20:31), aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus. Let op hoe die wonderdade wat God deur Paulus doen, uitgelig word, selfs deur sy klere, net soos dit vroeër van Petrus gesê is (selfs sy skaduwee – Hand 5:12-16) en van Jesus (ook sy klere – Mark 5:27; 6:56). Dit word skerp gekontrasteer met die seuns van Skeva wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom.
Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke. Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien, iets waarby Paulus sal aansluit in die laaste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs.
Let op hoe Lukas aan die einde van hierdie deel van Paulus se bediening in Efese dit afsluit met dieselfde opsommende opmerkings van die vorige 5 hoofstukke van sy verhaal: “So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.” (19:20). Die laaste hoofstuk van sy verhaal begin dus met die verhaal van die oproer in Efese waarmee ook die volgende fase in Paulus se bediening begin.
Terloops, dit is ook hier waar Paulus waarskynlik van sy briewe aan die Korintiërs geskrywe het.
Die oproer in Efese
Die evangelie van Jesus Christus sal nou tot in die hartjie van die hoofstad van die Romeinse ryk geneem word. Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Masedonië (met die stede Filippi en Tessalonika) en Agaje (met hoofstad Korinte) – en dan na Jerusalem en uiteindelik ook Rome te gaan. Hy stuur Timoteus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye). Daarmee word die breë lyne van die verhaal wat hom gaan afspeel na die einde van die Handelinge getrek.
Die botsing tussen die Christelike godsdiens (die leer van die Here) en die heidense godsdienste van Efese bereik nou ’n hoogtepunt, met veral die vakmanne wat beswaar maak teen die effek wat die Christelike geloof op hulle beroepsbeoefening het. Demetrius stook die onrus aan vanuit sy persoonlike situasie, maar spel ook die gevolge uit wat die evangelie op die publieke respek vir die godin Artemis het, en haar aanhang sal laat kwyn, en natuurlik hulle inkomste dan sal bedreig.
Chaos heers totdat die stadsklerk hulle tot bedaring bring met ’n verstommende wyse woord. Dit is ’n oorwinning in die kleine vir die Christelike godsdiens en is ook ’n getuienis dat mense se harte nie gewen word deur mag en geweld nie, maar deur respekvolle gesprek wat tot oortuigings kan lei.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese - January 31, 2012
- Handelinge 20:17-38 – Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang - February 1, 2012
- Efesiërs 1:1-23 – God seën ons om alles in almal te vervul - February 2, 2012
- Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges - February 3, 2012
- Efesiërs 3:1-21 – God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en Sy volheid - February 6, 2012
- Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe - February 7, 2012
- Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef - February 8, 2012
- Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek - February 9, 2012
- Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag - February 10, 2012
- Selfopofferende versus selfbevredigende liefde - July 5, 2016