Handelinge 20:17-38 – Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang

Paulus kom terug na Efese na sy reis na Masedonië, Griekeland, waar hy vir drie maande bly terwyl hy die gelowiges oral bemoedig.  Dit is opvallend hoe baie gelowiges uit die verskillende stede waar hy die evangelie verkondig het saam met hom reis, ’n hele gevolg, wat die krag van die evangelie demonstreer.

Paulus reis dan weer terug na Troas (Turkye), waar hy – soos Petrus Dorkas uit die dood opgewek het – ook vir Eutigus uit die dood opwek, wat die gelowiges, ten spyte van hulle vaak lywe, buitengewoon bemoedig het.

Terwyl hy reeds begin het met die reis na Jerusalem, wil hy nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en hy reël dat hulle mekaar ontmoet in Milete, so 60 km van Efese aan die kus.

Let op met hoeveel deernis en passie hy met hulle praat, asook die groot hartseer waarmee hulle van mekaar afskeid neem.  Paulus rig ’n roerende pleidooi tot hulle om die kudde van die Here op te pas.  Hy draai nie doekies om oor die lyding wat hulle sal verduur nie, dinge wat ook vir hom voorlê op sy pad, soos die Heilige Gees hom geruime tyd al op voorberei (20:23).

Hierdie toespraak gee ’n mens ’n roerende kykie in die passie wat hierdie groot Godsman gedryf het – al is sy lewe vir hom kosbaar, wil hy net sy lewenstaak voltooi en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het, klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (20:24).

Hy som sy bediening op met die woorde waaraan hy ook vir hulle herinner: “om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”  Onder baie trane en gebed rig hy sy voetstappe na Jerusalem, ten spyte van die feit dat hy weet, soos God hom oortuig het, dat dit nie met hom goed sal gaan wanneer hy daar kom nie.  ’n Mens dink aan die ervaring van Jesus in Getsemane, hoewel Hy nie kon staatmaak op sy metgeselle in sy uur van nood nie, en Paulus hier ’n hele skare het wat hom bemoedig.

Die brief aan die Efesiërs

Die brief aan die gemeente in Efese is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief is deur Paulus geskrywe, maar vanweë die meer onpersoonlike aard van die brief (hy noem niemand by die naam nie, behalwe Tigikus wat die brief aflewer) moontlik aan meer gemeentes gerig as net aan Efese.   Soos die ander gevangenskap briewe is Rome die meer waarskynlike plek vanwaar hy die brief geskryf het, hoewel Seserea of Efese ook moontlikhede is.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Daar is baie raakpunte met die brief aan Kolosse  en selfs met die brief aan Filippi (mense van die lig bv).

Leesplan

Ons lees die brief as volg:

  • Efesiërs 1:1-23 – Donderdag 2 Februarie
  • Efesiërs 2:1-22 – Vrydag 3 Februarie
  • Efesiërs 3:1-21 – Maandag 6 Februarie
  • Efesiërs 4:1-16 – Dinsdag 7 Februarie
  • Efesiërs 4:17-5:20 – Woensdag 8 Februarie
  • Efesiërs 5:21-6:9 – Donderdag 9 Februarie
  • Efesiërs 6:10-24 – Vrydag 10 Februarie

Efesiërs, Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: