Skip to main content

Selfopofferende versus selfbevredigende liefde

moral-codeEk het ’n navraag gekry oor Efesiërs 5:1-5 en die wyse waarop Paulus oor “onsedelikheid” skryf.  Ek het dit kortliks op Bybelskool geantwoord.  Ek het egter toe ’n bietjie verder gaan dink hieroor, veral in die lig van die onlangse Barna verslag wat ek gelees het oor die Amerikaanse samelewing wat nie meer met absolute morele kodes werk nie.
Ek dink Paulus help ons in sy brief aan die Efesiërs om dié uitdaging die hoof te bied.  Ek gee daarom dié paar opmerkings as stof vir julle eie nadenke hieroor:
Paulus kontrasteer in Efesiërs 5:1-5 selfopofferende liefde met selfbevredigende liefde.
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.  Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.
Dit is duidelik dat die rigting van dié twee liefdes heeltemal teenoorgesteld is:
  • Selfopofferende liefde is geskoei op die liefde van Jesus wat Homself vir ons aan die kruis opgeoffer het. Dit het geen seksuele konnotasie nie.
  • Selfbevredigende liefde daarenteen is geskoei op die liefde vir jouself en die bevrediging van jou eie behoeftes. Dit het veral met seksuele begeertes te make.

Onsedelikheid in enige vorm”, soos die NAV dit hier vertaal, is in dié konteks dus om seksueel immoreel op te tree, d.w.s. sonder geestelike of morele waardes of norme.   Jy bepaal die norme vir jou lewe volgens jou eie begeerte.  God het daarin geen sê nie.

Onsedelikheid is hier verwant aan ontug, gierigheid en afgodery, d.w.s. ’n lewenstyl waarin jou behoeftes sentraal staan en jou lewe draai om die bevrediging daarvan.  En dit staan teenoor die liefde waarmee Christus ons liefgehad het en Homself vir ons geoffer het.

Dít is die tipe liefde, selfopofferende liefde, wat ons teenoor mekaar moet vertoon. Nie die liefde, selfbevredigende liefde, vir onsself soos dit in onsedelikheid, ontug, en gierigheid na vore kom nie.

Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “onsedelikheid” is “akatharsia” en word behalwe hier in Efesiërs 3:5 ook op die volgende plekke gebruik (min of meer in datumvolgorde aangehaal):

  • 1 Tessalonisense 4:7 – “onsedelik”.  Paulus kontrasteer ’n onsedelike lewe in sy eerste brief in die NT met ‘n heilige lewe waarin God se norme die deurslag gee.  Ons seksuele lewe moet coram Deo, gelewe word, voor God en volgens sy norme.
  • Galasiërs 5:19 – “onreinheid”.  Paulus gebruik hier “akatharsia” saam met ’n ander woord “porneia” soos hy dit gereeld in die NT doen, en kontrasteer dié lewe in die vlees wat gemik is op selfbevrediging, met ’n lewe in die Gees wat deur die vrug van onder andere die liefde, vreugde en vrede gekenmerk word, omdat dit op God gerig is en vanuit die verhouding met Hom geleef word.  Die Gees moet ons lewe bepaal, nie ons begeertes nie.
  • 2 Korintiërs 12:21 – “onreinheid”.  Paulus skryf hier in sy vierde brief aan die Korinte (ons 2 Korintiërs) met ’n stuk amper wanhopige verleentheid oor die feit dat hulle nie geluister het na hom in sy eerste drie briewe aan hulle dat hulle hulle sedelike lewe in lyn moet kry met die feit dat die Gees nou in hulle as sy tempel bly nie: “Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al ’n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.” Onthou dat hy in sy tweede brief (dit is ons 1 Korintiërs; sy eerste brief het verlore geraak [1 Kor. 5:9]) hulle aangespreek het oor twee mense wat in bloedskande saamleef (1 Kor. 5) en uitgespel het dat hulle nie enige onsedelikheid moet toelaat nie (1 Kor. 6) en óf in die huwelik óf in die selibaat tot hulle reg moet kom ( 1 Kor. 7).
  • Romeine 1:24 – “sedelike onreinheid”.  Paulus skryf hier in ’n konteks waar hy onder andere  selfdegeslag seksuele gedrag afwys, maar ook ’n hele rits ander sondes.  Daarmee wys hy onomwonde uit dat ons almal verlossing nodig het in Christus (Rom. 3), sodat ons deur die Gees die werke van die vlees kan doodmaak (Rom. 8) en: “ons liggame as ’n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God aan te bied” (Rom. 12:1 – Bybel Direkte Vertaling – BDV).
  • Romeine 6:19 – “sedelike onreinheid”.  Dit is deel van Paulus se hele argument vanaf Romeine 1 dat ons liggame nie ter wille van onsself en die bevrediging van ons behoeftes gebruik moet word nie, veral nie op ’n wettelose en losbandige manier nie: “Soos julle julle ledemate in diens van onsedelikheid en losbandigheid gestel het om losbandig te lewe, so moet julle nou julle ledemate in diens stel van die geregtigheid om heilig te lewe.” Ons is immers nie meer slawe van die sonde nie.  Ons is vrygemaak om die Here te kan dien en onder ’n verpligting om die praktyke van die liggaam dood te maak (Rom. 8:13).
  • Kolossense 3:5 – “onreinheid”.  Weereens word “akatharsia” in kombinasie met “porneia” (“onsedelikheid”) gebruik en as deel van die ou lewe geskets wat ons moet aflê om die lewe van die nuwe mens te leef waarin ons vernuwe word na die beeld van ons Skepper en aan ons oorspronklike bedoeling as mense kan beantwoord.
  • Efesiërs 4:19 – “losbandigheid”.  Paulus skryf hier oor: “‘n onversadigbare drang aan losbandigheid” om “alles wat vuil is” te doen.  Soos in die brief aan die Kolossense word dit as deel van die ou lewe geskets wat versaak moet word, sodat die nuwe lewe in Christus omhels kan word.
  • Openbaring 17:4 – “onreinheid”.  Ook Johannes skryf hieroor en gebruik die verwante Griekse woord “akathartes” en gebruik dit in die frase: “die onreinheid van haar onsedelikheid”, weereens in kombinasie met die ander woord vir “onsedelikheid” – “porneia”.  Daarmee skets hy die tipe onsedelike samelewing waarin Christene hulle pad moet vind om heilig te lewe, ’n goeie beskrywing van presies die situasie wat vandag veral in die Westerse samelewing die geval is.
Die punt van al hierdie tekste oor “onsedelikheid” en “onreinheid” is dat ons as kinders van die Here ’n onvervreembare verpligting het om in alles, ook in die wyse waarop ons ons liggame gebruik en inspan, die Here te dien en ’n heilige lewe te lei.  Ons mag nie volgens die sedelose moraal van die vrou, die “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde“, leef nie (Openb. 17:5), versinnebeeld vandag onder andere deur die sedelose Weste.
Die Hebreërskrywer sê immers: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (12:14).

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Efesiërs, liefde


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…