Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe
Ons sluit vandag die leeswerk in Daniël af met die inhoud van die Boek van die Waarheid wat ’n sekere man vir Daniël gegee het. Dit beslaan 2 hoofstukke van intriges en stryd waarvan sommige aspekte maklik geïdentifiseer kan word en ander moeiliker. Dit is steeds 536 vC, al verwys die man eers terug na die eerste regeringsjaar van Darius, die koning wat bemoedig en beskerm is, waarskynlik om sy voorneme om die Godsvolk na hulle land toe terug te laat keer, uit te voer.
Omdat die gebeure waaroor Daniël hier berig ooreenkom met dié van hoofstuk 9, kan hoofstuk 11-12 as ’n verdere verduideliking gesien word van wat in die tydperk van die sewentig sewes gaan gebeur. Om dit makliker te maak om die draad van die storielyn te volg, kan ’n mens die inhoud soos volg opsom (op voetspoor van James Smith se Old Testament Survey Series: The Major Prophets):
- Die afloop van die Persiese ryk – Daniël 11:2
- Die opkoms van die Griekse ryk – Daniël 11:3-4
- Die stryd tussen die Ptolemeërs en Seleukiede ryke – Daniël 11:5-20
- Die opkoms van Antiochus – Daniël 11:21-24
- Die Egiptiese veldtogte – Daniël 11:25-30a
- Die vervolging van die Jode – Daniël 11:30b-35
- Die arrogante koning – Daniël 11:36-39
- Die einde van die koning – Daniël 11:40-45
- Die groot verdrukking – Daniël 12:1
- Die groot ontwaking – Daniël 12:2-4
- Die vernietiging van die mag van die gewyde volk – Daniël 12:5-7
- Die onderskeid tussen die goddeloses en verstandiges – Daniël 12:8-12
Die afloop van die Persiese ryk – Daniël 11:2
Vier van die konings van die Persiese ryk wat mekaar opvolg word hier genoem: Darius (Cambyses), Smerdis, Darius die Grote, en Ahasveros (Xerxes – die man van Ester – 486-465 vC) waarvan ons weet dat hy ’n mislukte veldtog teen die Grieke onderneem het wat die tafel gedek het vir die uiteindelike oorheersing van die Grieke.
Die opkoms van die Griekse ryk – Daniël 11:3-4
Dit is waarskynlik dat hier na Alexander die Grote se ryk verwys word (334-323 vC), wie se koninkryk uiteindelik in vier (volgens die vier windstreke) opgedeel is. Cassandra het in Masedonië regeer, Lysimachus in Klein-Asië. Seleukus in Sirië en Ptolemeus in Egipte.
Die stryd tussen die Ptolemeërs en Seleukiede ryke – Daniël 11:5-20
Laasgenoemde twee koninkryke – die Ptolemeërs suid van Israel, en die Seleukiede noord – se stryd word nou in redelike detail beskryf, veral omdat hulle die lewe in Israel omvattend beïnvloed het. Daar is vier “pare” konings wie se stryd beskryf word:
- Ptolemeus Soter van Egipte versus Seleukus van Sirië wat mekaar eintlik onderling ondersteun het tot Seleukus se voordeel.
- Ptolemeus Philadelphus versus Antiochus II Theos wat probeer het om hulle stryd met ’n huwelik van Philadelphus se dogter Bernice (“’n besondere meisie”) met Antiochus by te lê. Antiochus het egter sy vrou na net 2 jaar gelos. Hy is egter kort daarna deur sy nuwe vrou vermoor en Bernice is ook doodgemaak.
- Ptolemeus III Euergetes versus Seleukus II Callunicus wat Bernice se moordenaars uitgewis het, maar ’n soort ewewig in mag gehandhaaf het.
- Ptolemeus V Epiphanes versus Antiochus III waarin Antiochus die hef in die hand gekry het, maar toe oorwin is deur die Romeine en sy seun in Rome gevange gehou het, die latere Antiochus IV Epiphanes.
Die opkoms van Antiochus – Daniël 11:21-24
Die veragtelike persoon in die teks is niemand anders nie as Antiochus IV Epiphanes (175-163 vC), dié een wat onder andere vir Onias III, die priester-leier van die volk, vermoor het.
Die Egiptiese veldtogte – Daniël 11:25-30a
Antiochus IV het Egipte in 170 vC ingeval en Ptolemeus VI oorwin en op sy terugtog het hy die tempel gestroop. In 168 vC het hy weer Egipte binnegeval, maar met geen sukses nie, en hy moes terugkeer na Sirië.
Die vervolging van die Jode – Daniël 11:30b-35
Die Jode moes daarom sy toorn en frustrasie verduur wat tot die afskaffing van die offerkultus gelei het, soos volledig in die boeke van die Makkabeërs beskryf is. Dit “bietjie hulp” van vers 35 verwys waarskynlik na Judas Makkabeus, die Joodse priester, wat in opstand gekom het en die Jode bevry het.
Die arrogante koning – Daniël 11:36-39
Sommige geleerdes dink dat dié gedeelte steeds van Antiochus IV Epiphanes praat, ander dat dit moontlik op Herodes die Grote dui en nog ander dat dit op die Antichris dui. Dit kan wees dat hier ‘n dubbele betekenis is; dat aan die een kant daar steeds van Antiochus of Herodes gepraat word, maar aan die ander kant hulle as ‘n simbool van die Antichris gebruik word wat dus op die eindtyd slaan, ‘n tyd wat nog moet aanbreek.
Die einde van die koning – Daniël 11:40-45
Al wat ons verseker kan sê, is dat hier iemand na vore kom wat met alle geweld teen God en sy volk optree en gelukkig uiteindelik aan sy einde kom.
Die groot verdrukking – Daniël 12:1
In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die Gods volk waghou, op die toneel verskyn, want dit sal ’n swaar tyd wees. Almal wat egter in die boek (van die waarheid) opgeskryf is, sal gered word.
Die groot ontwaking – Daniël 12:2-4
Twee goed sal in dié tyd gebeur: 1) sommige dooies sal opstaan (vgl. wat met Jesus se kruisiging gebeur het met ’n aantal gelowiges wat opgewek en uit hulle grafte gegaan het – Matt. 27:51-53), 2) die verstandige leiers sal eer ontvang deurdat hulle baie mense op die regte pad gelei het.
Die vernietiging van die mag van die gewyde volk – Daniël 12:5-7
Daniël sien twee verdere persone by die Tigris wat vra hoe lank hierdie onbegryplike gebeurtenisse sal aanhou. Die antwoord kom van die man van hoofstuk 11 wat sê: ”’n Tyd, tye en ’n halwe tyd,” d.w.s. drie en ’n halfjaar, wat moontlik dui op die eindtyd wat genadiglik net ‘n beperkte tyd sal duur.
Die onderskeid tussen die goddeloses en verstandiges – Daniël 12:8-12
Alhoewel Daniël egter nie die verduideliking mooi verstaan nie, wil die man die sluier nie verder lig op die toekoms nie, behalwe vir die mededeling dat daar ’n al hoe groter onderskeid sal kom tussen die goddeloses en die verstandiges. Dit laat ’n mens dink aan Openbaring waar dieselfde gedagtes gebruik word vir die eindtyd (Openb 22:12 – “Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen en wie heilig is, moet heilig bly.”).
Tog gee hy nog ’n aanduiding van die tydsduur van dié verdrukking, hoewel dit eintlik net sin maak op simboliese vlak – 1290 dae (3 en ’n halfjaar) – waarna gewaarsku word om nog ’n klein rukkie verder uit te hou – nog 45 dae (altesaam 1335 dae) – totdat die gevaar heeltemal verby is.
Jesus haal dié deel in Daniël aan in sy profetiese rede en raai die gelowiges aan om te vlug wanneer dit gebeur, want dit sal bitter swaar wees (Matt. 24:15). Vir Jesus dui dit onteenseglik op die eindtyd wanneer die uitverkorenes vir sy koninkryk ingesamel sal word.
Boodskap en betekenis
Soos die man vir Darius bemoedig en beskerm het en Migael oor die Gods volk die wag gehou het, só kan ons uit die gedeelte die hoop skep dat God self oor ons die wag sal hou en ons sal red tot die ewige lewe, al loop ons pad deur groot verdrukking.
Ons roeping is daarom ook om soos die verstandige leiers alles in die stryd te werp om baie mense op die regte pad te lei, sodat hulle dié vreugde van God se guns en seën saam met ons kan ervaar. Al verstaan ons nie alles wat hier gesê word nie.
Mag dié boodskap jou ook onderskraag en ondersteun!
View all posts in this series
- Inleiding oor die boek Daniël - July 17, 2013
- Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome - July 18, 2013
- Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy - July 19, 2013
- Daniël 5 – Geniet God se geduld en genade deur gehoorsaamheid te omhels, anders is jou dae ook getel - July 22, 2013
- Daniël 6 – God red Daniël van die leeus as getuienis van sy aktiewe betrokkenheid in die wêreld - July 23, 2013
- Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens” - July 24, 2013
- Daniël 8 – ’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke - July 25, 2013
- Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening - July 26, 2013
- Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed - July 29, 2013
- Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe - July 30, 2013
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Riëtta
Ek geniet u lerings en u “boldness”. Tydens my studie van Daniël en die ander boeke aangaande die eindtye en eskatologie, kom die vraag by my op … Waar was Daniël toe sy 3 vriende ie wou buig voor die beeld nie en daarna in die vuuroond gegooi is? Die Woord sê duidelik dat alle volke, tale en nasies die opdrag ontvang het. Daniël was tog as hoof aangestel oor Babel en het in die Paleis saam met die Koning gewoon. Waarom was hy nie saam in die vuuroond nie en waarom het hy niks gedoen nie?
Geseënde dag vir u.
Chris van Wyk
Hi Riëtta, let op dat dit net “die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies” wat versamel is om by die inwyding van die beeld daarvoor te buig as ‘n boodskap aan die nasies om dieselfde te doen. Daniël is aangestel as die heerser oor die provinsie Babel en die hoofowerste van die wyse manne in die paleis (Dan 2:48-49) en was waarskynlik nie deel van die klomp leiers wat opgeroep is om voor die beeld te buig nie. Sadrag, Mesag en Abednego was deel van die bestuurspan van die provinsie Babel – op Daniël se versoek – en direk betrek om voor die beeld te buig.