Skip to main content

Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy

Ons lees vandag twee verhale van geloof in God.

  • Die eerste verhaal handel oor die standvastige geloof van Daniël se drie vriende wat volgehou word selfs al moet hulle die brandende oond daarvoor trotseer – hoofstuk 3.
  • Die tweede verhaal handel oor die geloofsbelydenis van Nebukadnesar wat aan die wêreld van sy tyd uitbasuin dat God bo alles Koning is, ná hy deur sy eie smeltkroes van verstoting moes gaan – hoofstuk 4.


Teks en konteks

God se mag manifesteer deur die vasberade geloof van Daniël se drie vriende – hoofstuk 3

Nebukadnesar se beeld is waarskynlik geïnspireer deur die beeld in sy droom (hfst. 2). Hy skep daarmee ’n simbool van sy universele mag waaraan hy goddelike eienskappe koppel deur van almal te verwag om daarvoor neer te buig en dit te aanbid.

Dit skep ’n geleentheid vir sekere jaloerse Galdeërs om die drie vriende van Daniël in diskrediet te probeer bring. Let op dat daar nooit berig word dat die drie vriende nie gebuig het nie. Dit kan selfs wees dat hulle vals beskuldig is. Dit blyk darem egter ook duidelik in die gesprek met Nebukadnesar dat hulle nie van plan was om te buig nie!

Vol van bravade oor sy eie mag vra Nebukadnesar dan die drie vriende om te buig voor sy beeld, want: “Watter god sal julle uit my mag kan red?” (3:15). Hy gee hulle dus ’n kans om van plan te verander.

Die drie vriende knip egter amper nie ’n oog nie en sê dat hulle nie eers ’n antwoord aan Nebukadnesar verskuldig is nie. Hulle het hul God wat hul dien en Hy het die mag om hulle te red van die kwaad wat hulle aangedoen kan word, omdat hulle aan Hom getrou wil bly.

Dan kom een van die roerendste uitsprake oor geloof in die hele Bybel, as hulle sê: “Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (3:17-18).

Die drie vriende se geloof standvastigheid loop uit op ’n manifestasie van God se voorsiening en versorging van Sy mense. Hulle kom nie net niks oor in die brandende oond nie, maar beweeg vry en ongedeerd rond daarin saam met ’n vierde persoon wat vir die koning lyk soos “’n seun van die gode” (3:25) en deur hom as ’n engel geïdentifiseer word (3:28 – baie identifiseer die persoon met Jesus in sy preëksistente bestaan). Die impak op die koning en sy koninkryk is enorm, hoewel dit nog ’n verdere ingrype van God sou neem om die koning regtig te bereik (hfst. 4).

Terloops: die drie vriende ervaar in dié hoofstuk iets van die belofte wat die name wat hulle ouers hulle gegee het, vir hulle inhou: Gananja – “Jah(wê) is genadig”; Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”; Asarja – “Jah(wê) het gehelp”.

God se mag manifesteer ook in die getuienis van Nebukadnesar – hoofstuk 4

Dit is merkwaardig dat die koning hierdie verhaal ten koste van homself vertel. Maar, die uitkoms daarvan is só grondverskuiwend vir hom dat Nebukadnesar dit as ’n getuienis of geloofsbelydenis aanbied, waarskynlik in briefvorm.

Die hoofstuk wissel tussen die eerste persoon en die derde persoon. Waar Nebukadnesar by sy volle verstand is, word dit in die eerste persoon vertel – vers 1-18 en 34-37. Waar Nebukadnesar die waarskuwing ontvang en uiteindelik sy verstand verloor, word dit in die derde persoon vertel – vers 19-33. Dit verhoog die geloofwaardigheid van die verhaal deurdat die “kranksinnigheid” deur iemand anders oor hom getuig word.

Hierdie keer is die droom wat die Here vir Nebukadnesar gee ’n waarskuwing, soos Daniël dit dan ook vir hom uitlê: “luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed (vgl. vers 1) aanhou.”

Die koning luister egter nie en die waarskuwing gaan in vervulling. Sonder om vir ons baie detail uit te spel, oorval ’n tipe sielkundige versteuring vir Nebukadnesar dat hy homself as ’n dier ag (’n rare toestand waarvan daar wel gevalle vandag bekend is, hoewel sommige dink dat dit eerder met ’n baie diep depressie verbind moet word) wat hom eers verlaat het toe hy “na die hemel opgekyk” het om hulp en sy verstand en koningskap teruggekry het.

Hoewel ons nie ander eerstehandse getuienis vir dié siekte van Nebukadnesar uit Babiloniese bronne het nie, is daar wel tweedehandse getuienis daarna uit die verwysings na Berossus se getuienis by die Joodse geskiedskrywer Josephus en Megasthenes se getuienis by die kerkvader Eusebius. Dit is egter moeilik om ’n besliste standpunt op sulke indirekte gronde in te neem.

Daar word egter in elk geval min van Nebukadnesar in Babiloniese bronne geskryf ná die eerste 11 jaar van sy regering wat beteken dat die Bybelse verhaal nie in konflik is met bestaande historiese bronne nie. Dit behoort genoeg te wees om die verhaal na waarde te skat en die betekenis daarvan ter harte te neem. Die boodskap van die verhaal is dat God Hom nie onbetuig laat in die lewe selfs van konings nie.

Boodskap en betekenis

Die boek Daniël help om om God se aktiewe, omvattende en soewereine betrokkenheid in die heelal op drie terreine raak te sien:

  1. Dit sluit die geloofsgemeenskap in, nie net in hulle eie land nie, maar ook in die vreemde in ballingskap. Dit dra die bevestiging en versekering dat God daar is waar Sy mense is.
  2. Dit sluit die konings en koninkryke van hierdie wêreld in met wie God op verskillende maniere in gesprek tree. Dit dra die hoop en verwagting dat God daar is waar politieke, ekonomiese en sosiaal-maatskaplike besluite geneem word.
  3. Dit sluit ook die konflik in die wêreld van engele in wat op verskillende wyses ’n impak op die mensdom en die aarde het. Dit dra die belofte en troos dat God daar is waar die chaos magte dreig om mense met hulle boosheid te verswelg.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Daniël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.