Skip to main content

Inleiding op die boek Ester

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.).  Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Serubabbel van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.).  Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen.  Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het.  Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Ester se verhaal gee vir ons ’n prentjie van die wedervaringe  van waarskynlik die meerderheid van die Jode wat ná die kleinerige klompie se terugkeer uit ballingskap, steeds in ander lande gebly het, in die sogenaamde diaspora.  Die boek fokus op die geweldige uitdagings waaraan hulle blootgestel is in die vreemde, in dié geval ook aan die bedreiging van ’n etniese suiwering waarin hulle byna uitgewis is.

Die uitkoms wat deur die bemiddeling van Ester en Mordegai (wie se naam in Persiese bronne genoem word) kom, word tot vandag toe nog met die jaarlikse Purim fees gevier.  Purim verwys na die lot (pur) wat gewerp is om die tyd van die Jode se uitroeiing te bepaal (Esra 3:7).

In Juda en Jerusalem is in dié tyd ‘n heel ander stryd gevoer.  Waar die eerste deel van die Kronistiese Geskiedwerk – 1 en 2 Kronieke – gefokus het op ‘n waarderende blik op die koninkryk van Juda vóór die ballingskap om die identiteit van die volk weer in God en hulle gesamentlike geskiedenis te vestig, fokus die boeke van Esra en Nehemia op die drie leiersfigure wat in uitdagende omstandighede die tempel moes herbou (Serubabel) die wetboek weer sy regmatige plek in die godsdienstige lewe van Juda laat inneem (Esra) en die stad se muur moes herbou om die gemeenskapslewe te herstel (Nehemia), soos in die tweede deel van die Kronistiese Geskiedwerk – Esra en Nehemia – vertel word.

Dit is ook die tyd van die profete Haggai, Sagaria en Maleagi wat op verskeie maniere die leiers en die volk bemoedig het.

Die boek word met baie humor en ironie geskrywe.  ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk!  Haman probeer eer aan homself bewys, maar bevoordeel só vir Mordegai.  Haman probeer die Jode uitwis, maar vernietig net homself en sy familie.  Haman sterf op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou.

Maar dit is ook ’n ontstellende boek as ’n mens ingedagte hou dat Haman ’n Amalekiet was en Mordegai ’n Benjaminiet.  Trouens, Haman kom van die nageslag van Agag (3:1), dié koning van Amalek wat deur koning Saul – uit die stam van Benjamin (Mordegai se oupagrootjie se naam was ook Kis, soos ook Saul se pa – Est. 2:5; 1 Sam 9:1-2) – aanvanklik gespaar is in oorlog, maar toe deur Samuel om die lewe gebring is (1 Sam 15).  Die vete tussen Israel (Benjaminiete) en die Amalekiete (Agagiete) was dus baie diep en verbete.  So byna slaag die Amalekiete dus hier om die volk Israel uit te wis deur die konkelwerk van Haman!

Die diepste indruk wat die boek egter laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere verandering bewerk, selfs sonder dat sy naam enigsins eksplisiet in die boek gebruik word (soos ook in Hooglied).  Ester se keuse as koningin sit bv. die reeks gebeure aan die gang.  Die koning se slaaploosheid lei hom daartoe om Mordegai se heldedaad in die annale raak te lees en agter te kom dat hy hom nog nie daarvoor vereer het nie.  Ester se berekende risiko om die koning ongevraagd te nader slaag toe hy haar te woord staan.

Daaragter sien ’n mens God se hand raak, waarmee Hy die veiligheid van sy mense regoor die wêreld waarborg, ook dié wat sukkel in Jerusalem om die geloofsgemeenskap weer op te bou.  Sy voorsienigheid is verborge en amper onopvallend, maar getuig tog van ’n ongelooflike betrokke teenwoordigheid wat die regte ding op die regte tyd laat gebeur.  God kruip nie weg nie, maar werk agter die skerms om “alles ten goede (te) laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28).  Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ester


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda