Inleiding op die boek Ester
Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.). Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Serubabbel van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.). Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Israel in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen. Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het. Só moontlik ook Nehemia en Ester.
Ester se verhaal gee vir ons ’n prentjie van die wedervaringe van waarskynlik die meerderheid van die Jode wat ná die kleinerige klompie se terugkeer uit ballingskap, steeds in ander lande gebly het, in die sogenaamde diaspora. Die boek fokus op die geweldige uitdagings waaraan hulle blootgestel is in die vreemde, in dié geval ook aan die bedreiging van ’n etniese suiwering waarin hulle byna uitgewis is.
Die uitkoms wat deur die bemiddeling van Ester en Mordegai (wie se naam in Persiese bronne genoem word) kom, word tot vandag toe nog met die jaarlikse Purim fees gevier. Purim verwys na die lot (pur) wat gewerp is om die tyd van die Jode se uitroeiing te bepaal (Esra 3:7).
In Juda en Jerusalem is in dié tyd ‘n heel ander stryd gevoer. Waar die eerste deel van die Kronistiese Geskiedwerk – 1 en 2 Kronieke – gefokus het op ‘n waarderende blik op die koninkryk van Juda vóór die ballingskap om die identiteit van die volk weer in God en hulle gesamentlike geskiedenis te vestig, fokus die boeke van Esra en Nehemia op die drie leiersfigure wat in uitdagende omstandighede die tempel moes herbou (Serubabel) die wetboek weer sy regmatige plek in die godsdienstige lewe van Juda laat inneem (Esra) en die stad se muur moes herbou om die gemeenskapslewe te herstel (Nehemia), soos in die tweede deel van die Kronistiese Geskiedwerk – Esra en Nehemia – vertel word.
Dit is ook die tyd van die profete Haggai, Sagaria en Maleagi wat op verskeie maniere die leiers en die volk bemoedig het.
Die boek word met baie humor en ironie geskrywe. ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk! Haman probeer eer aan homself bewys, maar bevoordeel só vir Mordegai. Haman probeer die Jode uitwis, maar vernietig net homself en sy familie. Haman sterf op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou.
Maar dit is ook ’n ontstellende boek as ’n mens ingedagte hou dat Haman ’n Amalekiet was en Mordegai ’n Benjaminiet. Trouens, Haman kom van die nageslag van Agag (3:1), dié koning van Amalek wat deur koning Saul – uit die stam van Benjamin (Mordegai se oupagrootjie se naam was ook Kis, soos ook Saul se pa – Est. 2:5; 1 Sam 9:1-2) – aanvanklik gespaar is in oorlog, maar toe deur Samuel om die lewe gebring is (1 Sam 15). Die vete tussen Israel (Benjaminiete) en die Amalekiete (Agagiete) was dus baie diep en verbete. So byna slaag die Amalekiete dus hier om die volk Israel uit te wis deur die konkelwerk van Haman!
Die diepste indruk wat die boek egter laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere verandering bewerk, selfs sonder dat sy naam enigsins eksplisiet in die boek gebruik word (soos ook in Hooglied). Ester se keuse as koningin sit bv. die reeks gebeure aan die gang. Die koning se slaaploosheid lei hom daartoe om Mordegai se heldedaad in die annale raak te lees en agter te kom dat hy hom nog nie daarvoor vereer het nie. Ester se berekende risiko om die koning ongevraagd te nader slaag toe hy haar te woord staan.
Daaragter sien ’n mens God se hand raak, waarmee Hy die veiligheid van sy mense regoor die wêreld waarborg, ook dié wat sukkel in Jerusalem om die geloofsgemeenskap weer op te bou. Sy voorsienigheid is verborge en amper onopvallend, maar getuig tog van ’n ongelooflike betrokke teenwoordigheid wat die regte ding op die regte tyd laat gebeur. God kruip nie weg nie, maar werk agter die skerms om “alles ten goede (te) laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense.
View all posts in this series
- Inleiding op die boek Ester - July 31, 2013
- Ester 1-2:18 – Ester beïndruk almal om haar en vestig haarself as nuwe koningin
- Ester 2:19-5:14 – Mordegai en Ester tree met groot wysheid en oorleg op in die gevaar wat Haman vir die Joodse volk inhou - August 1, 2013
- Ester 6-7 – Die koning se slaaploosheid is die draaipunt in die verhaal - August 2, 2013
- Ester 8 – Die Jode kry die reg om hulle teen etniese suiwering te verdedig - August 5, 2013
- Ester 9-10 – God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester - August 6, 2013
- Wat is die mens? – Motivering maak saak: Haman en Mordegai in Ester - September 16, 2018
- Ester – Met die oog op ‘n tyd soos hierdie - September 24, 2018