Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening
Hoofstuk 9 beskryf nie ’n visioen nie, maar ’n gebed van Daniël vir die vergifnis en herstel van die volk en ’n antwoord daarop deur die engel Gabriël. Dit beslaan drie dele – 1) die bewuswording van God se belofte in die Bybel, 2) die ernstige gebed om vervulling daarvan en 3) die antwoord van die Here deur bemiddeling van die engel Gabriël.
God se belofte
In dieselfde jaar (539 v.C.) wat Daniël die Here se sorg in die leeukuil ondervind het (Dan. 6), die eerste regeringsjaar van Darius/Kores, lees hy in “die Skrifte” – die weergawe van die kanon van dié tyd – dat die ballingskap deur die Here beperk is. Hy kom in die boek van die profeet Jeremia agter dat die Here ’n afgebakende tyd van sewentig jaar vir Jerusalem se verwerping bepaal het. Die boek is deur die loop van ’n paar dekades voor en tydens die ballingskap geskryf en uiteindelik in die ballingskap gefinaliseer. Daniël het dus ’n kopie daarvan.
Jesaja 45 het reeds Kores aan dié terugkeer uit ballingskap verbind: “Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of ’n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige.” (45:13) Hoewel Jesaja nie die tydperk as sodanig aangedui het nie, koppel hy die terugkeer aan Kores se koningskap en verskaf inligting wat ooreenkom met die edik wat Kores uitreik vir die terugkeer soos ons in Esra 1:2-4 lees.
Let op hoe die edik insluit dat die ballinge van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee voorsien moet word deur die mense van hulle omgewing in Babel saam met ’n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem. Dit herinner aan die soortgelyke opdrag wat die Here met die Uittog uit Egipte aan die volk gegee het om silwer en goue goed van hulle Egiptiese bure te eis as voorsiening vir die reis (Eks 11:2-3).
Daniël se gebed
Met dié inligting wend Daniël hom na die Here God in gebed en smeking terwyl hy die erns van sy gebed bevestig met ’n vas. Sy gebed kan as ’n model gebruik word om God se beloftes in vervulling te bid.
- Daniël vereenselwig hom met die volk in hulle sonde en ellende. Hy bely dit en erken daarmee dat God regverdig is. Die ellende is deur hulle eie toedoen. Hulle was ongehoorsaam, al het God sy verbond en trou gehandhaaf teenoor hulle. Selfs die profete wat die Here gestuur het, is geminag.
- Hy herinner die Here aan die vorige Uittog uit Egipte waarmee Hy sy Naam grootgemaak het, soos dit vandag nog is. Israel se ellende het nie daaraan afbreek gedoen nie.
- Hy beroep hom op God se barmhartigheid en vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel, “nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.”
Gabriël se antwoord
Daniël beleef dit dat die antwoord op sy gebed kom “terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely”. Gabriël lig hom in, want God het vir Daniël lief!
Let egter op dat die Gabriël baie bewus is van die moeilikheidsgraad van dié antwoord en Daniël aanraai om dit deeglik te bestudeer (“gee dus ag op wat ek sê”) totdat hy die visioen (dít wat die engel nou gaan verklaar) verstaan. Begrip kom deur jou brein te gebruik, hoewel dié antwoord in hierdie spesifieke geval selfs dan nie op alle punte volledig helder is nie!
Die tydperke waarvan sprake is in die N.A.V. vertaling het in die oorspronklike Hebreeus die betekenis van sewes. Daar staan dus letterlik: “Sewentig sewes” bv. Dit word gewoonlik op grond van Jer. 25:11-12; 29:10 verklaar as sewe jare. Lev. 25:8 praat weer van Sabbatsjare wat elkeen sewe jaar lank is. Albei dié tekste word gebruik om die sewes se lengte te interpreteer, hoewel die keuse vir tydperke ’n meer simboliese karakter daaraan verleen, al hou die getalle in dié vier verse wel min of meer met die kronologie van gebeure verband.
Die boodskap van Gabriël is min of meer soos volg:
- Vers 24: “Sewentig sewes” (soos dit letterlik in Hebreeus staan) is vir die volk en stad vasgestel totdat versoening gedoen is vir hulle oortredinge en blywende geregtigheid tot stand gebring word. Dit dui die hele tydperk aan waarvan die netto resultaat van versoening waarskynlik uit NT hoek met Christus verbind kan word. Ek sê dit versigtig net omdat ek rekening hou daarmee dat Daniël ’n beperkte insig gehad het in Wie Jesus is en wat Hy sou doen.
- Vers 25: Dit sal “sewe sewes” en “twee en sestig sewes” neem vanaf besluit is op die herstel van Jerusalem totdat ’n gesalfde (Messias is die woord wat gebruik word en wat met uitverkore vertaal is) regeerder (prins) sal kom – d.w.s. nege en sestig sewes. Dit dui dus die tydperk aan van óf Kores se edik tot met die gebeure in die tyd van Antiogus óf die tyd van Artaxerxes se opdrag aan Nehemia tot en met die tyd van Christus. Laasgenoemde is my tentatiewe keuse. My interpretasie om die sewes bymekaar te tel, berus op die moontlikheid dat die punt ná die “twee en sestig sewes” geplaas kan word en nie daarvoor nie, soos dit bv. in die NIV is. Die twee tydperke is dan aaneenlopend.
- Vers 26: Aan die einde van die “twee en sestig sewes” sal ’n gesalfde (Messias is die woord wat gebruik word) onskuldig (“en sal niks hê nie” is wat letterlik daar staan) doodgemaak word. Dit dui waarskynlik uit NT hoek op die kruisdood van Christus.
- Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ’n ander regeerder. Dit vind plaas in die uitstaande sewe wat ook opgedeel word in twee dele, maar baie moeilik is om van sin te maak. Dit kan wel uit NT hoek met die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. verbind word indien vers 25 met die tyd van Nehemia verbind word. Anders sal die verwysing op die Makkabeërtyd dui.
- Vers 27: Die regeerder sal verwoesting aanrig en dan self verwoes word. Daarna kom die einde. Dit is in baie verskuilde taal wat ek nie eers gaan probeer verklaar nie.
Die punt wat Gabriël maak, is egter duidelik: daar sal ’n gesalfde kom wat met sy dood versoening sal bring vir die volk. Daar sal ook duidelike teenstand wees teen God wat uiteindelik deur Hom getroef sal word. Dit is die kort en die lank daarvan.
View all posts in this series
- Inleiding oor die boek Daniël - July 17, 2013
- Daniël 1-2 – Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome - July 18, 2013
- Daniël 3-4 – God red Daniël se drie vriende en oortuig Nebukadnesar van sy Heerskappy - July 19, 2013
- Daniël 5 – Geniet God se geduld en genade deur gehoorsaamheid te omhels, anders is jou dae ook getel - July 22, 2013
- Daniël 6 – God red Daniël van die leeus as getuienis van sy aktiewe betrokkenheid in die wêreld - July 23, 2013
- Daniël 7 – God gee die heerskappy aan een “soos ‘n seun van die mens” - July 24, 2013
- Daniël 8 – ’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke - July 25, 2013
- Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening - July 26, 2013
- Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed - July 29, 2013
- Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe - July 30, 2013