Skip to main content

Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed

Die vierde en laaste visioen van Daniël kom in die derde regeringsjaar van koning Kores (Darius – Dan 9:1 – die LXX dui dit as Kores aan) van Persië, dws 536 vC. Onthou Kores het ook ‘n seun Darius gehad waarvan ons so pas in Esra gelees het wat eers 20 jaar na hom koning geraak het (522-486 vC).

Die eerste ballinge was al terug in Jerusalem as gevolg van die goedgunstigheid van Kores. Die altaar van die Here is al op dié stadium herbou en die fondamente van die tempel gelê op sy oorspronklike plek (Esra 1-3). Weens die konflik met die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing is die verdere bouery egter vir twee dekades in die wiele gery (Esra 4). Dit is in dié tyd wat Daniël se visioen gebeur.

Terloops: bouwerk aan die tempel is uiteindelik voortgesit weens die optrede van die profete Haggai en Sagaria wat vir Serubbabel en die volk moed ingepraat het (Esra 5). Die bouwerk kon daarom weer begin in die 2de regeringsjaar van koning Darius van Persië, twintig jaar nadat hulle teruggekeer het, in 520 vC. Die tempel is 4 jaar later voltooi (Esra 5:15) en met groot vreugde ingewy, waarna die Paasfees gevier is, in 516 vC.

Hierdie vierde visioen word daarom heel gepas as ’n openbaring (Hebreeuse woord dâbâr = woord word gebruik) beskryf van wat met die volk van God in die toekoms gaan gebeur.

Ons lees vandag Daniël 10 en môre Daniël 11-12.

Teks en konteks

Die visioen van ’n sekere man

Die visioen kom na drie weke waarin Daniël getreur het. Die rede vir sy smart word nie eksplisiet aangedui nie, maar die moontlikheid is baie sterk dat dit oor die lot van die Jode in Jerusalem was waar dinge net nie aan die gang wou kom ten spyte van die verwagting wat die terugkeer daarheen by alle Jode geskep het.

Daniël het daarom 21 dae lank geen lekker kos geëet nie, sy mond nie aan vleis of wyn gesit nie, en hy het geen reukolie gebruik nie. Hy keer dus waarskynlik terug na die tipe dieet wat hy en sy drie vriende aan die begin van hulle tyd in Babel gevolg het (Dan 1). Sy doel was om insig te kry in wat aangaan en hy het hom daarom voor God verootmoedig en hom ingespan om te verstaan.

Die visioen wat Daniël gevolglik by die Tigris ontvang, gee hom ’n visie op ’n besondere persoon wat na hom gestuur word en oënskynlik groter status het as die engele en ooreenkomste toon met die beskrywing van die Here self in die OT (Eseg 1:26-28) sowel as die verheerlikte Here Jesus in die NT (Openb 1:12-16), maar wat nie hier direk as die Here self geïdentifiseer word nie.

Die teks praat net van die gestuurde as “’n man” wat ook met “’n sekere man” vertaal kan word (îsh-êchâd). Die versoeking is groot om dié man met die een “soos ’n seun van die mens” (Dan 7:13) asook die stem uit die Ulai rivier wat aan Gabriël opdragte gegee het (Dan 8:15) te verbind, maar die teks gee nie meer inligting daaroor nie.

  • Dat hierdie man besondere kragte het, is egter ook so, want drie keer raak hy Daniël aan om hom te versterk (net soos Johannes ook versterk is met sy visioen van die verheerlikte Here Jesus).
  • Dat hierdie man daarby ook ’n besonder hoë status het, is ook so, want hy is die leier in die stryd teen die engel van die Persiese ryk vir wie Migael, een van die vernaamste engele, kom help het. Lees gerus die beskrywing van “Die Woord van God”, die ruiter op die wit perd in Openbaring 19, en met regverdigheid oordeel en oorlog

Dit is amper onvermydelik om te dink dat ’n mens hier met Jesus in sy preëksistente staat te make het, veral omdat daar regdeur in die beskrywing van die man klem gelê word beide op sy menslikheid as sy bonatuurlike krag en status. Maar die verwysings is in verskuilde taal en uiteraard iets wat Daniël nie volledig kon verstaan op dié stadium van die heilsgeskiedenis nie. Indien dit egter die geval is – en daar is genoeg rede uit die NT prentjies van Jesus om dit te glo, Jesus word bv. verskeie kere die Gestuurde van God genoem in al die evangelies (Matt. 10:40; Mark 9:37; Luk. 4:18; Joh. 6:29) – open dit vir ’n mens ’n prentjie op God wat tot groot gerustheid en vertroue lei.

Interessant genoeg lei die visioen wat Daniël in antwoord op sy gebede kry nie tot ’n verklaring daarvan soos die geval in die vorige visioene was nie. Dit lei in hierdie geval tot die verkondiging van die toekoms van die Gods volk met ’n aantal perspektiewe op die eindtyd daarby gevoeg.

Let op hoe die man vir Daniël twee keer aanspreek as: “jy vir wie God liefhet”, soos Gabriël ook al gedoen het in hoofstuk 9. Werklik besondere woorde! Die visioen kom ook “in antwoord op jou gebede”. Die implikasie is dat Daniël die visioen nie sou gesien het as hy nie moeite gedoen het om te verstaan wat die Here besig was om te doen in verband met sy mense nie.

Genoeg rede om ons op ons knieë te hou? Verseker!

Die visioen en boodskap kom teen die agtergrond van ’n geestelike stryd waaroor ons min inligting kry. Dit word eintlik net vertel uit die hoek van die leiers van die stryd, die engele, sowel as dié man. Wat hulle egter doen, hoe die konflik gevoer word en presies hoe dit ’n invloed op die aarde in die uitspeel van politieke werklikhede het, word nie in detail uitgespel nie, behalwe dat hierdie man bv. vir Darius die Mediër “bemoedig en beskerm het” (11:1). Die feit dat daar ’n stryd is en dat dit ’n invloed het, selfs in die toekoms (die engel van Griekeland sal kom as die stryd teen die engel van Persië klaar is) is duidelik. Oor die hoe daarvan word egter min gesê.

Die boodskap wat die man vir Daniël gee, kom uit die Boek van die Waarheid. Dit herinner aan die ander boeke van God, die boek waarin Dawid (gelowiges) se lewensdae opgeskryf is (Ps. 139:16), die boek waarin Dawid (gelowiges) se trane opgeskryf is (Ps. 56:9), die boek waarin ons dade opgeteken is (Open 20:12), sowel as die boek van die lewe waarin gelowiges se name opgeskryf is (Ps. 69:29; Fil. 4:3; Open 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27 – vgl. ook die gedenkboek van Mal. 3:16 waarin ook die name opgeskryf is van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam).

Hoofstuk 11-12 gaan die inhoud van dié boek weergee, wat ons môre gaan lees.

Boodskap en betekenis

Dit bly darem wonderlik om te lees dat God Daniël lief het, en dat dit ‘n belangrike rede is waarom die Here hom insluit in die openbaarmaking van sy wil vir hierdie lewe.

Dit is net so wonderlik om Daniël se liefde vir sy mense raak te sien. Hy is die hele tyd besig om hulle wel en weë voor die Here te bring aan die hand van beide die opdragte van die Here (die wet wat die volk so liederlik oortree het) en sy beloftes (dat Hy vergewe en vernuwe ná die oordeel van die ballingskap).

Dit is genoeg rede om ons op ons knieë te hou ook vir ons mense.

Wat ons egter ook moet hoor in hierdie hoofstuk is dat daar ’n geestelike stryd is waarvan ons weliswaar min inligting kry, maar steeds uiters werklik is. Maar, al weet ons ook min, weet ons genoeg om bv Paulus se opdrag om die wapenrusting aan te trek en sterk te staan in ons stryd vir die waarheid van die evangelie, ernstig te neem (Ef 6).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Daniël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.