Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed

Die vierde en laaste visioen van Daniël kom in die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië (Darius – Dan. 9:1), d.w.s. in 537 v.C. Die eerste ballinge was al terug in Jerusalem as gevolg van die goedgunstigheid van Kores.  Die altaar van die Here is al op dié stadium herbou en die fondamente van die tempel gelê op sy oorspronklike plek (Esra 1-3).  Weens die konflik met die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing is die verdere bouery egter vir twee dekades in die wiele gery (Esra 4).  Dit is in dié tyd wat Daniël se visioen gebeur.

Terloops: bouwerk aan die tempel is uiteindelik voortgesit weens die optrede van die profete Haggai en Sagaria wat vir Serubbabel en die volk moed ingepraat het (Esra 5).  Die bouwerk kon daarom weer begin in die 2de regeringsjaar van koning Darius (Hystaspes) van Persië, twintig jaar nadat hulle teruggekeer het, in 519 v.C.  Die tempel is 4 jaar later voltooi (Esra 5:15) en met groot vreugde ingewy waarna die Paasfees gevier is.

Hierdie vierde visioen word daarom heel gepas as ’n openbaring (Hebreeuse woord dâbâr = woord word gebruik) beskryf van wat met die volk van God in die toekoms gaan gebeur.

Ons lees vandag hfst. 10 en môre hfst. 11-12.

Die visioen van ‘n sekere man

Die visioen kom na drie weke waarin Daniël getreur het.  Die rede vir sy smart word nie eksplisiet aangedui nie, maar die moontlikheid is baie sterk dat dit oor die lot van die Jode in Jerusalem was waar dinge net nie aan die gang wou kom ten spyte van die verwagting wat die terugkeer daarheen by alle Jode geskep het.

Daniël het daarom 21 dae lank geen lekker kos geëet nie, sy mond nie aan vleis of wyn gesit nie en hy het geen reukolie gebruik nie.  Hy keer dus waarskynlik terug na die tipe dieet wat hy en sy drie vriende aan die begin van hulle tyd in Babel gevolg het (Dan. 1).  Sy doel was om insig te kry in wat aangaan en hy het hom daarom voor God verootmoedig en hom ingespan om te verstaan.

Die visioen wat Daniël gevolglik by die Tigris ontvang, gee hom ’n visie op ’n besondere persoon wat na hom gestuur word en oënskynlik groter status het as die engele en ooreenkomste toon met die beskrywing van die Here self in die OT (Eseg. 1:26-28) sowel as die verheerlikte Here Jesus in die NT (Open 1:12-16), maar nog nie hier direk as die Here self geïdentifiseer word nie.

Die teks praat net van die gestuurde as “’n man” wat ook met “’n sekere man” vertaal kan word (îsh-êchâd).  Die versoeking is groot om dié man met die een “soos ’n seun van die mens” (Dan. 7:13) asook die stem uit die Ulai rivier wat aan Gabriël opdragte gegee het (Dan. 8:15) te verbind, maar die teks gee nie meer inligting daaroor nie.

  • Dat hierdie man besondere kragte het, is egter ook so, want drie keer raak hy Daniël aan om hom te versterk (net soos Johannes ook versterk is met sy visioen van die verheerlikte Here Jesus).
  • Dat hierdie man daarby ook ’n besonder hoë status het, is ook so, want hy is die leier in die stryd teen die engel van die Persiese ryk vir wie Migael, een van die vernaamste engele, kom help het.  Lees gerus die beskrywing van “Die Woord van God”, die ruiter op die wit perd in Openbaring 19, en met regverdigheid oordeel en oorlog voer.

Dit is amper onvermydelik om te dink dat ’n mens hier met Jesus in sy pre-eksistente staat te make het, veral omdat daar regdeur in die beskrywing van die man klem gelê word beide op sy menslikheid as sy bonatuurlike krag en status.  Maar die verwysings is in verskuilde taal en uiteraard iets wat Daniël nie volledig kon verstaan op dié stadium van die heilsgeskiedenis nie.  Indien dit egter die geval is – en daar is genoeg rede uit die NT prentjies van Jesus om dit te glo, Jesus word bv. verskeie kere die Gestuurde van God genoem in al die evangelies (Matt. 10:40; Mark 9:37; Luk. 4:18; Joh. 6:29) – open dit vir ’n mens ’n prentjie op God wat tot groot gerustheid en vertroue lei.

Interessant genoeg lei die visioen wat Daniël in antwoord op sy gebede kry nie tot ’n verklaring daarvan soos die geval in die vorige visioene was nie.  Dit lei in hierdie geval tot die verkondiging van die toekoms van die Gods volk met ’n aantal perspektiewe op die eindtyd daarby gevoeg.

Let op hoe die man vir Daniël twee keer aanspreek as: “jy vir wie God liefhet”.  Werklik besondere woorde!  Die visioen kom ook “in antwoord op jou gebede”.  Die implikasie is dat Daniël die visioen nie sou gesien het as hy nie moeite gedoen het om te verstaan wat die Here besig was om te doen in verband met sy mense nie.

Genoeg rede om ons op ons knieë te hou?  Verseker!

Die visioen en boodskap kom teen die agtergrond van ’n geestelike stryd waaroor ons min inligting kry.  Dit word eintlik net vertel uit die hoek van die leiers van die stryd, die engele, sowel as dié man.  Wat hulle egter doen, hoe die konflik gevoer word en presies hoe dit ’n invloed op die aarde in die uitspeel van politieke werklikhede het, word nie in detail uitgespel nie, behalwe dat hierdie man bv. vir Darius die Mediër “bemoedig en beskerm het” (11:1).  Die feit dat daar ’n stryd is en dat dit ’n invloed het, selfs in die toekoms (die engel van Griekeland sal kom as die stryd teen die engel van Persië klaar is) is duidelik.  Oor die hoe daarvan word egter min gesê.

Die boodskap wat die man vir Daniël gee, kom uit die Boek van die Waarheid.  Dit herinner aan die ander boeke van God, die boek waarin Dawid (gelowiges) se lewensdae opgeskryf is (Ps. 139:16), die boek waarin Dawid (gelowiges) se trane opgeskryf is (Ps. 56:9), die boek waarin ons dade opgeteken is (Open 20:12), sowel as die boek van die lewe waarin gelowiges se name opgeskryf is (Ps. 69:29; Fil. 4:3; Open 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27 – vgl. ook die gedenkboek van Mal. 3:16 waarin ook die name opgeskryf is van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam).

Hoofstuk 11-12 gaan die inhoud van dié boek weergee, wat ons môre gaan lees.

Daniël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Amen, dankie Chris vir jou uitstekende werk in die Here. Ons geniet jou werk, mag Abba Vader jou absoluut seen. Baie dankie.
    Pastoor Fanie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: